ROMEINE 5:9-11
ROMEINE 5:9-11 Bybel vir almal (ABA)
Christus het gesterf, en daarom het God ons vrygespreek. En daarom kan ons baie meer seker wees dat Christus ons ook sal red sodat God ons nie sal straf nie. Ons was voorheen God se vyande, maar God se Seun het gesterf sodat alles reg kan wees tussen ons en God. God het vir Christus weer laat lewe. Nou is alles reg tussen God en ons, daarom kan ons baie meer seker wees dat Christus ons sal red. Ons weet dat Christus ons sal red en ons is ook baie trots, want ons Here Jesus Christus het gesterf sodat alles reg kan wees tussen God en ons en sodat ons aan God kan behoort.
ROMEINE 5:9-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn. Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is. En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in God deur onse Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening verkry het.
ROMEINE 5:9-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word. Maar dit is nie al nie. Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het.
ROMEINE 5:9-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hoeveel te meer sal ons dan deur Hom van die oordeel gered word, noudat ons deur sy bloed geregverdig is! As ons, toe ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, hoeveel te meer sal ons deur sy lewe verlos word noudat ons met Hom versoen is! Maar dis nie al nie; ons vind ons roem ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het.
ROMEINE 5:9-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Veel meer dan, omdat ons nou deur sy bloed geregverdig is, sal ons deur Hom van die toorn gered word. Want as ons, toe ons vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons, as ons versoen is, deur sy lewe gered word. En nie alleen dit nie, maar ons verheug ons ook in God deur onse Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het.
ROMEINE 5:9-11 Die Boodskap (DB)
As God so ongelooflik goed vir ons is deur ons van ons sondes vry te spreek omdat Christus se bloed in ons plek gevloei het, hoef ons nie meer vir sy oordeel bang te wees nie. Dan sal Jesus ons ook mos help wanneer ons voor God se oordeelstroon moet gaan staan. Sy dood het ons in die regte verhouding met God gebring toe ons nog aartsvyande van Hom was. Hoeveel te meer sal ons dan nie deur die lewende Jesus van die oordeel van God gered word nie? Daar is selfs nog meer rede om fees te vier: ons kan nou al dag vir dag in blydskap voor God leef. Dit is net aan ons Here Jesus Christus te danke. Deur sy dood het Hy gesorg dat ons saak met God reg is.
ROMEINE 5:9-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ons is nou vrygespreek deur Jesus se dood. Hoeveel te meer sal Hy ons nie, deur Jesus, verlos van die toekomstige oordeel nie! Want as God ons, terwyl ons nog sy vyande was, deur die dood van sy Seun tot sy vriende gemaak het, hoeveel te meer sal Hy ons nie noudat ons sy vriende is, deur Hom, die lewende Jesus, van die oordeel red nie! Bo alles kan ons nou ook jubel in God omdat Jesus Christus ons Here ons bevoorreg het om nou God se vriende te wees.