ROMEINE 13:8-14

ROMEINE 13:8-14 Bybel vir almal (ABA)

Julle moenie vir mekaar iets skuld nie, maar julle moet lief wees vir mekaar, want wanneer julle lief is vir ander mense, dan doen julle alles wat God se wette vra. Al die wette, “ Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie iemand vermoor nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie iemand anders se goed vir jouself wil hê nie” en ook al die ander wette, beteken “ Jy moet lief wees vir jou naaste, so lief soos jy vir jouself is.” As jy lief is vir jou naaste, dan sal jy nooit slegte dinge aan hom doen nie. Daarom, as jy lief is vir jou naaste, dan doen jy alles wat die wette vra. Julle weet die belangrike tyd is naby, die tyd wanneer Christus weer kom. Julle moet gereed wees, julle moenie wees soos mense wat slaap nie. Want die tyd wanneer Christus sal kom om ons te red, is nou nader as toe ons in Hom begin glo het. Mense weet dat dit lig word wanneer die nag verby is. So weet ons ook dat ons nie meer lank sal wag nie, dan sal Christus kom. Daarom moet ons nie mense van die nag wees nie, ons moenie slegte dinge doen nie. Ons moet mense van die lig wees, ons moet goeie dinge doen. Ons moet reg lewe soos mense van die lig, ons moenie te veel eet nie en ons moenie dronk word nie, ons moenie onsedelik lewe en net doen wat ons wil doen nie, ons moenie aanhou stry en jaloers wees nie. Julle behoort aan die Here Jesus Christus, daarom moet julle weet Hy is nou baie naby aan julle, so naby soos die klere wat julle aantrek. Julle moenie die slegte dinge doen wat mense graag wil doen nie, nooit nie.

ROMEINE 13:8-14 Die Boodskap (DB)

Betaal jou skuld! Moet niks aan ander mense skuld nie, behalwe om absoluut lojaal en vol liefde teenoor hulle te wees. As jy ander mense liefhet, het jy die hele wet van God nagekom. Al die voorskrifte in die wet - jy mag nie ’n seksuele verhouding met iemand buite jou huwelik hê nie; jy mag nie iemand anders vermoor nie; jy mag nie iets vat wat nie aan jou behoort nie; jy mag nie dinge begeer wat nie joune is nie, en al die ander voorskrifte - kan in een enkele sin saamgevat word: jy moet vir jou medemens net soveel omgee soos vir jouself. Sulke soort liefde benadeel nooit ander mense nie. Daarom, wanneer jy ander mense van harte liefhet, gehoorsaam jy die ganse wet. Julle moenie so vasgevang raak in julle besige lewens dat julle nie agterkom hoe laat dit al is nie. Kyk, die einde, die groot dag van die Here, is voor die deur. Trouens, dit is sommer al baie nader aan ons as toe ons tot bekering gekom het. Daarom moet ons wakker word. Die nag is verby; dit is al amper dag. Ons moet dadelik ophou met al ons sondes wat tot die donker hoort en begin leef soos mense van die dag wat God se wapens van die lig aanhet. Ons moet net doen wat God sê. Skandelike dinge soos uitspattighede en dronkpartytjies, seksuele losbandigheid en goddeloosheid, ’n bakleiery en jaloesie is nou heeltemal ontoelaatbaar. Staan dadelik op en trek die krag van die Here Jesus Christus as julle nuwe klere aan. Moet nooit enige plek vir sonde in julle lewens gee nie. Moet nooit swig voor versoekings nie.