ROMEINE 6:10-12 - Compare All Versions
ROMEINE 6:10-12 ABA (Bybel vir almal)
Hy het een maal gesterf, Hy kan nie weer sterf nie. Die sonde kan Hom nie oorwin nie, nooit nie. Hy lewe en Hy lewe nou vir God. Dit is dieselfde met julle: Julle moet weet dat die sonde ook nie vir julle kan oorwin nie, want julle is vir die sonde soos mense wat dood is. Maar nou lewe julle vir God, julle wat aan Christus Jesus behoort. Julle is vir die sonde soos mense wat dood is. Daarom moet julle nie tevrede wees dat die sonde oor julle liggame regeer nie, dit is liggame wat sal sterf. Ja, julle moenie die slegte dinge doen wat julle wil doen nie.
ROMEINE 6:10-12 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie.
ROMEINE 6:10-12 AFR83 (Afrikaans 1983)
Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus. Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie.
ROMEINE 6:10-12 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy ter wille van die sonde eens en vir altyd gesterf, maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. Beskou julleself dan so dat julle in Christus Jesus dood is vir die sonde, maar lewend vir God. Laat die sonde dan nie langer oor julle sterflike liggaam heers, om julle sy begeertes te laat gehoorsaam nie.
ROMEINE 6:10-12 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Want deurdat hy gesterf het, het hy een maal vir die sonde gesterf; maar deurdat hy lewe, leef hy tot eer van God. Net so reken julle ook dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God deur Jesus Christus, onse Here. Laat die sonde dan nie heers in julle sterflike liggaam, dat julle daaraan gehoorsaam sou wees in sy begeerlikhede nie.
ROMEINE 6:10-12 DB (Die Boodskap)
Toe Hy doodgegaan het, het Hy vir altyd ’n einde aan die mag van die sonde gemaak. Nou leef Hy as oorwinnaar daar by God. Julle moet net soos Jesus leef: beskou julleself as dood vir die sonde. Leef net vir God! Doen dit in die Naam van Christus Jesus. Moenie toelaat dat die sonde en sondige begeertes ooit weer ’n houvas op julle kry terwyl julle nog hier op aarde leef nie.
ROMEINE 6:10-12 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Hy het eens en vir altyd vir die sonde gesterf en nou leef Hy vir God. Julle moet dus ook vir seker weet dat julle vir die sonde dood is, en nou vir God lewe deurdat julle met Christus Jesus één is. Julle moet dus nie langer toelaat dat sonde julle aardse lewe beheer nie; moenie toegee aan sy verleidelike begeertes nie.