ROMEINE 7:1-6
ROMEINE 7:1-6 Bybel vir almal (ABA)
Vriende, ek weet julle ken God se wette. Julle weet dat die wette oor 'n mens regeer terwyl hy lewe. Die wette sê dat 'n vrou wat getroud is, net haar eie man se vrou is terwyl hy lewe. Maar wanneer haar man gesterf het, dan is sy vry, dit sê die wette. Die wette sê sy pleeg egbreuk wanneer sy 'n ander man se vrou word terwyl haar man lewe. Maar wanneer haar man dood is, dan is sy vry, die wet regeer nie meer oor haar nie. As sy daarna 'n ander man se vrou word, dan pleeg sy nie egbreuk nie. My vriende, dit is dieselfde met julle: Christus het gesterf, en julle het saam met Hom gesterf. Daarom regeer die wette nie oor julle nie. Julle behoort nou aan Iemand Anders, julle behoort aan Christus. Christus was dood, maar God het Hom weer laat lewe. Daarom kan ons nou almal lewe soos God wil hê. Voorheen het ons gelewe soos mense graag lewe. Ons het God se wette geken, en daarom het ons lus geword om sonde te doen. Ons het ons liggame gebruik om dinge te doen wat ons laat sterf. Die wette het ons vasgehou, maar nou is ons soos mense wat dood is, ons hoor nie wat die wette sê nie. Ons dien nou vir God soos die Heilige Gees vir ons sê om te doen, nie soos ons voorheen gedoen het nie, want die wette regeer nie meer oor ons nie.
ROMEINE 7:1-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
OF weet julle nie, broeders — want ek spreek met mense wat die wet ken — dat die wet oor die mens heers so lank as hy lewe nie? Want die getroude vrou is deur die wet aan die lewende man gebonde; maar as die man sterwe, is sy ontslae van die wet van die man. Daarom dan, as sy 'n ander man s'n word terwyl haar man lewe, sal sy 'n egbreekster genoem word; maar as die man sterwe, is sy vry van die wet, sodat sy nie 'n egbreekster is as sy 'n ander man s'n word nie. So, my broeders, is julle dan ook ten opsigte van die wet dood deur die liggaam van Christus, om aan 'n ander te behoort, naamlik aan Hom wat uit die dode opgewek is, sodat ons tot eer van God vrugte kan dra. Want toe ons in die vlees was, het die sondige hartstogte wat deur die wet kom, in ons lede gewerk om vir die dood vrugte te dra. Maar nou is ons ontslae van die wet waardeur ons gebonde was, aangesien ons dit afgesterf het, sodat ons dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie.
ROMEINE 7:1-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Julle weet, broers – en ek praat met mense wat op hoogte is van die wet van Moses – dat die wet gesag het oor 'n mens so lank as hy lewe. Die getroude vrou, byvoorbeeld, is deur die wet aan haar man gebind so lank as hy lewe. As haar man te sterwe kom, is sy onthef van die wet wat haar aan haar man gebind het. Maar as sy 'n ander man se vrou word so lank as haar man lewe, sal sy as 'n egbreekster beskou word. As haar man gesterf het, is sy egter vry van die wet en is sy nie 'n egbreekster as sy 'n ander man se vrou word nie. Dit is ook die geval met julle, my broers. Deur julle verbondenheid met die liggaam van Christus het julle gesterwe en staan julle nie meer onder die wet nie. Julle behoort nou aan iemand anders, aan Hom wat uit die dood opgewek is. Daarom moet ons nou 'n vrugbare lewe lei in diens van God. Toe ons nog 'n sondige lewensbestaan gevoer het, was die sondige hartstogte wat deur die wet wakker gemaak is, in elke deel van ons liggame werksaam en het ons vrugte gedra in diens van die dood. Maar nou is ons vrygemaak van die wet, want ons het gesterf en staan nie meer onder die wet waardeur ons gebind was nie. Nou kan ons dien in die nuwe bedeling van die Gees, nie in die ou bedeling van wetsvoorskrifte nie.
ROMEINE 7:1-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Of weet julle dan nie, broers – ek praat immers met mense wat die wet ken – dat die wet seggenskap het oor die mens vir so lank as wat hy leef nie? Volgens die wet is die getroude vrou tog aan haar man verbonde terwyl hy nog leef; maar as die man sterf, is sy onthef van die wet ten opsigte van haar man. Gevolglik sal sy as 'n egbreekster beskou word as sy 'n ander man se vrou word terwyl haar man nog leef; maar as haar man sterf, is sy vrygestel van die wet; en as sy 'n ander man se vrou word, is sy nie 'n egbreekster nie. Net so, my broers, het ook julle deur julle verbintenis met die liggaam van •Christus, wat die wet betref, gesterf om aan iemand anders te behoort, naamlik aan die Een wat uit die dood opgewek is, om vir God vrug te kan dra. Toe ons nog in ons sondige aard vasgevang was, het die sondige hartstogte wat deur die wet kom, in ons ledemate gewerk om vrug te dra vir die dood. Maar aangesien ons gesterf het, is ons nou vrygestel van die wet waarin ons vasgevang was, sodat ons diensbaar kan wees in die nuwe bedeling van die Gees, en nie in die ou bedeling van die letter van die wet nie.
