ROMEINE 7:23-25 - Compare All Versions

ROMEINE 7:23-25 ABA (Bybel vir almal)

Maar daar is ook ander wette in my, en hierdie ander wette baklei teen die wette van God. Ek weet sy wette is reg. Maar die wette wat in my is, het my gevang, hulle regeer oor my en hulle laat my slegte dinge doen met my liggaam. Daarom, dit gaan baie sleg met my! Die lewe wat ek nou lewe, bring my by die dood! Wie sal my daarvan red? Dit is God wat my red, en ek sê vir Hom dankie, Hy gebruik vir Jesus Christus ons Here om my te red. Ja, ek wil graag 'n slaaf van God wees, ek wil doen wat Hy sê. Maar ek is 'n mens, ek is 'n slaaf van die sonde, en daarom doen ek wat die sonde vir my sê.

ROMEINE 7:23-25 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

maar ek sien 'n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is. Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!

ROMEINE 7:23-25 AFR83 (Afrikaans 1983)

maar ek vind in my doen en late 'n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my 'n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is. Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here. So is dit dus met my gesteld: met my gees dien ek die wet van God, maar in my doen en late die wet van die sonde.

ROMEINE 7:23-25 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

maar ek sien 'n ander wet wat in my ledemate oorlog voer teen die wet van my verstand en my krygsgevange neem deur die wet van die sonde wat in my ledemate is. Ellendige mens wat ek is! Wie sal my tog red uit hierdie doodsbestaan? Aan God die dank – deur Jesus •Christus, ons Here! So dien ekself dan met my verstand die wet van God, maar met my sondige aard die wet van die sonde.

ROMEINE 7:23-25 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Maar ek sien 'n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van sonde wat in my lede is. O ellendige mens wat ek is! wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here. So dien ek dan self die wet van God met die verstand; maar met die vlees die wet van sonde.

ROMEINE 7:23-25 DB (Die Boodskap)

In my doen en late geld daar dus ’n ander wet as in my binneste: die sonde. Ek is vasgevang in ’n geweldige tweestryd: aan die een kant wil ek die wet gehoorsaam met alles wat binne-in my is, maar aan die ander kant is my liggaam ’n gevangene van die sonde. Wat ’n patetiese mens is ek nie! Ek leef in die doderyk. Wie kan my uit hierdie gemors verlos waarin my liggaam vasgevang is? Goddank! Daar is wel Iemand wat my uit hierdie doodsbestaan kan bevry. Sy Naam is Jesus Christus! Hy is ons Here. In my binneste is ek gehoorsaam aan God. Maar wat die res van my liggaam doen, is iets heeltemal anders. Daar heers die sonde. Daarom het ek Christus broodnodig!

ROMEINE 7:23-25 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Tog vind ek ’n ander wet in my binneste wat oorlog maak teen die wet van my gees en my ’n gevangene maak van die wet van die sonde wat nog in my is. Arme ek! Wie sal my uit hierdie doodstoestand red? Die antwoord hierop is: Jesus Christus ons Here, en daarvoor dank ek God! Die saak staan dus so: Met my gees wil ek die wet van God gehoorsaam, maar as gevolg van my sondige natuur gehoorsaam ek die wet van die sonde.