ROMEINE 7:4-5
ROMEINE 7:4-5 Bybel vir almal (ABA)
My vriende, dit is dieselfde met julle: Christus het gesterf, en julle het saam met Hom gesterf. Daarom regeer die wette nie oor julle nie. Julle behoort nou aan Iemand Anders, julle behoort aan Christus. Christus was dood, maar God het Hom weer laat lewe. Daarom kan ons nou almal lewe soos God wil hê. Voorheen het ons gelewe soos mense graag lewe. Ons het God se wette geken, en daarom het ons lus geword om sonde te doen. Ons het ons liggame gebruik om dinge te doen wat ons laat sterf.
ROMEINE 7:4-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
So, my broeders, is julle dan ook ten opsigte van die wet dood deur die liggaam van Christus, om aan 'n ander te behoort, naamlik aan Hom wat uit die dode opgewek is, sodat ons tot eer van God vrugte kan dra. Want toe ons in die vlees was, het die sondige hartstogte wat deur die wet kom, in ons lede gewerk om vir die dood vrugte te dra.
ROMEINE 7:4-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit is ook die geval met julle, my broers. Deur julle verbondenheid met die liggaam van Christus het julle gesterwe en staan julle nie meer onder die wet nie. Julle behoort nou aan iemand anders, aan Hom wat uit die dood opgewek is. Daarom moet ons nou 'n vrugbare lewe lei in diens van God. Toe ons nog 'n sondige lewensbestaan gevoer het, was die sondige hartstogte wat deur die wet wakker gemaak is, in elke deel van ons liggame werksaam en het ons vrugte gedra in diens van die dood.
ROMEINE 7:4-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Net so, my broers, het ook julle deur julle verbintenis met die liggaam van •Christus, wat die wet betref, gesterf om aan iemand anders te behoort, naamlik aan die Een wat uit die dood opgewek is, om vir God vrug te kan dra. Toe ons nog in ons sondige aard vasgevang was, het die sondige hartstogte wat deur die wet kom, in ons ledemate gewerk om vrug te dra vir die dood.
ROMEINE 7:4-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom, my broeders, het julle ook vir die wet dood geword deur die liggaam van Christus; dat julle met 'n ander getroud moet wees, naamlik met Hom wat uit die dode opgewek is, sodat ons vir God vrug kan dra. Want toe ons in die vlees was, het die bewegings van sondes wat deur die wet was, in ons lede gewerk om vrug te dra tot die dood.
ROMEINE 7:4-5 Die Boodskap (DB)
My broers en susters in die Here, dieselfde geld ook vir die wet. Julle is soos mense wat nou dood is vir die wet. Daarom hoef julle nie meer die wet te hou om by God uit te kom nie. Toe Christus aan die kruis dood is, het julle mos saam met Hom doodgegaan. Julle behoort nou aan Hom wat uit die dood opgestaan het.
ROMEINE 7:4-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
My punt, my broers en susters, is die volgende: Julle staan ook nie langer onder die mag van die wet nie. Die wet het tog beheer oor julle verloor toe julle saam met Christus gesterf het. En nou behoort julle aan Iemand anders, aan Hom wat uit die dood opgewek is sodat julle goeie vrug vir God kan voortbring. Toe ons nog in die mag van ons sondige natuur was, was die sondige drifte wat deur die wet aangewakker is, oral in ons liggame werksaam en die resultaat daarvan was die dood.