ROMEINE 7:9-24

ROMEINE 7:9-24 Bybel vir almal (ABA)

Voorheen, toe ek nie God se wette geken het nie, het ek gelewe, maar toe ek die wette leer ken het, het die sonde in my begin lewe, en ek was soos 'n mens wat gesterf het. God het die wette gegee om my te laat lewe, maar ek het uitgevind daardie wette maak my dood. Want die sonde het God se wette gebruik en dit het my iets laat glo wat nie waar is nie. Ja, die sonde het die wette gebruik om my dood te maak. Daarom, die wette is God se wette. God gee elke wet, en elke wet is reg en goed. Mag ons dan sê die wette wat goed is, het my doodgemaak? Nee, nooit nie! Dit is die sonde wat my doodgemaak het. Die sonde gebruik God se goeie wette om my dood te maak sodat almal kan weet wat die sonde is. Ja, die sonde gebruik die wette, en so word die sonde altyd meer. Ons weet dat die Heilige Gees die wette gegee het, maar ek is 'n mens, ek doen slegte dinge, ek is 'n slaaf van die sonde. Ek verstaan nie wat ek doen nie. Ek wil goeie dinge doen, maar dan doen ek dit nie. Ek doen slegte dinge, dinge wat ek haat. En wanneer ek dinge doen wat ek nie wil doen nie, dan besef ek dat die wette goed is. Want dit is nie ék wat die slegte dinge doen nie, dit is die sónde wat in my is. Ek weet daar is niks in my wat goed is nie. Ek wil graag goeie dinge doen, maar ek doen dit nie. Ja, ek doen nie die goeie dinge wat ek graag wil doen nie, maar ek doen die slegte dinge wat ek nie wil doen nie. En wanneer ek die slegte dinge doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie ek wat die slegte dinge doen nie, dit is die sonde wat dit doen, die sonde wat in my is. Ek het iets geleer wat altyd waar is: Ek wil graag die goeie dinge doen, maar die slegte dinge is altyd in my. Ek dink aan die wette van God en ek is baie lief vir hulle. Maar daar is ook ander wette in my, en hierdie ander wette baklei teen die wette van God. Ek weet sy wette is reg. Maar die wette wat in my is, het my gevang, hulle regeer oor my en hulle laat my slegte dinge doen met my liggaam. Daarom, dit gaan baie sleg met my! Die lewe wat ek nou lewe, bring my by die dood! Wie sal my daarvan red?

ROMEINE 7:9-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En sonder die wet het ek vroeër gelewe, maar toe die gebod kom, het die sonde weer opgelewe en ek het gesterwe. En die gebod wat die lewe moes wees, dié het vir my geblyk die dood te wees. Want die sonde het aanleiding gevind deur die gebod en my verlei en daardeur gedood. Dus is die wet heilig en die gebod is heilig en regverdig en goed. Het die goeie dan vir my die dood geword? Nee, stellig nie! Maar wel die sonde, dat dit kon blyk sonde te wees, omdat dit deur die goeie vir my die dood bewerk, sodat die sonde deur die gebod uitermate sondig kon word. Want ons weet dat die wet geestelik is, maar ek is vleeslik, verkoop onder die sonde. Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek. En as ek doen wat ek nie wil nie, dan stem ek die wet toe dat dit goed is. Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon. Ek vind dus hierdie wet: as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens; maar ek sien 'n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is. Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?

ROMEINE 7:9-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

Voorheen, toe die wet nie daar was nie, het ek gelewe, maar toe die gebod gekom het, het die sonde begin lewe, en ek het gesterwe. Dit het geblyk dat die gebod wat bedoel was om vir my die lewe te bring, vir my die dood beteken. Die sonde wat deur die gebod 'n vastrapplek gekry het, het my deur die gebod mislei en my doodgemaak. Die wet is dus heilig, en sy voorskrifte is heilig en reg en goed. Beteken dit dat iets wat goed is, vir my die dood gebring het? Beslis nie. Inteendeel, die sonde het vir my die dood gebring. Dit het die sonde gedoen deur iets wat goed is, sodat die sonde in sy ware aard as sonde bekend sou word en dit deur die gebod sou blyk hoe skrikwekkend die sonde werklik is. Ons weet tog die wet is geestelik, maar ek is aards en soos 'n slaaf aan die sonde verkoop. Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. Dat ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is. Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, maar ek vind in my doen en late 'n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my 'n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is. Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?

ROMEINE 7:9-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Destyds, sonder die wet, was ék lewendig; maar toe die gebod gekom het, het die sonde lewe gekry, en ek het gesterf en gevind dat die gebod wat na die lewe moes lei, na die dood gelei het. Die sonde wat deur die gebod 'n vastrapplek gekry het, het my mislei en my deur die gebod doodgemaak. So is die wet dan heilig; en ook die gebod is heilig en regverdig en goed. Het dit wat goed is, dan vir my die dood gebring? Hoegenaamd nie! Trouens, dit was die sonde – sodat dit sou blyk dat dit werklik sonde is – wat deur die goeie vir my die dood bewerk het. So het die sonde deur die gebod as uitermate sondig na vore getree. Ons weet wel dat die wet geestelik is, maar ek, in my sondige aard, is uitverkoop aan die sonde. Ek verstaan my eie optrede nie: Wat ek wil, doen ek nie; maar juis wat ek haat, dit doen ek. En as ek dit doen wat ek nie wil nie, gee ek toe dat die wet goed is. Nou is dit egter nie meer ek wat dit doen nie, maar eerder die sonde wat in my woon. Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, dit wil sê, nie in my sondige aard nie. Die wil bestaan wel by my, maar die doen van die goeie nie. Die goeie wat ek wil, doen ek nie; maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. Maar as ek doen wat ek nie wil nie, is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar eerder die sonde wat in my woon. Dus vind ek hierdie wet: Wanneer ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. In my diepste wese verbly ek my oor die wet van God, maar ek sien 'n ander wet wat in my ledemate oorlog voer teen die wet van my verstand en my krygsgevange neem deur die wet van die sonde wat in my ledemate is. Ellendige mens wat ek is! Wie sal my tog red uit hierdie doodsbestaan?

ROMEINE 7:9-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Want ek het een keer sonder die wet gelewe, maar toe die gebod gekom het, het die sonde herleef en ek het gesterwe. En die gebod wat tot lewe bestem was, het ek gevind dat dit tot die dood was. Want sonde het deur die gebod aanleiding gegee, my bedrieg en my daardeur gedood. Daarom is die wet heilig en die gebod heilig en regverdig en goed. Is dit wat goed is dan vir my die dood? Die Here behoed. Maar die sonde, dat dit sonde kan blyk, wat die dood in my bewerk deur wat goed is; sodat sonde deur die gebod uitermate sondig kan word. Want ons weet dat die wet geestelik is, maar ek is vleeslik, verkoop onder die sonde. Want wat ek doen, laat ek nie toe nie; want wat ek wil, dit doen ek nie; maar wat ek haat, dit doen ek. As ek dan doen wat ek nie wil nie, stem ek in met die wet dat dit goed is. Nou dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. Want ek weet dat in my (dit is in my vlees) geen goeie ding woon nie; want om te wil is by my teenwoordig; maar hoe om te doen wat goed is, vind ek nie. Want die goeie wat ek wil, doen ek nie; maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. En as ek doen wat ek nie wil nie, is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. Ek vind dan 'n wet dat, wanneer ek goed wil doen, die kwaad by my is. Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens. Maar ek sien 'n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van sonde wat in my lede is. O ellendige mens wat ek is! wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?

ROMEINE 7:9-24 Die Boodskap (DB)