ROMEINE 7:1-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Weet julle nie, broeders, (want ek spreek met die wat die wet ken), dat die wet oor 'n mens heers so lank as hy lewe nie? Want die vrou wat 'n man het, is deur die wet aan haar man gebonde solank hy lewe; maar as die man dood is, is sy verlos van die wet van haar man. As sy dan, terwyl haar man lewe, met 'n ander man getroud is, sal sy 'n egbreekster genoem word; maar as haar man dood is, is sy vry van daardie wet; sodat sy geen egbreekster is nie, al is sy met 'n ander man getroud. Daarom, my broeders, het julle ook vir die wet dood geword deur die liggaam van Christus; dat julle met 'n ander getroud moet wees, naamlik met Hom wat uit die dode opgewek is, sodat ons vir God vrug kan dra. Want toe ons in die vlees was, het die bewegings van sondes wat deur die wet was, in ons lede gewerk om vrug te dra tot die dood. Maar nou is ons verlos van die wet, omdat ons dood was waarin ons aangehou was; dat ons dien in 'n nuwe gees en nie in die oudheid van die letter nie.
ROMEINE 7:1-6 Die Boodskap (DB)
Julle weet mos hoe die wet werk. Dit geld net solank jy leef, of hoe? Kom ek verduidelik dit met die beeld van ’n huwelik. ’n Getroude vrou is wettig aan haar man verbind solank hy leef. Maar as haar man dood is, is sy vry om weer te trou. As sy egter by ’n ander man gaan bly terwyl haar man nog leef, pleeg sy egbreuk. Maar as haar man dood is, staan dit haar vry om weer te trou. Dan tree sy glad nie verkeerd op nie. My broers en susters in die Here, dieselfde geld ook vir die wet. Julle is soos mense wat nou dood is vir die wet. Daarom hoef julle nie meer die wet te hou om by God uit te kom nie. Toe Christus aan die kruis dood is, het julle mos saam met Hom doodgegaan. Julle behoort nou aan Hom wat uit die dood opgestaan het. Ons is nie meer met die wet “getroud” nie, maar met Christus. Ons kan nou regtig tot eer van God leef. Voordat ons gelowiges was, het ons al die sondes gedoen waarteen die wet ons waarsku. In plaas daarvan dat die wet die mag van die sonde in ons lewens onder beheer gebring het, het dit ons aangevuur om die vieslikste dinge aan te vang. Ons was in die voorportaal van die doderyk omdat ons daardie dinge gedoen het wat die wet verbied. Maar nou is die doodsgreep van die wet op ons lewens vir altyd gebreek. Nou hoef ons ons nie meer aan allerhande reëls op papier te hou om by God uit te kom nie. Ons het nou deel aan die nuwe lewe wat die Gees bring.
ROMEINE 7:1-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
En nou, broers en susters – ek praat immers met mense wat die wet ken – julle weet tog dat die wet net van toepassing is op mense solank hulle lewe. Byvoorbeeld: As ’n vrou met ’n man trou, bind die wet haar aan haar eggenoot vir so lank as wat hy lewe. Maar as hy te sterwe kom, is die huwelikswet nie meer op haar van toepassing nie. As sy dus, terwyl haar man nog lewe, met ’n ander man trou, pleeg sy egbreuk. Maar as haar man te sterwe kom, is sy vrygestel van die huwelikswet en pleeg sy nie egbreuk as sy hertrou nie. My punt, my broers en susters, is die volgende: Julle staan ook nie langer onder die mag van die wet nie. Die wet het tog beheer oor julle verloor toe julle saam met Christus gesterf het. En nou behoort julle aan Iemand anders, aan Hom wat uit die dood opgewek is sodat julle goeie vrug vir God kan voortbring. Toe ons nog in die mag van ons sondige natuur was, was die sondige drifte wat deur die wet aangewakker is, oral in ons liggame werksaam en die resultaat daarvan was die dood. Maar nou is ons vrygestel van die binding van die wet omdat ons saam met Christus gesterf het. Daarom kan ons God nou dien met die nuutheid wat die Gees bring, nie op die ou manier van gehoorsaamheid aan die letter van die wet nie.