ROMEINE 5:1-11

ROMEINE 5:1-11 Bybel vir almal (ABA)

God het ons vrygespreek omdat ons in Christus glo. Nou is daar vrede tussen ons en God, want ons Here Jesus Christus het vrede gemaak tussen ons en God. En Christus help vir ons wat glo, sodat ons elke dag kan weet dat God baie goed is vir ons. En ons is trots, want ons hoop en weet dat ons eendag by God, ons Koning, sal wees. Ons is ook trots wanneer ons swaarkry, want ons weet dat wanneer ons swaarkry, dan leer ons om geduldig te wees. En wanneer ons geduldig is, dan wys dit dat ons is soos God wil hê, en wanneer ons is soos God wil hê, dan hoop en weet ons dat God ons sal red. Ons weet ons sal kry wat ons hoop, want God het die Heilige Gees vir ons gegee, en die Heilige Gees maak ons harte vol met God se liefde. Christus het gesterf toe ons nog swak was. Ja, Hy het op die regte tyd gesterf om die sondaars te red. Niemand sal lus wees om te sterf om 'n ander mens te red nie, ook nie as daardie ander mens reg lewe nie. Ja, miskien sal daar iemand wees wat dapper is en lus is om te sterf om 'n goeie mens te red. Maar Christus het gesterf om ons te red toe ons sondaars was. Daarom weet ons dat God baie lief is vir ons. Christus het gesterf, en daarom het God ons vrygespreek. En daarom kan ons baie meer seker wees dat Christus ons ook sal red sodat God ons nie sal straf nie. Ons was voorheen God se vyande, maar God se Seun het gesterf sodat alles reg kan wees tussen ons en God. God het vir Christus weer laat lewe. Nou is alles reg tussen God en ons, daarom kan ons baie meer seker wees dat Christus ons sal red. Ons weet dat Christus ons sal red en ons is ook baie trots, want ons Here Jesus Christus het gesterf sodat alles reg kan wees tussen God en ons en sodat ons aan God kan behoort.

ROMEINE 5:1-11 Die Boodskap (DB)

Omdat ons glo, is daar nou vrede tussen God en ons. En dit alles is aan ons Here Jesus Christus te danke. Deur ons geloof het Hy gesorg dat ons nou in ’n splinternuwe verhouding met God staan. Ons leef nou dag vir dag net uit sy goedheid. Daarom is ons baie bly en opgewonde. Want ons weet dat God se nuwe wêreld op ons wag. Daar sal ons sy heerlikheid sien. Al kry ons nou baie swaar, vat dit glad nie ons blydskap weg nie. Allesbehalwe. Ons weet mos dat swaarkry ons vorm en slyp om nog meer op God te vertrou. En wanneer ons onverskrokke op God vertrou, help dit ons om ’n sterk Christelike karakter te vorm. En ’n sterk Christelike karakter maak dat ons deur dik en dun glo dat God se nuwe wêreld op ons wag. Wanneer ons al ons hoop op God stel, sal ons nooit teleurgesteld wees nie. Want Hy vul ons lewens elke dag met sy liefde. Dit doen Hy deur die Heilige Gees wat by ons bly. Christus het op presies die regte tydstip vir ons gesterf. Hy het sy lewe vir ons opgeoffer toe ons nog in die sonde rondgelê het. Dit is totaal ondenkbaar dat Christus bereid was om so iets vir ons te doen. Nie een van ons sal ooit ons lewe vir iemand anders prysgee nie. Ja, miskien nog vir ’n baie goeie vriend of vir die een of ander goeie mens. Maar God is heeltemal anders as ons. Hy wys juis hoe lief Hy ons het deurdat Jesus in ons plek doodgegaan het toe ons almal nog ’n spul sondaars was. As God so ongelooflik goed vir ons is deur ons van ons sondes vry te spreek omdat Christus se bloed in ons plek gevloei het, hoef ons nie meer vir sy oordeel bang te wees nie. Dan sal Jesus ons ook mos help wanneer ons voor God se oordeelstroon moet gaan staan. Sy dood het ons in die regte verhouding met God gebring toe ons nog aartsvyande van Hom was. Hoeveel te meer sal ons dan nie deur die lewende Jesus van die oordeel van God gered word nie? Daar is selfs nog meer rede om fees te vier: ons kan nou al dag vir dag in blydskap voor God leef. Dit is net aan ons Here Jesus Christus te danke. Deur sy dood het Hy gesorg dat ons saak met God reg is.

ROMEINE 5:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

As mense wat deur God vrygespreek is omdat ons glo, het ons nou vrede met God op grond van wat Jesus Christus ons Here gedoen het. Deur Jesus Christus het ons, deurdat ons glo, toegang verkry tot hierdie heerlike posisie van genade waarin ons ons nou bevind, en ons jubel vol verwagting oor die heerlikheid wat God aan ons gaan gee. Dis egter nie al nie – ons jubel selfs in ons swaarkry, want ons besef dat die swaarkry ons leer om te volhard. Op sy beurt kweek volharding betroubaarheid van karakter; en betroubaarheid van karakter versterk ons toekomsverwagting. En hierdie toekomsverwagting sal ons nie teleurstel nie, want ons weet hoe lief God ons het. Hy het sy liefde mos in ons harte uitgestort deur sy Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. Ja, juis toe ons nog totaal hulpeloos was, het Christus vir ons, die goddeloses, kom sterf. ’n Persoon sal kwalik bereid wees om vir ’n regverdige mens te sterf. Miskien sal iemand nog kans sien om vir ’n besonder goeie mens te sterf. God laat blyk sý liefde vir ons egter daarin dat Christus vir ons kom sterf het ten spyte daarvan dat ons nog sondaars was. Ons is nou vrygespreek deur Jesus se dood. Hoeveel te meer sal Hy ons nie, deur Jesus, verlos van die toekomstige oordeel nie! Want as God ons, terwyl ons nog sy vyande was, deur die dood van sy Seun tot sy vriende gemaak het, hoeveel te meer sal Hy ons nie noudat ons sy vriende is, deur Hom, die lewende Jesus, van die oordeel red nie! Bo alles kan ons nou ook jubel in God omdat Jesus Christus ons Here ons bevoorreg het om nou God se vriende te wees.

ROMEINE 5:1-11

ROMEINE 5:1-11 AFR83

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid