ROMEINE 12:17-19
ROMEINE 12:17-19 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer mense slegte dinge aan julle doen, dan moet julle nie ook slegte dinge aan hulle doen nie. Julle moet goeie dinge doen. Al die mense moet dink dit is goeie dinge. Julle moet baie hard probeer om in vrede te lewe met ander mense. Liewe vriende, wanneer mense slegte dinge aan julle doen, dan moet julle nie self vir hulle straf nie. Julle moet wag, God sal hulle straf, want in die Ou Testament is geskryf
ROMEINE 12:17-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense; as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.
ROMEINE 12:17-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here.
ROMEINE 12:17-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Moet niemand kwaad met kwaad vergeld nie, maar rig julle gedagtes op dit wat vir alle mense goed is. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Geliefdes, moet julle nie wreek nie, maar laat ruimte vir die oordeel. Daar staan immers geskryf: “Aan My kom die wraak toe; Ek sal vergeld,” sê die Here.
ROMEINE 12:17-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Vergeld niemand kwaad vir kwaad nie. Verskaf dinge wat eerlik is in die oë van alle mense. As dit moontlik is, so veel as wat in julle lê, leef in vrede met alle mense. Geliefdes, moenie julleself wreek nie, maar gee plek vir die toorn, want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe; Ek sal vergeld, spreek die Here.
ROMEINE 12:17-19 Die Boodskap (DB)
Moenie net regsit om ander mense in eie munt terug te betaal as hulle iets verkeerds aan julle gedoen het nie. Doen liewer goeie dinge sodat ander mense kan sien dat julle God dien. Doen van julle kant af alles in julle vermoë om in vrede met ander mense te leef. Laat staan al julle wraakplanne, my liewe broers en susters. Dit pas glad nie by gelowiges nie. Los sulke dinge vir God. Daar staan immers in die Bybel: “‘Ek alleen het die reg om te straf; Ek sal wraak neem,’” sê die Here.
ROMEINE 12:17-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Moenie vir enigiemand kwaad met kwaad terugbetaal nie; wees positief teenoor alle mense. Sover dit vir julle moontlik is, moet julle goeie verhoudings handhaaf met alle mense. Geliefdes, julle moet julleself nie wreek nie. Laat die straf aan God oor. Daar staan mos in die Skrif: “Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld, sê die Here.”