Sagaria 12

12
Vernuwing van Juda en Jerusalem
1'n Profesie. Die woord van die Here oor Israel.
Dit is die uitspraak van die Here, Hy wat die hemel oopgespan het en die fondamente van die aarde gelê het, wat die mens se gees in sy binneste gevorm het: 2“ Kyk, Ek gaan Jerusalem 'n bedwelmende beker wyn maak vir al die volke rondom. Dit sal ook oor Juda kom tydens die beleg van Jerusalem.
3“Op daardie dag maak Ek Jerusalem 'n swaar klip vir al die volke; elkeen wat dit probeer optel, sal homself ernstig beseer wanneer al die nasies van die aarde teen Jerusalem saamtrek.
4 “Op daardie dag,” is die uitspraak van die Here, “sal Ek elke perd met verwarring tref en sy ruiter met waansin. Oor die huis van Juda sal Ek egter my oë oophou, terwyl Ek elke perd van die volke met blindheid slaan. 5 Dan sal die stamhoofde van Juda vir hulleself sê: Die krag van die inwoners van Jerusalem lê by die Here hulle God, die Heerser oor alle magte.
6“Op daardie dag maak Ek die stamhoofde van Juda soos 'n bak met vuur tussen hout en soos 'n brandende fakkel tussen afgesnyde koringare. Hulle sal al die volke rondom verteer, na regs en na links, en Jerusalem sal bly net waar sy is, in Jerusalem. 7Die Here sal die tente van Juda eerste red, sodat die roem van die huis van Dawid en die roem van die inwoners van Jerusalem nie groter sal wees as dié van Juda nie.
8“ Op daardie dag sal die Here die inwoners van Jerusalem beskerm. Dié onder hulle wat struikel sal op daardie dag wees soos Dawid, en die huis van Dawid sal wees soos God, soos die •engel van die Here wat voor hulle uitgaan.
9“ Op daardie dag sal Ek my beywer om al die nasies te vernietig wat teen Jerusalem optrek. 10 Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek 'n gees van genade en 'n gesindheid van smeekgebede uitstort. En hulle sal kyk na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor hom rou soos 'n mens rou oor 'n enigste seun, en hulle sal bitterlik huil soos 'n mens huil oor 'n eersgebore kind.
11“Op daardie dag sal die rouseremonie in Jerusalem net so groot wees soos die rouseremonie oor Hadad-Rimmon in die Megiddovlakte. 12Die land sal treur, elke familiegroep op sy eie; die familiegroep van die huis van Dawid op sy eie, en die vroue op hulle eie; die familiegroep van die huis van Natan op sy eie, en die vroue op hulle eie; 13die familiegroep van die huis van Levi op sy eie, en die vroue op hulle eie; die familiegroep van Simi op sy eie, en hulle vroue op hulle eie; 14en al die oorblywende familiegroepe, elkeen van hulle op sy eie, en die vroue op hulle eie.

Tans Gekies:

Sagaria 12: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid