ROMEINE 11:1-36

ROMEINE 11:1-36 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

My vraag is dan: “Het God dalk sy volk verstoot?” Hoegenaamd nie! Ek is tog ook 'n Israeliet, uit die nageslag van Abraham, uit die stam van Benjamin. “God het nie sy volk verstoot” wat Hy reeds tevore gekies het nie. Of weet julle nie wat die Skrif oor Elia sê nie, hoe hy hom op God beroep het teen Israel? “Here, u profete het hulle doodgemaak, u altare het hulle afgebreek. Ek het alleen oorgebly, en hulle soek my lewe.” Maar wat is God se antwoord aan hom? “Ek het vir My seweduisend mans laat oorbly wat nie hulle knie voor Baäl gebuig het nie.” Net so is daar ook in die huidige tyd 'n oorblyfsel, deur genade uitgekies. Maar as dit uit genade is, is dit nie meer op grond van dade nie; want anders sou die genade nie meer genade wees nie. Waarop kom dit dan neer? Dat Israel dit wat hulle soek, nie gekry het nie. Maar die uitverkorenes het dit wel gekry. Die res is egter verhard, soos daar geskryf staan: “God het aan hulle 'n trae gees gegee, oë wat nie sien nie, en ore wat nie hoor nie, tot op die dag van vandag.” En Dawid sê: “Laat hulle etenstafel 'n valstrik en 'n vangnet word, 'n struikelblok en 'n vergelding vir hulle. Laat hulle oë verblind word, sodat hulle nie kan sien nie, laat hulle rûe vir altyd krom buig.” Ek vra verder: “Hulle het tog seker nie gestruikel, net sodat hulle tot 'n val sou kom nie?” Hoegenaamd nie! Inteendeel, deur hulle val het die verlossing na die nie-Jode gekom om hulle jaloers te maak. As hulle val 'n verryking van die wêreld meegebring het, en hulle tekort 'n verryking van die nie-Jode, hoeveel te meer hulle volle getal! Vir julle uit die nie-Jode sê ek: In soverre ek dan •apostel vir die nie-Jode is, strek dit my bediening tot eer, in die hoop dat ek dalk my eie mense jaloers kan maak, en 'n aantal van hulle tot verlossing kan bring. As hulle verwerping vir die wêreld versoening meegebring het, wat sal hulle aanneming nie beteken nie! Niks anders nie as lewe uit die dood! As die eerste stukkie deeg heilig is, dan is die hele baksel heilig. En as die wortel heilig is, dan ook die takke. En as 'n aantal van die takke van die mak olyfboom uitgebreek is, en jy, die wilde olyf, tussen die takke ingeënt is, en so aan die voedingskrag van die mak olyfboom se wortel deel gekry het, moet jy nie teenoor die ander takke spog nie. As jy wel spog – jy ondersteun nie die wortel nie, maar die wortel jou. Jy sal dan sê: Daar is takke uitgebreek sodat ék op die boom ingeënt kan word. Goed en wel. Dit is deur hulle ongeloof dat hulle uitgebreek is. Maar jy is daar deur jou geloof. Moenie hooghartig wees nie , maar wees vol ontsag. Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy jou dalk ook nie spaar nie. Sien daarom God se goedheid sowel as sy strengheid raak: sy strengheid oor hulle wat afvallig geword het, maar sy goedheid oor jou – mits jy in sy goedheid bly, want ook jy kan uitgekap word. En wat hulle betref, as hulle nie in hulle ongeloof volhard nie, sal ook hulle weer ingeënt word. God is magtig om hulle weer terug te kan ent. Want as jy uitgekap is uit wat van nature 'n wilde olyfboom was, en jy teen jou natuur op die mak olyf oorgeënt kon word, hoeveel te meer sal die natuurlike takke nie op hulle eie olyfboom teruggeënt kan word nie! Om te voorkom dat julle eiewys sal wees, broers, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees oor hierdie misterie nie: Daar het gedeeltelik 'n verharding oor Israel gekom, totdat die volle getal van die heidene ingekom het. Op hierdie manier sal die hele Israel verlos word. Soos daar geskryf staan: “Die Redder sal uit Sion kom, en Hy sal die goddeloosheid uit Jakob verwyder. En dit sal my verbond met hulle wees wanneer Ek hulle sondes wegneem. ” Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande om julle ontwil, maar wat die uitverkiesing betref, is hulle geliefdes om die voorvaders se ontwil. Die gawes en roeping van God is immers onherroeplik. Want net soos júlle voorheen aan God ongehoorsaam was, maar nou ontferming ontvang het weens húlle ongehoorsaamheid, so is ook hulle nou ongehoorsaam weens die ontferming wat julle ontvang het, sodat ook hulle nou self ontferming kan ontvang. God het almal onder die ongehoorsaamheid ingesluit, sodat Hy aan almal ontferming kan betoon. O, diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, en hoe onnaspeurbaar sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken? Of wie het as sy raadsman opgetree? Of wie het eers gawes aan Hom gegee, vir wie Hy dit sou moes vergoed? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom kom die heerlikheid vir ewig toe! •Amen.