Voordat daar ’n wet was, het ek nie mooi geweet wat reg en wat verkeerd is nie. Maar vandat God se wet op skrif gestel is, is daar geen verskoning meer nie. Toe het sondes skielik name gekry. Nou weet ek baie goed wat sonde is. Die wet het my egter nie by die ware lewe uitgebring nie. Inteendeel, dit het my net nog dieper in die doderyk ingesleep, want die sonde het sy aaklige kloue ook in die wet ingeslaan. Daarom kon die wet nie keer dat ek sonde doen nie. Dit het my eintlik ’n rat voor die oë gedraai. Want kort voor lank was ek in die doderyk, met die wet en al. Natuurlik is die wet heilig. Dit kom immers van God af. En natuurlik is alles wat in die wet geskryf staan ook heilig en goed. Dit sê vir ons wat God van ons vra. Hoe is dit dan moontlik dat iets wat so goed is vir my die dood bring? Is dit die wet se skuld dat ek in die mag van die dood is? Natuurlik nie. Dit is die sonde se skuld. Sonde het ook die goeie wet in sy slegte kloue beetgekry. Daarom sit ek nou in hierdie gemors. Die wet maak net van my ’n nog groter sondaar omdat ek dit nie kan gehoorsaam nie. Die wet sê vir my wat sonde is, maar keer my glad nie om dit te doen nie. Hoe tragies dat juis die wet moet wys hoe groot die mag van die sonde regtig is. Die wet kom van God af. Maar ek wat dit moet probeer gehoorsaam, is ’n sondaar. Ek is soos ’n slaaf aan die verskriklike mag van die sonde uitverkoop. Ek kan nie verklaar hoekom ek sonde doen nie. Want ek wil dit nie doen nie. Tog doen ek dinge wat ek met my hele wese haat. Juis om hierdie rede is die wet nodig en goed. Dit wys immers vir my dat die lelike dinge wat ek doen, verkeerd is. Dis teen God se wil. Ek is nie meer in beheer van my eie lewe nie. Sonde speel oor my lewe baas. Ek weet alte goed dat ek ’n sondaar is. Nêrens in my liggaam skuil daar ’n enkele stukkie goed nie. Want ek wil bitter graag doen wat reg is. Maar ek kry dit eenvoudig nie reg nie. Die goeie dinge wat ek wil doen, doen ek nie. Maar die lelike dinge wat ek nie wil doen nie, doen ek. Iets groots is in my lewe verkeerd. Dis nie meer ek wat in beheer van my eie lewe staan nie. Sonde is my baas. My lewe is nou so voorspelbaar soos kan kom. Elke keer as ek besluit om goed te doen, pootjie die sonde my. In my binneste is ek regtig bly dat ek God se wet ken. Maar wanneer ek die wet moet doen, wil die res van my liggaam nie saamwerk nie. In my doen en late geld daar dus ’n ander wet as in my binneste: die sonde. Ek is vasgevang in ’n geweldige tweestryd: aan die een kant wil ek die wet gehoorsaam met alles wat binne-in my is, maar aan die ander kant is my liggaam ’n gevangene van die sonde. Wat ’n patetiese mens is ek nie! Ek leef in die doderyk. Wie kan my uit hierdie gemors verlos waarin my liggaam vasgevang is?

ROMEINE 7:9-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ek het destyds heel goed gevoel toe ek nog nie verstaan het wat die wet van my verwag nie. Maar toe die betekenis van die gebod tot my deurdring, het die sonde vir my ’n lewende werklikheid geword, en ek self het die doodsvonnis ontvang. Dit het geblyk dat juis die gebod wat veronderstel was om vir my die lewe te bring, vir my die dood beteken. Want die sonde wat deur die gebod aangewakker is, het my verlei en so my doodsvonnis meegebring. Nietemin, die wet op sigself is heilig en sy inhoud is heilig en reg en goed. Hoe is dit dan nou moontlik? Het dit wat goed is, naamlik die wet van Moses, dan vir my die dood gebring? Glad nie! Dis die sónde wat dit gedoen het, met die gevolg dat sy ware aard duidelik geword het. Sonde het dit wat goed is, misbruik om my dood te bewerk. So het die gebod nog soveel duideliker gemaak hoe verskriklik die sonde werklik is. Die wet is dus goed. Dit het ’n diep geestelike karakter. Die probleem lê nie by die wet nie, maar by myself omdat ek aan my sondige natuur gebind is. Ek is ’n slaaf wat aan die sonde verkoop is. Ek verstaan my eie doen en late glad nie. Wat ek graag wil doen, laat ek na, maar wat ek verafsku, juis dit doen ek. As ek doen wat ek nie wil doen nie en my gewete kla my daaroor aan, erken ek self dat die wet goed is. Maar nou is dit nie meer ek wat die verkeerde doen nie, maar eerder die sonde wat in my woon. Ek weet dat ek – ten minste wat my ou, sondige natuur betref – nie oor die vermoë beskik om die goeie te doen nie. Want die begeerte tot die goeie is daar, maar ek kry dit nie uitgevoer nie. Ek versuim die goeie wat ek so graag wil doen, maar die slegte wat ek nie wil nie, dít doen ek. As ek dan doen wat ek nie wil nie, is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar eerder die sonde wat in my woon. Ek ervaar dus die volgende lewenswet: As ek die goeie wil doen, is die kwaad byderhand. Ek verheug my immers in my diepste wese in die wet van God. Tog vind ek ’n ander wet in my binneste wat oorlog maak teen die wet van my gees en my ’n gevangene maak van die wet van die sonde wat nog in my is. Arme ek! Wie sal my uit hierdie doodstoestand red?

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid