Rut 1:1-21

Rut 1:1-21 AFR20

In die jare toe die rigters nog regeer het, was daar hongersnood in die land. 'n Man van Betlehem in Juda het tydelik in die gebied van Moab gaan bly, hy en sy vrou en sy twee seuns. Die man se naam was Elimeleg, sy vrou se naam was Naomi en sy twee seuns se name was Maglon en Kiljon. Hulle was van die Efrata-familie uit Betlehem in Juda. Hulle het in die gebied van Moab aangekom. Terwyl hulle daar was, is Naomi se man Elimeleg dood, en is sy en haar twee seuns agtergelaat. Hulle het Moabitiese vroue geneem. Die een se naam was Orpa en die ander een se naam was Rut. Hulle het sowat tien jaar daar gebly, toe is ook die twee seuns, Maglon en Kiljon, dood. Die vrou het alleen agtergebly, sonder haar twee kinders en sonder haar man. Sy het toe gereedgemaak om met haar skoondogters terug te keer uit die gebied van Moab, want sy het daar in die gebied van Moab gehoor dat die HERE na sy volk omgesien het deur vir hulle brood te gee. Sy is toe weg uit die plek waar sy gewoon het, en haar twee skoondogters saam met haar. Op pad terug na die land Juda sê Naomi vir haar twee skoondogters: “Julle moet liewer teruggaan, elkeen na haar ma se huis. Mag die HERE julle goed behandel soos wat julle die oorledenes en my goed behandel het. Mag die HERE gee dat julle elkeen 'n tuiste vind in die huis van 'n man.” Toe het sy hulle gesoen, maar hulle het hardop begin huil en vir haar gesê: “Nee, ons wil saam met u teruggaan na u volk!” Maar Naomi sê: “Draai om, my dogters! Om watter rede sal julle saam met my gaan? Is daar nog seuns in my liggaam wat vir julle mans kan word? Draai om, my dogters! Gaan terug, want ek is te oud om weer te trou. Al sou ek dink daar is nog hoop vir my, en selfs al sou ek reeds vannag 'n man hê, selfs aan seuns geboorte gee, sal julle vir hulle kan wag totdat hulle groot is? Sal julle om daardie rede julleself daarvan weerhou om te trou? Nee, my dogters, dit is vir my baie swaarder as vir julle. Die HERE het immers sy hand teen my uitgestrek. ” Hulle het toe weer hardop gehuil. Orpa het haar skoonmoeder gesoen, maar Rut het aan haar vasgeklou. Naomi sê vir haar: “Kyk, jou skoonsuster het omgedraai na haar volk en na haar gode toe. Gaan terug, agter jou skoonsuster aan.” Maar Rut het geantwoord: “Moet my nie probeer dwing om u te verlaat nie of om van u af weg te gaan nie, want waar u gaan, sal ek gaan, en waar u bly, sal ek bly. U volk is my volk, u God is my God. Waar u sterf, sal ek sterf, en daar sal ek begrawe word. “Die HERE kan my maar swaar straf as ek nie woord hou nie: Net die dood sal ons skei.” Toe Naomi sien dat sy vasbeslote is om saam met haar te gaan, het sy opgehou om haar te probeer ompraat. So het die twee van hulle toe aangestap tot hulle by Betlehem aangekom het. Toe hulle in Betlehem aankom, was die hele dorp in rep en roer oor hulle. Die vroue sê vir mekaar: “Is dit werklik Naomi?” Sy het vir hulle gesê: “Moet my nie Naomi noem nie, noem my Mara, want die Almagtige het dit vir my baie bitter gemaak. Met 'n vol lewe is ek hier weg, maar die HERE het my leeg laat terugkom. Waarom my Naomi noem terwyl die HERE my teenstander geword het en die Almagtige my kwaad aangedoen het?”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid