ROMEINE 6:7-11
ROMEINE 6:7-11 Bybel vir almal (ABA)
want God het almal vrygespreek wat saam met Christus gesterf het. Christus het gesterf, en ons het saam met Hom gesterf. Daarom glo ons dat God vir Christus weer laat lewe het en dat ons ook saam met Christus sal lewe. Ja, God het vir Christus weer laat lewe, en ons weet dat Christus nooit weer sal sterf nie, want die dood is nie sterker as Hy nie. Hy het een maal gesterf, Hy kan nie weer sterf nie. Die sonde kan Hom nie oorwin nie, nooit nie. Hy lewe en Hy lewe nou vir God. Dit is dieselfde met julle: Julle moet weet dat die sonde ook nie vir julle kan oorwin nie, want julle is vir die sonde soos mense wat dood is. Maar nou lewe julle vir God, julle wat aan Christus Jesus behoort.
ROMEINE 6:7-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde. As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe, omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie. Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.
ROMEINE 6:7-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie. Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus.
ROMEINE 6:7-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wie gesterf het, is immers vrygemaak van die sonde. As ons saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal leef. Ons weet dat Christus, nadat Hy uit die dood opgewek is, nie weer sterf nie – die dood het nie meer seggenskap oor Hom nie. Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy ter wille van die sonde eens en vir altyd gesterf, maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. Beskou julleself dan so dat julle in Christus Jesus dood is vir die sonde, maar lewend vir God.
ROMEINE 6:7-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want hy wat dood is, is van sonde vrygemaak. En as ons saam met Christus dood is, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. Omdat hy weet dat Christus, wat uit die dode opgewek is, nie meer sterf nie; die dood heers nie meer oor hom nie. Want deurdat hy gesterf het, het hy een maal vir die sonde gesterf; maar deurdat hy lewe, leef hy tot eer van God. Net so reken julle ook dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God deur Jesus Christus, onse Here.
ROMEINE 6:7-11 Die Boodskap (DB)
Ons ou self, wat van vroeg tot laat agter elke sonde aangeloop het, is nou morsdood en begrawe. Daarom is ons nie meer slawe van die sonde nie. Sonde het mos nie ’n houvas op iemand wat klaar doodgegaan het nie. Ons wat saam met Christus gesterf het, glo dat ons saam met Hom sal leef. Ons glo dit omdat ons weet dat Jesus, nadat Hy uit die dood opgestaan het, nooit weer sal doodgaan nie. Die dood het nie meer ’n houvas op Hom nie. Toe Hy doodgegaan het, het Hy vir altyd ’n einde aan die mag van die sonde gemaak. Nou leef Hy as oorwinnaar daar by God. Julle moet net soos Jesus leef: beskou julleself as dood vir die sonde. Leef net vir God! Doen dit in die Naam van Christus Jesus.
ROMEINE 6:7-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Want as iemand sterf, word hy vry van die mag van die sonde. Aangesien ons saam met Christus gesterf het, weet ons dat ons ook deel sal hê aan sy lewe. Ons weet dit omdat Christus uit die dood opgewek is en nooit weer sal sterf nie. Die dood het geen mag meer oor Hom nie. Hy het eens en vir altyd vir die sonde gesterf en nou leef Hy vir God. Julle moet dus ook vir seker weet dat julle vir die sonde dood is, en nou vir God lewe deurdat julle met Christus Jesus één is.