ROMEINE 6:1-14
ROMEINE 6:1-14 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer ons sê ons moet aanhou sonde doen sodat God se genade meer kan word, is ons dan reg? Nee, nooit nie! Die sonde kan ons nie oorwin nie, ons is vir die sonde soos mense wat dood is. Daarom mag ons nie aanhou sonde doen nie. Julle moet dit weet: Ons is almal gedoop en ons behoort nou aan Christus Jesus. Hy het gesterf, en ons het saam met Hom gesterf. Ja, ons is gedoop, en daarom kan ons sê ons het saam met Christus gesterf en ons was saam met Hom in die graf. God, die Vader en Koning, het vir Christus weer laat lewe. So laat God ons ook lewe, ons is soos mense wat 'n nuwe lewe gekry het. Christus het gesterf, en ons het soos Hy gesterf, want Hy en ons het een geword. En God het vir Christus weer laat lewe. Christus en ons het een geword, en daarom weet ons dat God vir ons ook weer saam met Christus sal laat lewe. Ons weet dat ons ook gekruisig is toe Christus gekruisig is. Ons was mense wat graag sonde gedoen het, maar nou is ons nie meer so nie. Ja, ons is nie meer slawe van die sonde nie, want God het almal vrygespreek wat saam met Christus gesterf het. Christus het gesterf, en ons het saam met Hom gesterf. Daarom glo ons dat God vir Christus weer laat lewe het en dat ons ook saam met Christus sal lewe. Ja, God het vir Christus weer laat lewe, en ons weet dat Christus nooit weer sal sterf nie, want die dood is nie sterker as Hy nie. Hy het een maal gesterf, Hy kan nie weer sterf nie. Die sonde kan Hom nie oorwin nie, nooit nie. Hy lewe en Hy lewe nou vir God. Dit is dieselfde met julle: Julle moet weet dat die sonde ook nie vir julle kan oorwin nie, want julle is vir die sonde soos mense wat dood is. Maar nou lewe julle vir God, julle wat aan Christus Jesus behoort. Julle is vir die sonde soos mense wat dood is. Daarom moet julle nie tevrede wees dat die sonde oor julle liggame regeer nie, dit is liggame wat sal sterf. Ja, julle moenie die slegte dinge doen wat julle wil doen nie. Julle moenie julle liggame gebruik om verkeerde dinge te doen nie, julle moenie die sonde dien nie. Nee, julle moet julle liggame gebruik om God te dien, want julle was dood, maar God het julle weer laat lewe. God het julle vrygespreek, daarom moet julle julle liggame gebruik om te doen wat reg is. Die sonde sal nie oor julle regeer nie, want dit is nie die wette wat oor julle regeer nie, dit is die genade van God wat oor julle regeer.
ROMEINE 6:1-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WAT sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe? Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in 'n nuwe lewe kan wandel. Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde. As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe, omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie. Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God. Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.
ROMEINE 6:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe? Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so 'n nuwe lewe kan lei. Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie. Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus. Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as 'n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.
ROMEINE 6:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly voortleef, sodat die genade kan toeneem? Hoegenaamd nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog langer daarin bly leef? Of weet julle nie dat ons wat in •Christus Jesus in gedoop is, in sy dood in gedoop is nie? Deur die doop is ons dus saam met Hom in die dood begrawe, sodat, net soos Christus deur die magtige heerlikheid van die Vader uit die dood opgewek is, ook ons só 'n nuwe lewe kan lei. As ons inderdaad met Hom saamgegroei het in 'n dood soos syne, sal ons ook met Hom saamgroei in 'n opstanding soos syne. Dit weet ons: dat ons ou mens saam met Hom gekruisig is, sodat ons sondige bestaan tot niet gemaak kan word, en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie. Wie gesterf het, is immers vrygemaak van die sonde. As ons saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal leef. Ons weet dat Christus, nadat Hy uit die dood opgewek is, nie weer sterf nie – die dood het nie meer seggenskap oor Hom nie. Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy ter wille van die sonde eens en vir altyd gesterf, maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. Beskou julleself dan so dat julle in Christus Jesus dood is vir die sonde, maar lewend vir God. Laat die sonde dan nie langer oor julle sterflike liggaam heers, om julle sy begeertes te laat gehoorsaam nie. Julle moet ook nie meer julle ledemate as wapens van ongeregtigheid tot beskikking van die sonde stel nie. Nee, as mense wat uit die dood lewend geword het, stel julleself tot beskikking van God, en julle ledemate as wapens van •geregtigheid tot beskikking van God. Die sonde mag beslis nie oor julle heers nie; julle is immers nie onder die wet nie, maar onder die genade.
ROMEINE 6:1-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wat sal ons dan sê? Sal ons in sonde bly, sodat die genade oorvloedig kan word? God verbied. Hoe sal ons, wat vir die sonde dood is, nog langer daarin lewe? Weet julle nie dat so baie van ons wat in Jesus Christus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Daarom is ons saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in 'n nuwe lewe kan wandel. Want as ons saam geplant is in die gelykenis van sy dood, sal ons ook in die gelykenis van sy opstanding wees. Om dit te weet, dat ons oue mens saam met Hom gekruisig is, sodat die liggaam van sonde vernietig kan word, sodat ons voortaan nie die sonde sou dien nie. Want hy wat dood is, is van sonde vrygemaak. En as ons saam met Christus dood is, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. Omdat hy weet dat Christus, wat uit die dode opgewek is, nie meer sterf nie; die dood heers nie meer oor hom nie. Want deurdat hy gesterf het, het hy een maal vir die sonde gesterf; maar deurdat hy lewe, leef hy tot eer van God. Net so reken julle ook dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God deur Jesus Christus, onse Here. Laat die sonde dan nie heers in julle sterflike liggaam, dat julle daaraan gehoorsaam sou wees in sy begeerlikhede nie. En moenie julle lede stel as werktuie van ongeregtigheid vir die sonde nie, maar stel julleself aan God oor as die wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid vir God. Want die sonde sal oor julle nie heers nie, want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.
