RUT 1:1-21

RUT 1:1-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN in die dae toe die rigters geregeer het, was daar hongersnood in die land; daarom het 'n man uit Betlehem-Juda weggetrek om as vreemdeling te vertoef in die veld van Moab, hy en sy vrou en sy twee seuns. En die naam van die man was Eliméleg en die naam van sy vrou Naómi en die naam van sy twee seuns Maglon en Giljon, Efratiete, uit Betlehem-Juda, en hulle het gekom in die veld van Moab en daar gebly. En Eliméleg, die man van Naómi, het gesterwe, maar sy met haar twee seuns het oorgebly. En hulle het vir hulle Moabitiese vroue geneem; die naam van die een was Orpa en die naam van die ander Rut; en hulle het daar omtrent tien jaar gebly. En toe Maglon en Giljon altwee sterwe, en die vrou sonder haar twee seuns en haar man oorbly, het sy haar gereedgemaak met haar skoondogters en teruggegaan uit die veld van Moab, want sy het in die veld van Moab gehoor dat die HERE op sy volk ag gegee het deur aan hulle brood te gee. So het sy dan haar woonplek verlaat en haar twee skoondogters saam met haar. Maar toe hulle op pad was om na die land Juda terug te gaan, sê Naómi aan haar twee skoondogters: Gaan heen, draai om, elkeen na die huis van haar moeder; mag die HERE aan julle guns bewys soos julle aan die dode en aan my bewys het. Mag die HERE gee dat julle 'n rusplek vind, elkeen in die huis van haar man; en sy het hulle gesoen. Maar hulle het hul stem verhef en geween en aan haar gesê: Nee, ons wil saam met u teruggaan na u volk. Maar Naómi sê: Draai om, my dogters! Waarom sou julle met my saamgaan? Het ek nog seuns in my liggaam, dat hulle julle mans kan word? Draai om, my dogters, gaan heen; want ek is te oud om 'n man te hê. Al sou ek sê: Ek het hoop! en nog vannag aan 'n man mag behoort en ook seuns baar — sou julle in dié geval kan wag totdat hulle groot geword het? Sou julle in dié geval julleself opsluit om nie aan 'n man te behoort nie? Ag nee, my dogters, want dit is vir my baie bitterder as vir julle dat die hand van die HERE teen my uitgestrek is. Toe verhef hulle hul stem en ween weer; en Orpa het haar skoonmoeder gesoen, maar Rut het haar aangehang. Daarop sê sy: Kyk, jou skoonsuster het omgedraai na haar volk en na haar gode toe; draai om agter jou skoonsuster aan! Maar Rut sê: Moenie by my aandring dat ek u moet verlaat om agter u om te draai nie; want waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God. Waar u sterwe, sal ek sterwe en daar begrawe word! Mag die HERE so aan my doen en so daaraan toedoen — net die dood sal skeiding maak tussen my en u. Toe sy sien dat sy vas besluit het om met haar saam te gaan, het sy opgehou om met haar te spreek. En hulle twee het op pad gegaan totdat hulle in Betlehem gekom het. En toe hulle in Betlehem kom, het die hele stad oor hulle in opskudding geraak, en die vroue het gesê: Is dit Naómi? Toe antwoord sy hulle: Noem my nie Naómi nie: noem my Mara, want die Almagtige het my baie bitterheid aangedoen. Vol het ek weggetrek, maar leeg het die HERE my laat terugkom. Waarom sou julle my Naómi noem, terwyl die HERE teen my getuig het, en die Almagtige my kwaad aangedoen het?

RUT 1:1-21 Bybel vir almal (ABA)

