ROMEINE 7:7-8
ROMEINE 7:7-8 Bybel vir almal (ABA)
Is dit reg wanneer ons sê God se wette is sonde? Nee, nooit nie! Ek ken God se wette, en daarom weet ek wat sonde is. God se wette sê: “ Jy mag nie iemand anders se goed vir jouself wil hê nie,” en daarom weet ek dat ek dit nie mag doen nie. Maar die sonde gebruik daardie wet en maak my dan baie lus om ander mense se goed te hê. As daar nie wette was nie, dan kon die sonde my nie lus maak om slegte dinge te doen nie.
ROMEINE 7:7-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Wat sal ons dan sê? Is die wet sonde? Nee, stellig nie! Inteendeel, ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie; want ek sou ook die begeerlikheid nie geken het nie as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie. Maar die sonde het aanleiding gevind deur die gebod en in my allerhande begeerlikheid gewerk; want sonder die wet is die sonde dood.
ROMEINE 7:7-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wat is dan ons gevolgtrekking? Dat die wet van Moses sonde is? Beslis nie. Inteendeel, ek sou nie geweet het wat sonde is nie, as dit nie deur die wet was nie. Ek sou byvoorbeeld nie geweet het dat dit sonde is om te begeer nie as die wet nie gesê het: “Jy mag nie begeer nie.” Maar deur hierdie gebod het die sonde 'n vastrapplek gekry en elke soort begeerte in my aan die gang gesit, want sonder die wet is die sonde dood.
ROMEINE 7:7-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wat sal ons dan sê? Dat die wet sonde is? Hoegenaamd nie! Trouens, ek sou nie die sonde geken het as dit nie deur die wet was nie. Ek sou immers nie geweet het wat begeerte is as die wet nie gesê het: “Jy mag nie begeer nie.” Nadat die sonde deur die gebod 'n vastrapplek gekry het, het dit allerlei begeertes in my gewek, want sonder die wet is die sonde dood.
ROMEINE 7:7-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wat sal ons dan sê? Is die wet sonde? Die Here behoed. Nee, ek het die sonde nie geken nie, maar deur die wet; want ek het nie begeerlikheid geken nie, tensy die wet gesê het: Jy mag nie begeer nie. Maar die sonde het deur die gebod aanleiding gegee en in my allerhande begeerlikheid bewerk. Want sonder die wet was die sonde dood.
ROMEINE 7:7-8 Die Boodskap (DB)
“Is dit dan ’n sonde om die wet te hou?” hoor ek een van julle vra. Nee, glad nie. Die wet sê juis vir ons wat sonde is. Ek sou mos nie geweet het dat ek nie mag begeer nie as die wet nie gesê het nie: “Jy mag nie begeer nie.” Tog help hierdie kennis nie veel nie, want die wet maak dat die sonde ’n vastrapplek in my lewe kry. In plaas daarvan dat die wet my keer om te sondig, maak dit my net bewus van my slegte begeertes - en laat my ook alles begeer wat deur die wet verbied word. As die wet nie daar was nie, sou sonde glad nie ’n probleem gewees het nie.
ROMEINE 7:7-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Suggereer ek daarmee dat die wet van Moses sondig is? Hoegenaamd nie! Inteendeel, dit was juis die wet wat my van sonde bewus gemaak het. Ek sou byvoorbeeld nooit besef het wat sondige begeerte is as die wet nie gesê het: “Jy mag nie begeer nie.” Sonde is deur hierdie gebod gestimuleer en het allerlei sondige begeertes in my aan die gang gesit. Sonder die wet sou die sonde nie daardie vermoë gehad het nie.