SAGARIA 12:10-14
SAGARIA 12:10-14 Bybel vir almal (ABA)
Maar Ek sal die nageslag van koning Dawid en die mense van Jerusalem laat jammer word oor wat hulle gedoen het. Hulle sal na My toe opkyk en bid. Hulle sal huil en treur oor die man wat hulle doodgesteek het met 'n spies. Hulle sal oor hom treur en huil soos iemand wat treur oor sy enigste kind wat dood is. Hulle sal huil oor hom soos iemand wat huil oor sy oudste kind wat dood is. “Daardie dag sal die mense in Jerusalem so baie treur soos die mense in die Megiddo-vallei treur oor die afgod Hadad-Rimmon. Al die mense in die land sal treur. Elke familie sal treur, al die mans saam, en al die vroue saam. Die nageslag van Dawid sal treur, ook die nageslag van Natan, die nageslag van Levi, die nageslag van Simeï, en al die ander families sal saam treur.”
SAGARIA 12:10-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos 'n mens rouklaag oor 'n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos 'n mens bitterlik ween oor 'n eersgebore kind. In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem, soos die rouklag van Hadad-Rimmon in die laagte van Megíddo. En die land sal rouklaag by geslagte, elke geslag afsonderlik; die geslag van die huis van Dawid afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik; die geslag van die huis van Natan afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik; die geslag van die huis van Levi afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik; die geslag van Símeï afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik. Al die ander geslagte — elke geslag afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik.
SAGARIA 12:10-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maar oor die koningshuis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem bring Ek 'n gees van welwillendheid en van berou: hulle sal na hom kyk vir wie hulle doodgesteek het en hulle sal oor hom treur soos 'n mens treur oor 'n enigste kind, hulle sal oor hom huil soos 'n mens oor 'n oudste seun huil. Daardie dag sal daar in Jerusalem meer getreur word as wat daar oor Hadad-Rimmon getreur is in die Megiddovlakte. Die land sal treur, die mans in elke familie afsonderlik, en hulle vrouens afsonderlik: die familie van Dawid en hulle vrouens, die familie van Natan en hulle vrouens, die familie van Levi en hulle vrouens, die familie van Simi en hulle vrouens, en al die ander families, die mans afsonderlik en hulle vrouens afsonderlik.
SAGARIA 12:10-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek 'n gees van genade en 'n gesindheid van smeekgebede uitstort. En hulle sal kyk na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor hom rou soos 'n mens rou oor 'n enigste seun, en hulle sal bitterlik huil soos 'n mens huil oor 'n eersgebore kind. “Op daardie dag sal die rouseremonie in Jerusalem net so groot wees soos die rouseremonie oor Hadad-Rimmon in die Megiddovlakte. Die land sal treur, elke familiegroep op sy eie; die familiegroep van die huis van Dawid op sy eie, en die vroue op hulle eie; die familiegroep van die huis van Natan op sy eie, en die vroue op hulle eie; die familiegroep van die huis van Levi op sy eie, en die vroue op hulle eie; die familiegroep van Simi op sy eie, en hulle vroue op hulle eie; en al die oorblywende familiegroepe, elkeen van hulle op sy eie, en die vroue op hulle eie.
SAGARIA 12:10-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Ek sal oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem uitgiet die gees van genade en smekinge; en hulle sal My aansien vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor hom treur soos 'n mens treur oor sy enigste seun, en sal bitterlik wees oor hom, soos een wat bitter is oor sy eersgeborene. In dié dag sal daar 'n groot rou wees in Jerusalem, soos die rou van Hadadrimmon in die dal van Megiddon. En die land sal treur, elke geslag afsonderlik; die geslag van die huis van Dawid afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik; die geslag van die huis van Natan afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik; Die geslag van die huis van Levi afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik; die geslag van Símeï afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik; Al die families wat oorgebly het, elke familie afsonderlik en hulle vroue afsonderlik.
SAGARIA 12:10-14 Die Boodskap (DB)
“Ek sal in hierdie tyd Dawid se kinders en hulle kinders en ook die inwoners van Jerusalem mense maak wat omgee vir ander mense. Ek sal hulle ook mense maak wat graag wil bid. Hulle sal dan weet dat Ek die een is wat hulle seergemaak het soos iemand wat hulle met ’n wapen gesteek het. Hulle sal vreeslik huil, soos mense wat huil oor hulle enigste kind of oudste seun wat dood is. “Die dag as hierdie dinge gebeur, sal hulle in Jerusalem net so erg huil soos die mense gehuil het oor Hadad-Rimmon op die vlakte van Megiddo. Oor die hele Israel sal die mense hartseer huil. Die families in Israel sal elkeen op sy eie treur. Dit sluit in die families van Dawid, Natan, Levi en Simeï, elkeen op sy eie. So sal al die ander families in Israel ook maak. Hulle sal almal treur en huil, die mans eenkant en die vroue in hulle groepe saam.”
SAGARIA 12:10-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Dan sal Ek ’n gees van genade en smeekgebede uitgiet op die familie van Dawid en die inwoners van Jerusalem. Hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het en hulle sal oor hom treur soos ’n mens treur oor ’n enigste seun. Hulle sal oor hom rou soos ’n mens rou oor ’n eersgebore seun wat gesterf het. Die hartseer en rou op dié dag in Jerusalem sal wees soos die gehuil van Hadad-Rimmon in die Megiddovlakte. “Die hele Israel sal treur, elke familie afsonderlik, met die mans en vroue in verskillende groepe. Die familie van Dawid sal saam met die familie van Natan treur, die familie van Levi en die familie van Simi. Elkeen van die families wat oorleef het, sal afsonderlik treur met die mans en vroue apart van mekaar.”