Dit was in die tyd toe die leiers oor die Israeliete regeer het. Dit was baie droog in die land Juda, en die mense het niks gehad om te eet nie. 'n Man het weggegaan uit die stad Betlehem in die land Juda en hy het in die land Moab gaan woon. Hy was 'n vreemdeling in Moab. Die man se naam was Elimelek, en sy vrou se naam was Naomi, en sy twee seuns se name was Maglon en Kiljon. Hulle het van Efrat gekom, dit is van Betlehem in Juda. Hulle het in die land Moab gekom en daar gebly. Naomi se man Elimelek het gesterf, en sy en haar twee seuns het oorgebly. Die seuns het getrou met vroue wat Moabiete was. Die een vrou se naam was Orpa, en die ander vrou se naam was Rut. Naomi en haar twee seuns Maglon en Kiljon het omtrent tien jaar in die land Moab gewoon. Toe het haar seuns ook gesterf, en Naomi het alleen oorgebly. Haar man en haar seuns was dood. Toe hoor Naomi die Here was weer goed vir sy volk, Hy het vir hulle reën gegee, en daar was weer kos in hulle land. Sy en haar twee skoondogters het gereedgemaak om terug te gaan uit die land Moab. Sy het weggegaan van die plek waar sy was, en haar twee skoondogters was by haar. Hulle het begin loop om terug te gaan na die land Juda. Naomi het vir haar skoondogters gesê: “Julle moet teruggaan na julle ma's se huise. Ek bid dat die Here goed sal wees vir julle, soos julle goed was vir my oorlede seuns en vir my. Ek bid dat die Here weer vir julle elkeen 'n man sal gee in wie se huis julle veilig kan woon.” Naomi het hulle gesoen, maar toe begin hulle huil. Hulle het vir haar gesê: “Maar ons wil saam met jou gaan na jou mense toe.” Naomi het gesê: “Nee, my dogters, julle moet teruggaan. Hoekom wil julle saam met my gaan? Ek kan nie nog seuns kry wat julle mans kan word nie. Julle moet teruggaan, my dogters, julle moet gaan, want ek is te oud om weer te trou. En ook, as ek dink ek kan miskien nog kinders kry, en ek slaap vannag by 'n man en ek kry seuns, dan sal julle nie kan wag totdat hulle groot is nie. Julle sal wil trou. Nee, my dogters, die Here laat my swaarkry, die lewe is bitter vir my, meer bitter as vir julle.” Naomi se twee skoondogters het weer begin huil. Orpa het vir Naomi gegroet en sy het gegaan, maar Rut het styf vasgehou aan Naomi. Naomi het vir Rut gesê: “Kyk, jou skoonsuster het teruggegaan na haar mense toe en na haar god. Jy moet ook teruggaan, saam met haar.” Maar Rut het vir Naomi gesê: “Jy moenie aanhou sê dat ek jou moet los en moet teruggaan nie, want waar jy gaan, wil ek ook gaan, en waar jy gaan slaap, wil ek ook gaan slaap. Jou volk is ook my volk, en jou God is ook my God. Waar jy sterf, wil ek ook sterf, en daar moet die mense my begrawe. Die Here is my getuie. Net die dood sal ons twee skei van mekaar.” Naomi het toe geweet dat Rut vas besluit het om saam met haar te gaan, en sy het nie weer met Rut daaroor gepraat nie. Naomi en Rut het verder geloop totdat hulle in Betlehem gekom het. Almal in die stad was opgewonde. Die vroue het gevra: “Is dit regtig Naomi?” Maar Naomi het vir die mense gesê: “Julle moet my nie Naomi noem nie, julle moet my nou ‘Bitter’ noem, want die Almagtige God het my lewe vir my baie bitter gemaak. Ek het hier weggegaan met baie, maar die Here het my met niks laat terugkom. Die Here, die Almagtige God, het my laat swaarkry, Hy het dit sleg laat gaan met my.”

