RUT 3:6-9 - Compare All Versions
RUT 3:6-9 AFR83 (Afrikaans 1983)
Sy het na die dorsvloer toe gegaan en alles gedoen wat haar skoonma vir haar gesê het. Nadat Boas geëet en gedrink het, was hy baie vrolik en het hy langs die mied gaan lê. Rut het toe stilletjies gekom, sy voete oopgemaak en by sy voete ingekruip. Toe hy in die middel van die nag wakker skrik en omdraai, was hy baie verbaas toe hy 'n vrou by sy voete gewaar. Hy vra toe vir haar: “Wie is jy?” en sy antwoord: “Ek is Rut, ek is van u afhanklik, en u is my losser; neem my nou onder u beskerming.”
RUT 3:6-9 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Daarop het sy afgegaan na die vloer en gedoen net soos haar skoonmoeder haar beveel het. Nadat Boas geëet en gedrink het, en sy hart vrolik was, en hy gaan slaap het by die ent van die hoop, het sy stilletjies gekom en sy voetenent oopgemaak en gaan lê. En die man het teen middernag geskrik en vooroor gebuig en — daar lê 'n vrou aan sy voetenent. En hy vra: Wie is jy? Toe antwoord sy: Ek is Rut, u dienares; brei dan u vleuel oor u dienares uit, want u is die losser.
RUT 3:6-9 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Sy het dié nag na die dorsvloer toe gegaan en gemaak soos haar skoonma gesê het. Nadat Boas klaar geëet het, was hy baie vrolik. Hy het langs die hoop graan gaan lê om te slaap. Rut het stilletjies nadergekom, sy voete oopgemaak en daar gaan lê. Omtrent middernag skrik Boas wakker en draai om. Groot was sy verbasing toe hy agterkom dat ’n vrou daar by sy voete lê. “Wie is jy?” vra hy. “Ek is Rut, u diensmeisie,” antwoord sy. “Ontferm u tog oor my, want u is my losser.”
RUT 3:6-9 DB (Die Boodskap)
Rut is toe dorsvloer toe en het gedoen wat Naomi gesê het. Toe Boas klaar geëet en gedrink het, was hy baie opgeruimd en vrolik. ’n Rukkie later het hy langs die hoop gars gaan lê en aan die slaap geraak. Rut het stilletjies soontoe gegaan, die kombers opgelig en by sy voete gaan lê. Gedurende die nag het Boas wakker geword. Toe hy wou omdraai, was hy verbaas om te sien dat daar ’n vrou by sy voete lê. “Wie is jy?” wou hy weet. “Ek is Rut,” antwoord sy toe. “Omdat u familie van my skoonpa is, is u ook verplig om my te help versorg. Trou met my, asseblief.”
RUT 3:6-9 ABA (Bybel vir almal)
Rut het na die dorsvloer gegaan en sy het alles gedoen wat haar skoonma gesê het. Boas het lekker geëet en gedrink en hy het gelukkig gevoel. Hy het gaan lê en slaap langs die hoop gars. Rut het saggies gekom en sy kombers opgetel en by sy voete gaan lê. Toe Boas in die middel van die nag wakker word, het hy gesien daar lê 'n vrou by sy voete. Hy het gevra: “Wie is jy?” Rut het gesê: “Ek is Rut, en jy moet vir my sorg, want jy is 'n losser.”
RUT 3:6-9 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Sy het na die dorsvloer toe afgegaan en alles gedoen wat haar skoonmoeder haar voorgesê het. Nadat Boas geëet en gedrink het, en sy hart vrolik was, het hy aan die kant van die hoop graan gaan lê. Sy het stilletjies nader gegaan, sy voete oopgemaak en daar gaan lê. In die middel van die nag skrik Boas wakker. Iets raak aan hom, en sowaar, daar lê 'n vrou by sy voete! “Wie is jy?” vra hy. Sy antwoord: “Ek is Rut, u slavin. Gooi die soom van u kleed oor u slavin, want u is die losser. ”
RUT 3:6-9 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En sy het afgegaan na die vloer en gedoen net soos haar skoonmoeder haar beveel het. En toe Boas geëet en gedrink het en sy hart vrolik was, het hy gaan lê by die punt van die hoop koring; en sy het sag gekom en sy voete oopgemaak en haar neergelê. En teen middernag het die man bang geword en hom omgedraai, en daar lê 'n vrou aan sy voete. En hy sê: Wie is jy? En sy antwoord: Ek is u dienares Rut; sprei dan u rok oor u dienares; want jy is 'n naaste bloedverwant.