ROMEINE 6:1-14 Die Boodskap (DB)
Moet ons dan aanhou sonde doen sodat God kan aanhou om ons vry te spreek? Nee, hoegenaamd nie! Die sonde het mos nie meer ’n houvas op ons nie. Ons is morsdood daarvoor. Julle onthou wat by die doop gebeur het, of hoe? Toe ons in die Naam van Christus Jesus gedoop is, het ons deel geword van alles wat met Hom by die kruis gebeur het, van sy dood af tot by sy opstanding. As dit dan waar is dat ons saam met Jesus die dood binnegestap het, is dit net so waar dat ons saam met Hom lewend anderkant uitgekom het toe God Hom met sy groot krag en heerlikheid uit die dood laat opstaan het. Daarom kan ons ook nou op ’n nuwe manier leef. Omdat ons saam met Jesus aan die kruis doodgegaan het, sal ons beslis saam met Hom oor die dood triomfeer. Ons weet mos dat daardie sondige mens wat ons eenmaal was, kant en klaar saam met Jesus gekruisig is. Ons ou self, wat van vroeg tot laat agter elke sonde aangeloop het, is nou morsdood en begrawe. Daarom is ons nie meer slawe van die sonde nie. Sonde het mos nie ’n houvas op iemand wat klaar doodgegaan het nie. Ons wat saam met Christus gesterf het, glo dat ons saam met Hom sal leef. Ons glo dit omdat ons weet dat Jesus, nadat Hy uit die dood opgestaan het, nooit weer sal doodgaan nie. Die dood het nie meer ’n houvas op Hom nie. Toe Hy doodgegaan het, het Hy vir altyd ’n einde aan die mag van die sonde gemaak. Nou leef Hy as oorwinnaar daar by God. Julle moet net soos Jesus leef: beskou julleself as dood vir die sonde. Leef net vir God! Doen dit in die Naam van Christus Jesus. Moenie toelaat dat die sonde en sondige begeertes ooit weer ’n houvas op julle kry terwyl julle nog hier op aarde leef nie. Moenie dat ’n enkele liggaamsdeel van julle ooit in diens van die sonde staan nie. Nee, gee julle lewens vir God, van kop tot tone. Onthou: Hy het julle saam met Jesus uit die dood laat opstaan. Doen net wat God sê met elke krieseltjie krag in elke liggaamsdeel van julle. Julle staan nie meer onder die loodsware las van die sonde nie. Daardie mag is vir altyd gebreek. Julle hoef ook glad nie meer al die reëls van die wet na te kom om God se guns te probeer wen nie. Julle leef nou net uit sy goedheid.
ROMEINE 6:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Beteken dit nou dat ons in die sonde moet voortlewe sodat die genade steeds oorvloediger kan word? Hoegenaamd nie! Ons is immers dood vir die sonde. Dis tog onmoontlik dat ons nog langer daarin kan voortlewe! Of het julle vergeet dat ons met ons doop een geword het met Christus Jesus en so saam met Hom gesterf het? Deur die doop is ons saam met Hom begrawe as mense wat deel in sy dood. En nou kan ons, net soos Christus wat deur ’n heerlike magsdaad van die Vader opgewek is, ook ’n totaal nuwe lewe leef. Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons ook saam met Hom opgewek word tot ’n nuwe lewe. Ons weet dat ons ou, sondige self saam met Christus gekruisig is sodat die sonde se mag oor ons verbreek kan word en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie. Want as iemand sterf, word hy vry van die mag van die sonde. Aangesien ons saam met Christus gesterf het, weet ons dat ons ook deel sal hê aan sy lewe. Ons weet dit omdat Christus uit die dood opgewek is en nooit weer sal sterf nie. Die dood het geen mag meer oor Hom nie. Hy het eens en vir altyd vir die sonde gesterf en nou leef Hy vir God. Julle moet dus ook vir seker weet dat julle vir die sonde dood is, en nou vir God lewe deurdat julle met Christus Jesus één is. Julle moet dus nie langer toelaat dat sonde julle aardse lewe beheer nie; moenie toegee aan sy verleidelike begeertes nie. Julle is betrokke in ’n geestelike oorlog. Moenie langer julle liggaamlike vermoëns as wapens van ongeregtigheid vir die sonde beskikbaar stel nie, maar stel julleself voortdurend vir God beskikbaar omdat julle uit die dood weer lewendig geword het. Stel al julle liggaamlike vermoëns as wapens van geregtigheid tot God se beskikking. Die sonde mag hoegenaamd nie oor julle heerskappy voer nie. Julle leef immers nie meer onder die verslawende mag van die wet nie, maar onder die bevrydende mag van die genade.