ROMEINE 7:2-3 - Compare All Versions
ROMEINE 7:2-3 ABA (Bybel vir almal)
Die wette sê dat 'n vrou wat getroud is, net haar eie man se vrou is terwyl hy lewe. Maar wanneer haar man gesterf het, dan is sy vry, dit sê die wette. Die wette sê sy pleeg egbreuk wanneer sy 'n ander man se vrou word terwyl haar man lewe. Maar wanneer haar man dood is, dan is sy vry, die wet regeer nie meer oor haar nie. As sy daarna 'n ander man se vrou word, dan pleeg sy nie egbreuk nie.
ROMEINE 7:2-3 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Want die getroude vrou is deur die wet aan die lewende man gebonde; maar as die man sterwe, is sy ontslae van die wet van die man. Daarom dan, as sy 'n ander man s'n word terwyl haar man lewe, sal sy 'n egbreekster genoem word; maar as die man sterwe, is sy vry van die wet, sodat sy nie 'n egbreekster is as sy 'n ander man s'n word nie.
ROMEINE 7:2-3 AFR83 (Afrikaans 1983)
Die getroude vrou, byvoorbeeld, is deur die wet aan haar man gebind so lank as hy lewe. As haar man te sterwe kom, is sy onthef van die wet wat haar aan haar man gebind het. Maar as sy 'n ander man se vrou word so lank as haar man lewe, sal sy as 'n egbreekster beskou word. As haar man gesterf het, is sy egter vry van die wet en is sy nie 'n egbreekster as sy 'n ander man se vrou word nie.
ROMEINE 7:2-3 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Volgens die wet is die getroude vrou tog aan haar man verbonde terwyl hy nog leef; maar as die man sterf, is sy onthef van die wet ten opsigte van haar man. Gevolglik sal sy as 'n egbreekster beskou word as sy 'n ander man se vrou word terwyl haar man nog leef; maar as haar man sterf, is sy vrygestel van die wet; en as sy 'n ander man se vrou word, is sy nie 'n egbreekster nie.
ROMEINE 7:2-3 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Want die vrou wat 'n man het, is deur die wet aan haar man gebonde solank hy lewe; maar as die man dood is, is sy verlos van die wet van haar man. As sy dan, terwyl haar man lewe, met 'n ander man getroud is, sal sy 'n egbreekster genoem word; maar as haar man dood is, is sy vry van daardie wet; sodat sy geen egbreekster is nie, al is sy met 'n ander man getroud.
ROMEINE 7:2-3 DB (Die Boodskap)
’n Getroude vrou is wettig aan haar man verbind solank hy leef. Maar as haar man dood is, is sy vry om weer te trou. As sy egter by ’n ander man gaan bly terwyl haar man nog leef, pleeg sy egbreuk. Maar as haar man dood is, staan dit haar vry om weer te trou. Dan tree sy glad nie verkeerd op nie.
ROMEINE 7:2-3 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Byvoorbeeld: As ’n vrou met ’n man trou, bind die wet haar aan haar eggenoot vir so lank as wat hy lewe. Maar as hy te sterwe kom, is die huwelikswet nie meer op haar van toepassing nie. As sy dus, terwyl haar man nog lewe, met ’n ander man trou, pleeg sy egbreuk. Maar as haar man te sterwe kom, is sy vrygestel van die huwelikswet en pleeg sy nie egbreuk as sy hertrou nie.