RUT 1:1-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

In die tyd van die leiers was daar op 'n keer hongersnood in die land, en 'n man met sy vrou en sy twee seuns het uit Betlehem in Juda weggetrek om 'n heenkome te soek in die gebied van Moab. Die man was Elimelek, sy vrou Naomi, en sy twee seuns Maglon en Kiljon. Hulle was afkomstig uit Efrata in Betlehem in Juda. Hulle het in Moab aangekom en hulle daar gevestig. Toe Naomi se man, Elimelek, sterf, het sy en haar twee seuns alleen agtergebly. Die twee seuns het later getrou met die Moabitiese meisies Orpa en Rut. Naomi en haar seuns het omtrent tien jaar in Moab gebly. Toe haar twee seuns Maglon en Kiljon ook sterf, het sy alleen agtergebly sonder haar seuns en sonder haar man. Toe sy verneem dat die Here vir sy volk uitkoms gebring het deur vir hulle 'n goeie oes te gee, het sy en haar skoondogters klaargemaak om van Moab af terug te gaan. Sy en haar skoondogters het saam vertrek uit die plek waar hulle gebly het, op pad na Juda toe. Toe sê Naomi vir haar twee skoondogters: “Julle moet liewer teruggaan na julle ouerhuise toe. Mag die Here sy liefde aan julle bewys, soos julle aan die oorledenes en aan my liefde bewys het. Mag die Here vir julle elkeen weer 'n goeie man en 'n heenkome gee.” Toe sy van hulle wou afskeid neem, het hulle begin huil en vir haar gesê: “Nee, ons wil met Ma saamgaan na Ma se volk toe.” Maar Naomi het weer vir hulle gesê: “Gaan terug, my dogters. Waarom sou julle saam met my wou kom? Het ek nog enige hoop om seuns in die wêreld te bring, sodat julle met hulle sou kon trou? Gaan asseblief maar terug, my dogters, ek is te oud om weer te trou; selfs al sou ek sê daar is nog hoop vir my, al sou ek vannag by 'n man slaap, al sou ek nog seuns in die wêreld bring, sou julle kon wag tot hulle groot is? Sou julle julle ondertussen daarvan kon weerhou om te trou? Dit is onmoontlik, my dogters. Nee, my lot is swaarder as julle s'n: die Here het teen my gedraai.” Toe het Naomi se skoondogters weer begin huil, en Orpa het van haar afskeid geneem, maar Rut het by haar gebly. Toe sê Naomi: “Kyk, jou skoonsuster het teruggegaan na haar volk en na haar gode toe. Gaan jy nou ook saam met haar terug.” Maar Rut het geantwoord: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê 'n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei.” Naomi het besef dat Rut vasbeslote was om saam met haar te gaan en sy het opgehou om haar te probeer ompraat. Hulle twee is toe saam na Betlehem toe. Met hulle aankoms in Betlehem was daar groot opgewondenheid in die stad, en die vrouens het gesê: “Maar dis mos Naomi!” Hierop het Naomi vir hulle gesê: “Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara , want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak. My lewe was vol toe ek hier weg is, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom noem julle my nog Naomi? Die Here het dan teen my gedraai, die Almagtige het 'n ramp oor my gebring.”

RUT 1:1-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In die jare toe die rigters nog regeer het, was daar hongersnood in die land. 'n Man van Betlehem in Juda het tydelik in die gebied van Moab gaan bly, hy en sy vrou en sy twee seuns. Die man se naam was Elimeleg, sy vrou se naam was Naomi en sy twee seuns se name was Maglon en Kiljon. Hulle was van die Efrata-familie uit Betlehem in Juda. Hulle het in die gebied van Moab aangekom. Terwyl hulle daar was, is Naomi se man Elimeleg dood, en is sy en haar twee seuns agtergelaat. Hulle het Moabitiese vroue geneem. Die een se naam was Orpa en die ander een se naam was Rut. Hulle het sowat tien jaar daar gebly, toe is ook die twee seuns, Maglon en Kiljon, dood. Die vrou het alleen agtergebly, sonder haar twee kinders en sonder haar man. Sy het toe gereedgemaak om met haar skoondogters terug te keer uit die gebied van Moab, want sy het daar in die gebied van Moab gehoor dat die HERE na sy volk omgesien het deur vir hulle brood te gee. Sy is toe weg uit die plek waar sy gewoon het, en haar twee skoondogters saam met haar. Op pad terug na die land Juda sê Naomi vir haar twee skoondogters: “Julle moet liewer teruggaan, elkeen na haar ma se huis. Mag die HERE julle goed behandel soos wat julle die oorledenes en my goed behandel het. Mag die HERE gee dat julle elkeen 'n tuiste vind in die huis van 'n man.” Toe het sy hulle gesoen, maar hulle het hardop begin huil en vir haar gesê: “Nee, ons wil saam met u teruggaan na u volk!” Maar Naomi sê: “Draai om, my dogters! Om watter rede sal julle saam met my gaan? Is daar nog seuns in my liggaam wat vir julle mans kan word? Draai om, my dogters! Gaan terug, want ek is te oud om weer te trou. Al sou ek dink daar is nog hoop vir my, en selfs al sou ek reeds vannag 'n man hê, selfs aan seuns geboorte gee, sal julle vir hulle kan wag totdat hulle groot is? Sal julle om daardie rede julleself daarvan weerhou om te trou? Nee, my dogters, dit is vir my baie swaarder as vir julle. Die HERE het immers sy hand teen my uitgestrek. ” Hulle het toe weer hardop gehuil. Orpa het haar skoonmoeder gesoen, maar Rut het aan haar vasgeklou. Naomi sê vir haar: “Kyk, jou skoonsuster het omgedraai na haar volk en na haar gode toe. Gaan terug, agter jou skoonsuster aan.” Maar Rut het geantwoord: “Moet my nie probeer dwing om u te verlaat nie of om van u af weg te gaan nie, want waar u gaan, sal ek gaan, en waar u bly, sal ek bly. U volk is my volk, u God is my God. Waar u sterf, sal ek sterf, en daar sal ek begrawe word. “Die HERE kan my maar swaar straf as ek nie woord hou nie: Net die dood sal ons skei.” Toe Naomi sien dat sy vasbeslote is om saam met haar te gaan, het sy opgehou om haar te probeer ompraat. So het die twee van hulle toe aangestap tot hulle by Betlehem aangekom het. Toe hulle in Betlehem aankom, was die hele dorp in rep en roer oor hulle. Die vroue sê vir mekaar: “Is dit werklik Naomi?” Sy het vir hulle gesê: “Moet my nie Naomi noem nie, noem my Mara, want die Almagtige het dit vir my baie bitter gemaak. Met 'n vol lewe is ek hier weg, maar die HERE het my leeg laat terugkom. Waarom my Naomi noem terwyl die HERE my teenstander geword het en die Almagtige my kwaad aangedoen het?”

