ROMEINE 4:4-8
ROMEINE 4:4-8 Bybel vir almal (ABA)
As mense dinge moet doen sodat God hulle moet vryspreek, dan is dit dieselfde soos wanneer hulle werk en iemand betaal hulle daarvoor. Hulle kry die betaling omdat hulle gewerk het en nie omdat die man vir wie hulle werk, goed wil wees vir hulle nie. Maar God spreek mense vry, nie omdat hulle dinge doen nie, maar omdat hulle glo. Hulle glo in Hom wat sondaars vryspreek. Dawid sê ook dat party mense gelukkig is omdat God hulle vryspreek, nie omdat hulle die regte dinge doen nie. Dawid skryf: Mense doen verkeerde dinge, maar die Here vergewe hulle. Hulle doen sonde, maar die Here neem hulle sonde weg, daarom is hulle gelukkige mense. Hulle is gelukkige mense, want die Here het hulle sonde vergewe.
ROMEINE 4:4-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na verdienste; aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken. Soos Dawid ook die mens salig spreek aan wie God geregtigheid toereken sonder werke: Welgeluksalig is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes bedek is. Welgeluksalig is die man aan wie die Here die sonde nie toereken nie.
ROMEINE 4:4-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Arbeider se loon word nie vir hom as 'n guns gegee nie, maar as iets wat hom toekom. Maar die mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur sy geloof. So sê ook Dawid dat dié mens geseënd is wat deur God vrygespreek word buite wetsonderhouding om: “Geseënd is die mense wie se oortredinge nie gestraf word nie en wie se sonde vergewe word. Geseënd is die mens vir wie die Here die sonde nie toereken nie.”
ROMEINE 4:4-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Iemand wat werk, se loon word nie as 'n guns gereken nie, maar as iets wat hom toekom. Iemand wat egter nie werk nie, maar glo in die Een wat die goddelose regverdig verklaar – vir hom word sy geloof as regverdiging toegereken. So noem ook Dawid die mens geseënd vir wie God regverdiging toereken, sonder werke: “Gelukkig is hulle wie se wettelose dade vergewe, en wie se sondes bedek is; Gelukkig is die mens vir wie die Here die sonde hoegenaamd nie toereken nie.”
ROMEINE 4:4-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En aan hom wat werk, word die loon nie uit genade gereken nie, maar uit skuld. Maar aan hom wat nie werk nie, maar in Hom glo wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken. Soos Dawid ook die saligheid beskryf van die mens aan wie God geregtigheid toereken sonder werke, en gesê: Geseënd is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes bedek is. Geseënd is die man aan wie die Here die sonde nie toereken nie.
ROMEINE 4:4-8 Die Boodskap (DB)
As jy werk, kry jy betaling daarvoor. Jy verdien dit immers omdat jy daarvoor gewerk het. God is egter nie soos ’n eienaar wat werkers beloon wat hard gewerk het nie. ’n Mens kom net in die regte verhouding met God as jy in Hom glo as die Een wat goddelose mense vryspreek. Selfs Dawid sê so. Volgens hom is elkeen wat deur God vrygespreek is sonder dat hulle die wet tot op die letter gehoorsaam, sommer baie bevoorreg. Dawid beskryf dit soos volg: “Gelukkig is almal wie se oortredings vergewe is en wie se sondes skoongevee is. Gelukkig is elkeen van wie se sondes God nie langer boekhou nie.”
ROMEINE 4:4-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wanneer mense ’n werk verrig, word hulle loon nie as ’n guns beskou nie, maar as vergoeding. Die saak staan heeltemal anders met daardie mense wat geen prestasie het waarop hulle kan staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddeloses vryspreek – hulle word vrygespreek deurdat hulle glo. Koning Dawid het hiervan gepraat toe hy beskryf het hoe gelukkig die mens is wat sonder enige wetsprestasies tog deur God vrygespreek word: “Gelukkig is daardie mense wie se oortredings nie gestraf word nie en wie se sondes uitgewis word. Gelukkig is die mens vir wie die HERE die sonde glad nie meer toereken nie!”