RUT 4:7-10 - Compare All Versions

RUT 4:7-10 ABA (Bybel vir almal)

Daardie tyd, wanneer iemand nie 'n familielid kon help nie, dan het hy sy sandaal uitgetrek en dit vir die ander persoon gegee. Wanneer 'n man 'n stuk grond geruil het by iemand, dan het hy ook sy sandaal vir die ander man gegee. Dan het al die Israeliete dit geweet. Die man het vir Boas gesê: “Jý moet die grond koop,” en hy het sy sandaal uitgetrek. Toe sê Boas vir die leiers en vir almal wat daar was: “Julle is vandag die getuies dat ek by Naomi alles koop wat aan Elimelek en aan Maglon en Kiljon behoort het. Ek neem ook die Moabitiese vrou Rut, die vrou van Maglon. Ek sal met haar trou, en as sy 'n seun kry, dan sal hy eendag die grond kry. So sal die naam van haar oorlede man nie verdwyn uit sy familie en uit die stad nie. Julle is vandag die getuies.”

RUT 4:7-10 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En dít was vroeër in Israel die gebruik by lossing en by ruiling om enige saak van krag te maak: die een trek sy skoen uit en gee dit aan die ander; dit was dan die bekragtiging in Israel. Daarom het die losser vir Boas gesê: Koop dit vir jou; en hy het sy skoen uitgetrek. Toe sê Boas aan die oudstes en al die mense: Julle is vandag getuies dat ek alles wat aan Eliméleg en alles wat aan Giljon en Maglon behoort het, uit die hand van Naómi koop. En ook Rut, die Moabitiese, die vrou van Maglon, verwerf ek vir my as vrou om die naam van die dode oor sy erfdeel in stand te hou, sodat die naam van die dode onder sy broers en uit die poort van sy woonplek nie uitgeroei word nie. Julle is vandag getuies.

RUT 4:7-10 AFR83 (Afrikaans 1983)

In Israel was dit gebruiklik by die lossingsprosedure of by die ruil van enige eiendom dat die een party 'n skoen uittrek en aan die ander party gee. Dit was die manier waarop die bekragtiging van 'n transaksie in Israel plaasgevind het. Die losser sê toe vir Boas: “Jy kan dit maar koop,” en die losser het sy skoen uitgetrek. Hierop sê Boas vir die leiers en almal teenwoordig: “Julle is vandag getuies dat ek alles wat aan Elimelek en Kiljon en Maglon behoort het, van Naomi gekoop het en dat ek ook die Moabitiese vrou Rut, die weduwee van Maglon, vir my as vrou gekry het. So sal die grond in die oorledene se familie bly en sy nagedagtenis nie vergeet word in die volkslewe nie. Ja, julle is vandag getuies.”

RUT 4:7-10 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Wanneer dit gegaan het oor lossingsreg en ruiltransaksies, was dít vroeër in Israel die gebruik om enige saak te bevestig: 'n Persoon moes sy sandaal uittrek en dit vir die ander party gee. Dit het dan in Israel as bekragtiging van die saak gegeld. Toe die losser vir Boas sê: “Neem die lossingsreg vir jou oor,” het hy sy sandaal uitgetrek. Daarop sê Boas vir die oudstes en al die mense: “Vandag is julle getuies dat ek alles wat aan Elimeleg en alles wat aan Kiljon en Maglon behoort, by Naomi oorneem. En ook Rut, die Moabiet, die vrou van Maglon, neem ek vir my oor as vrou om die naam van die oorledenes oor hulle familiebesit te laat voortleef, en sodat die naam van die oorledenes nie onder die familie en uit die poort van sy woonplek verdwyn nie. Julle is vandag getuies daarvan.”

RUT 4:7-10 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En dit was vroeër die manier in Israel met betrekking tot verlossing en met betrekking tot verandering, om alles te bevestig; 'n man het sy skoen uitgetrek en dit aan sy naaste gegee; en dit was 'n getuienis in Israel. Daarom sê die losser vir Boas: Koop dit vir jou. Daarom trek hy sy skoen uit. Toe sê Boas aan die oudstes en aan die hele volk: Vandag is julle getuies dat ek alles wat aan Elimeleg en alles wat aan Kiljon en Maglon behoort het, uit die hand van Naomi gekoop het. Verder het ek Rut, die Moabitiese vrou, die vrou van Maglon, gekoop om my vrou te wees, om die naam van die dooies op sy erfdeel op te wek, sodat die naam van die dooies nie uitgeroei word onder sy broers en uit die poort van sy plek: julle is vandag getuies.

RUT 4:7-10 DB (Die Boodskap)

In daardie tyd was dit die gebruik in Israel om jou skoen uit te trek en dit aan die ander persoon te gee. Dit was ’n simboliese manier om te sê dat jy afstand doen van jou reg om die grond te koop of te ruil. Daarom, toe die ander familielid vir Boas sê: “Jy kan dit maar koop,” het hy sy skoen uitgetrek en dit vir Boas gegee. Toe sê Boas vir die leiers en die ander mense wat daar rondgestaan het: “Julle is vandag getuies dat ek al Elimeleg en sy twee seuns, Kiljon en Maglon, se eiendom van Naomi gekoop het. Daarmee saam word Maglon se weduwee, Rut, my vrou. So kan sy ’n seun kry wat ten minste sy pa se familienaam kan laat voortleef. Hy kan dan ook die familie se grond erf en hier in sy tuisdorp bly. Daarvan is julle vandag getuies.”

RUT 4:7-10 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Destyds was dit die gebruik in Israel by die lossingproses of die oordrag van eiendomsregte dat die transaksie soos volg bevestig word: Die een wat sy regte aan iemand anders oordra, moet ook sy skoen uittrek en dit vir die ander party gee. Dit het die transaksie bekragtig. Die ander losser trek toe sy skoen uit en sê vir Boas: “Jy kan dit koop.” Toe sê Boas vir die leiers en die mense om hulle: “Julle is getuie dat ek vandag Elimelek, Kiljon en Maglon se eiendom by Naomi loskoop. “Saam met die landerye verkry ek ook vir Rut, die Moabitiese weduwee van Maglon, as my vrou. Op hierdie manier sal die grond in die naam van die familie bly. So sal die naam van die gestorwene nie onder sy broers en uit die poort van sy woonplek uitgewis word nie. Julle is vandag almal getuie daarvan.”