RUT 1:1-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En dit het gebeur in die dae toe die regters beslis het, dat daar hongersnood in die land was. En 'n sekere man van Betlehem-Juda het gegaan om as vreemdeling in die land Moab te vertoef, hy en sy vrou en sy twee seuns. En die naam van die man was Elimeleg, en die naam van sy vrou Naomi, en die naam van sy twee seuns Maglon en Kiljon, Efratiete van Betlehem-Juda. En hulle het in die land Moab gekom en daar gebly. En Elimeleg, die man van Naomi, het gesterwe; en sy het oorgebly, en haar twee seuns. En hulle het vir hulle vroue geneem uit die vroue van Moab; die naam van die een was Orpa en die naam van die ander Rut; en hulle het daar omtrent tien jaar lank gewoon. Mahlon en Kiljon het ook albei gesterf; en die vrou het oorgebly van haar twee seuns en haar man. Toe het sy haar klaargemaak met haar skoondogters om terug te keer uit die land van Moab; want sy het in die land van Moab gehoor dat die HERE sy volk besoek het deur aan hulle brood te gee. Daarom het sy uitgegaan uit die plek waar sy was, en haar twee skoondogters saam met haar; en hulle het op pad gegaan om terug te keer na die land Juda. Toe sê Naomi vir haar twee skoondogters: Gaan, gaan terug, elkeen na haar moeder se huis; die HERE bewys julle goed soos julle ook aan die dooies en aan my gedoen het. Die HERE gee julle dat julle rus kan vind, elkeen van julle in die huis van haar man. Toe soen sy hulle; en hulle het hul stem verhef en geween. En hulle sê vir haar: Ons sal sekerlik saam met jou na jou volk terugkeer. En Naomi sê: Keer terug, my dogters, waarom sal julle saam met my gaan? is daar nog seuns in my skoot, dat hulle jou mans kan wees? Draai om, my dogters, gaan weg; want ek is te oud om 'n man te hê. As ek sou sê: Ek het hoop, as ek ook vannag 'n man sou hê en ook seuns sou baar; Sou julle vir hulle vertoef totdat hulle groot is? sou jy vir hulle bly om mans te hê? nee, my dogters; want dit is vir my baie bedroef om julle ontwil dat die hand van die HERE teen my uitgegaan het. En hulle het hul stem verhef en weer geween, en Orpa het haar skoonmoeder gesoen; maar Rut het haar aangehou. En sy sê: Kyk, jou skoonsuster het teruggegaan na haar volk en na haar gode; keer terug agter jou skoonsuster aan. En Rut sê: Moet my nie smeek om jou te verlaat of om terug te keer om agter jou aan te volg nie; want waar jy gaan, sal ek gaan; en waar jy vernag, sal Ek vernag; jou volk sal my volk wees en jou God my God. Waar jy sterwe, sal ek sterwe, en daar sal ek begrawe word; so sal die HERE aan my doen, en so meer, as die dood jou en my net skei. Toe sy sien dat sy vasbeslote was om saam met haar te gaan, het sy opgehou om met haar te praat. Hulle twee het toe gegaan totdat hulle in Betlehem gekom het. En toe hulle in Betlehem aankom, het die hele stad in beroering gekom en gesê: Is dit Naomi? En sy sê vir hulle: Noem my nie Naomi nie, noem my Mara, want die Almagtige het my baie bitterlik gehandel. Ek het vol uitgegaan, en die HERE het my leeg teruggebring; waarom noem julle my dan Naomi, aangesien die HERE teen my getuig en die Almagtige my verdruk het?

RUT 1:1-21 Die Boodskap (DB)

Baie lank terug, in die tyd van die rigters voor Israel nog ’n koning gehad het, was daar hongersnood in die land. In dié tyd was daar ’n man met die naam Elimeleg. Hy het uit die gebied Efrata in die omgewing van Betlehem in Juda gekom. Hy het sy vrou, Naomi, en hulle twee seuns, Maglon en Kiljon, gevat en ’n tyd lank in die land Moab gaan bly. Terwyl hulle daar gebly het, is Elimeleg dood. Naomi en haar twee seuns het toe alleen in die vreemde land agtergebly. Die twee seuns het met twee Moabitiese meisies, Orpa en Rut, getrou. Omtrent tien jaar later is Maglon en Kiljon ook dood. Naomi was toe sonder enige familie van haar eie in die land Moab. ’n Rukkie later het Naomi, wat nog steeds in Moab gebly het, gehoor dat die Here dit weer beter laat gaan het in Juda en dat daar weer genoeg kos was. Sy en haar skoondogters besluit toe om terug te gaan na haar eie land. Op pad terug Juda toe sê Naomi vir haar skoondogters: “Gaan liewer terug na julle eie ouerhuise toe. Mag die Here julle met sy liefde versorg omdat julle so goed was vir my en julle mans. Ek bid dat die Here vir julle elkeen weer ’n goeie huweliksmaat sal gee.” Toe sy hulle groet, het hulle begin huil en vir haar gesê: “Nee, ons gaan saam met Ma terug na Ma se mense toe.” Toe vra Naomi vir hulle: “Hoekom wil julle saam met my gaan? Ek het tog nie nog seuns met wie julle kan trou nie! Gaan eerder huis toe, ek is te oud om weer te trou. In elk geval, wat sou dit julle help? Al trou ek vandag en bring weer seuns in die wêreld, wat dan? Gaan julle wag tot hulle oud genoeg is om mee te trou? Gaan julle die kans om weer ’n goeie man te kry by julle laat verbygaan? Nee, my dogters, dis nie nodig nie. Dis erg genoeg dat ek voel die Here het die rug vir my gedraai. Moenie dit vir my en vir julleself nog swaarder maak nie.” Die twee skoondogters was baie hartseer hieroor. Orpa het toe haar skoonma gegroet en teruggegaan huis toe. Rut het egter haar skoonma styf vasgedruk en geweier om om te draai. Naomi het haar weer probeer oorreed om terug te gaan en vir haar gesê: “Jou skoonsuster is terug na haar eie mense toe waar sy weer haar eie geloof kan uitleef. Doen jy dit ook nou.” Dit is toe dat Rut vir haar sê: “Moenie my vra om om te draai en Ma alleen te los nie, ek sal dit nie doen nie. Ek gaan saam met Ma, waar Ma ook al heen gaan. Daar waar Ma besluit om te bly, sal ek saam met Ma bly. Ma se mense aanvaar ek as my eie mense, en die God wat Ma dien, is ook die God wat ek wil dien. Daar waar Ma eendag doodgaan, wil ek ook doodgaan en daar begrawe word. Mag die Here iets slegs aan my doen as iets anders as die dood ons twee sal skei.” Toe Naomi sien dat Rut vasbeslote is om saam met haar te gaan, het sy opgehou om haar te probeer ompraat om terug te draai. Hulle twee is toe saam Betlehem toe. Toe hulle daar kom, was die dorp in rep en roer en die vroue het verbaas gesê: “Maar dis mos Naomi!” “Moenie my Naomi noem nie,” sê sy toe, “noem my eerder Mara (wat bitter beteken), want vandat ons hier weg is tot nou toe het dit bitter swaar met my gegaan. Dit voel vir my of die Almagtige met al sy gewig op my kom druk het en ek nie meer een tree vorentoe kan gee nie. Toe ek hier weg is, was my lewe nog vol. Ek het toe ’n man en kinders gehad, maar die Here het my dolleeg laat terugkom huis toe, sonder my gesin. Hoekom sou julle my dan nog Naomi wil noem? Dit voel vir my of selfs die Here die rug vir my gedraai het; asof die Here vir wie niks onmoontlik is nie, besluit het ek moet maar self verder regkom.”

RUT 1:1-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

In die tyd toe die rigters in Israel opgetree het, het ’n man uit Betlehem in Juda uit die land weggetrek omdat daar ’n swaar hongersnood in die land was. Hy en sy vrou en twee seuns het in die land Moab gaan woon. Die man se naam was Elimelek en sy vrou was Naomi. Hulle twee seuns se name was Maglon en Kiljon. Hulle was Efratiete uit Betlehem in die land Juda. Hulle het in Moab aangekom. Terwyl hulle daar gewoon het, is Elimelek dood en het Naomi met haar twee seuns agtergebly. Albei seuns het met Moabitiese vroue getrou. Die een se naam was Orpa en die ander een s’n was Rut. Hulle het ongeveer tien jaar lank daar gebly. In hierdie tyd is Maglon en Kiljon ook dood. Naomi het alleen agtergebly, sonder ’n man en sonder seuns. Naomi het daar in Moab gehoor dat die HERE sy volk in Juda met goeie oeste geseën het. Toe het Naomi en haar twee skoondogters klaargemaak om uit Moab na Juda toe terug te trek. Sy en haar skoondogters het uit die plek waar sy gebly het, vertrek op pad terug na Juda toe. Naomi sê toe vir haar twee skoondogters: “Moenie verder saam met my gaan nie. Gaan liewer terug na julle ouerhuise toe. Mag die HERE julle beloon vir die liefde wat julle aan my en my seuns betoon het. Mag die HERE weer vir julle elkeen ’n man en ’n huis gee.” Toe sy van hulle afskeid neem, het hulle in trane uitgebars. Die skoondogters sê toe: “Nee, ons wil saam met u teruggaan na u mense toe.” Maar Naomi antwoord: “Gaan tog terug, my dogters. Hoekom sou julle saam met my gaan? Ek kan tog nie meer seuns in die wêreld bring wat kan grootword om julle mans te wees nie. Nee, my dogters, gaan eerder terug na julle ouerhuise toe, want ek is te oud om weer te trou. Selfs al sou dit moontlik wees en ek vanaand by ’n man slaap en geboorte gee aan kinders, sal julle kan wag totdat hulle groot is? Sal julle tot dan toe ongetroud kan bly? Natuurlik nie, my dogters! Dit is vir my baie swaarder as vir julle, want die HERE het baie swaarkry oor my laat kom.” Die skoondogters het weer begin huil. Orpa het van haar skoonma afskeid geneem, maar Rut wou nie gaan nie. “Kyk,” sê Naomi vir haar, “jou skoonsuster het teruggegaan na haar mense en na haar gode toe. Gaan jy nou ook maar saam met haar terug.” Maar Rut antwoord: “Moenie my probeer oorreed om van Ma af weg te gaan nie. Waarheen u ook al gaan, sal ek gaan. Waar u gaan woon, sal ek ook woon. Ma se mense is ook my mense. U God is ook my God. Waar u doodgaan, sal ek ook doodgaan en daar begrawe word. Mag die HERE dit so laat gebeur. Net die dood sal ons skei.” Naomi het besef dat Rut vas besluit het om saam met haar te gaan. Daarom het sy opgehou om haar te probeer oorreed. Die twee het toe hulle reis voortgesit na Betlehem toe. Toe hulle in Betlehem aankom, was daar ’n opskudding in die dorp oor hulle aankoms. “Is dit dan nie Naomi nie?” het die vroue gevra. “Moet my nie meer Naomi noem nie,” sê sy vir hulle. “Noem my nou liewer Mara, want die Almagtige het my lewe bitter gemaak. Ek het vol hier weggegaan, maar die HERE het my leeg laat terugkom. Hoekom sal julle my nog Naomi noem as die HERE teen my gedraai het en die Almagtige soveel ellende oor my laat kom het?”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid