ROMEINE 13:8-10
ROMEINE 13:8-10 Bybel vir almal (ABA)
Julle moenie vir mekaar iets skuld nie, maar julle moet lief wees vir mekaar, want wanneer julle lief is vir ander mense, dan doen julle alles wat God se wette vra. Al die wette, “ Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie iemand vermoor nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie iemand anders se goed vir jouself wil hê nie” en ook al die ander wette, beteken “ Jy moet lief wees vir jou naaste, so lief soos jy vir jouself is.” As jy lief is vir jou naaste, dan sal jy nooit slegte dinge aan hom doen nie. Daarom, as jy lief is vir jou naaste, dan doen jy alles wat die wette vra.
ROMEINE 13:8-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WEES aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat 'n ander liefhet, het die wet vervul. Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.
ROMEINE 13:8-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit. Al die gebooie: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie,” of watter ander gebod daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.
ROMEINE 13:8-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wees aan niemand iets verskuldig nie, behalwe die verpligting om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, het die wet vervul. Want dit, “Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie,” of watter ander gebod ook al, word saamgevat in hierdie uitspraak: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Die liefde doen die naaste geen kwaad nie, daarom is die liefde die vervulling van die wet.
ROMEINE 13:8-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wees niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê, want wie 'n ander liefhet, het die wet vervul. Daarom: Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie; en as daar enige ander gebod is, word dit kortliks in hierdie gesegde verstaan, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Die liefde doen sy naaste geen kwaad nie; daarom is liefde die vervulling van die wet.
ROMEINE 13:8-10 Die Boodskap (DB)
Betaal jou skuld! Moet niks aan ander mense skuld nie, behalwe om absoluut lojaal en vol liefde teenoor hulle te wees. As jy ander mense liefhet, het jy die hele wet van God nagekom. Al die voorskrifte in die wet - jy mag nie ’n seksuele verhouding met iemand buite jou huwelik hê nie; jy mag nie iemand anders vermoor nie; jy mag nie iets vat wat nie aan jou behoort nie; jy mag nie dinge begeer wat nie joune is nie, en al die ander voorskrifte - kan in een enkele sin saamgevat word: jy moet vir jou medemens net soveel omgee soos vir jouself. Sulke soort liefde benadeel nooit ander mense nie. Daarom, wanneer jy ander mense van harte liefhet, gehoorsaam jy die ganse wet.
ROMEINE 13:8-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Betaal alles wat julle verskuldig is, maar die een rekening wat julle altyd verskuldig sal bly, is om mekaar lief te hê. As jy jou naaste liefhet, vervul jy die wet. Want elke verbod, dié teen egbreuk, teen moord, teen diefstal, teen verkeerde begeertes – en watter ander een daar ook mag wees – word opgesom in hierdie een groot opdrag: “Jy moet jou medemens net so liefhê soos jouself.” Die liefde doen niemand kwaad aan nie. Daarom voldoen die liefde aan al God se vereistes.