ROMEINE 11:1-36 Bybel vir almal (ABA)

Iemand sal miskien vra: “Het God sy volk gelos?” Nee, nooit nie. Julle moet onthou, ek is ook 'n Israeliet, ek is van die nageslag van Abraham. Ek behoort aan die Benjamin-stam. God het nie sy volk gelos nie. Hy het hulle gekies om aan Hom te behoort. Hy het hulle gekies voordat Hy alles gemaak het. Julle moet onthou wat die Ou Testament oor Elia sê. Elia het by God gekla oor die Israeliete. Elia het gesê: “ Here, die Israeliete het u profete doodgemaak, en hulle het u altare afgebreek. Ek het alleen oorgebly. En nou wil hulle my ook doodmaak.” Maar God het vir Elia gesê: “ Ek het vir My 7 000 mense laat oorbly wat nie hulle knieë gebuig het en vir Baäl aanbid het nie.” God het nou ook mense laat oorbly. Dit is die mense wat Hy gekies het om aan Hom te behoort omdat Hy baie goed wil wees vir hulle. God het hulle gekies omdat Hy baie goed wil wees vir hulle, nie omdat hulle goeie dinge gedoen het nie. As God hulle gekies het omdat hulle goeie dinge gedoen het, dan is dit nie regtig genade nie. Dit beteken: Die Israeliete wou hê God moet hulle vryspreek, maar Hy het dit nie gedoen nie. Hy het party mense gekies en Hy het hulle vrygespreek, maar Hy het die ander mense hardkoppig gemaak. Dit is soos daar in die Ou Testament geskryf is: God het hulle mense gemaak wat niks kan doen nie, Hy het vir hulle oë gegee wat nie sien nie en ore wat nie hoor nie. Dit is vandag nog dieselfde. En Dawid sê in die Ou Testament: U moet hulle straf daar by hulle offer-etes, U moet hulle laat val soos voëls in vangnette val. Hulle moet val en seerkry, U moet hulle straf. U moet hulle blind maak sodat hulle nie kan sien nie. U moet elkeen se rug krom maak sodat hulle nooit weer kan loop nie. Die Israeliete het sonde gedoen toe hulle nie in Christus geglo het nie. Nou vra ek: Is hulle heeltemal verlore? Nee, nooit nie! Die Israeliete het sonde gedoen, maar omdat hulle sonde gedoen het, het God die heidene gered. Hy het dit gedoen sodat die Israeliete jaloers kan word. Ja, die Israeliete het sonde gedoen, en daarom het die ander mense in die wêreld al die goeie dinge gekry wat God wil gee. Die Israeliete het al die goeie dinge verloor, en die heidene het al die goeie dinge gewen. Nou moet julle dit weet: Wanneer God al die Israeliete red wat Hy wil red, dan sal die heidene nog baie meer goeie dinge kry. Ek sê vir julle, vir julle wat heidene is: Ek is 'n apostel en God het vir my die werk gegee om na die heidene toe te gaan. Ek doen hierdie werk baie goed en ek hoop die Israeliete word jaloers wanneer hulle sien dat God die heidene red. Dan kan God party van die Israeliete ook red. Toe God die Israeliete gelos het, het Hy die sonde weggeneem van ander mense in die wêreld. Nou is alles reg tussen die ander mense en God. Julle moet dit weet: Wanneer God die Israeliete weer aanneem om aan Hom te behoort, dan sal dit wees soos wanneer Hy dooie mense weer laat lewe. Wanneer iemand 'n stukkie van die deeg offer, dan behoort die hele stuk deeg aan God. En wanneer die wortel van 'n boom aan God behoort, dan behoort die takke van die boom ook aan God. God het die Israeliete gelos en Hy red julle wat heidene is. Dit is soos wanneer iemand takke van 'n mak olyfboom afbreek en dan takke van 'n wilde olyfboom inent op die mak olyfboom. Dan groei daardie wilde takke aan die mak olyfboom en hulle kry ook van die boom se wortel al die kos wat hulle nodig het. Julle wat heidene is, is soos die wilde takke, en die Israeliete is soos die mak takke. Die wilde takke mag nie dink hulle is beter as die mak takke nie, want die wilde takke lewe nie self nie, hulle kry hulle kos van die boom se wortel. Julle wat heidene is, sê miskien: “God het die mak takke afgebreek sodat Hy ons op die boom kon inent.” Ja, dit is waar. Maar julle moet onthou dat God die mak takke, die Israeliete, afgebreek het omdat hulle nie in Christus glo nie. Julle wat heidene is, het vasgegroei aan die boom omdat julle in Christus glo. Daarom moet julle nie hoogmoedig wees nie. Nee, julle moet vir God respekteer en Hom dien. Julle moet onthou God was nie jammer vir die mak takke nie en Hy sal miskien ook nie jammer wees vir julle nie. Julle moet weet God is baie goed, maar Hy is ook kwaai. Hy is kwaai met die mense wat nie in Christus glo nie en wat verlore gaan. God is baie goed vir julle, maar dan moet julle aanhou lewe soos mense wat weet dat God baie goed is vir hulle. As julle dit nie doen nie, dan sal God julle ook afkap van die boom soos Hy die mak takke afgekap het. As die Israeliete in Christus glo, dan sal God hulle weer aanneem om aan Hom te behoort. God kan dit doen. Julle wat heidene is, is soos takke van 'n wilde olyfboom. Wilde takke groei nie maklik op 'n mak olyfboom nie, maar God het vir julle afgekap en Hy het julle ingeënt op 'n mak olyfboom. Daarom sal dit vir God baie makliker wees om die Israeliete weer aan te neem, want hulle is soos die takke wat maklik weer vasgroei aan die boom van waar dit kom. Vriende, ek wil hê julle moet weet wat God voorheen besluit het en wat Hy nou vir ons gesê het. Julle moenie dink julle weet alles nie. Party Israeliete is nou hardkoppig en hulle wil nie in Christus glo nie. Dit sal so wees totdat God al die heidene gered het wat Hy wil red. Dit is hoe God al die Israeliete sal red. Dit sal wees soos daar in die Ou Testament geskryf is: Die Redder sal uit Sion kom, Hy sal vir Jakob laat ophou om verkeerde dinge te doen. Ek maak 'n verbond met hulle, Ek vergewe hulle sondes. Die Israeliete het nie die goeie boodskap geglo nie. Daarom is hulle God se vyande en daarom is God goed vir julle wat heidene is. Maar God het die Israeliete gekies en Hy is lief vir hulle, want Hy het 'n verbond gemaak met hulle voorvaders. Wanneer God vir iemand genade gee, dan gee Hy dit vir altyd. Wanneer Hy mense kies, dan kies Hy hulle vir altyd. Voorheen was julle heidene, julle was nie gehoorsaam aan God nie. Die Israeliete was ook nie gehoorsaam nie, en nou is God vir júlle jammer. Nou sal dieselfde gebeur: Die Israeliete was nie gehoorsaam aan God nie, maar God sal weer goed wees vir hulle, want God was goed vir júlle. Almal, Israeliete en heidene, was ongehoorsaam, en God het hulle ongehoorsaam laat bly, want Hy wou jammer wees vir hulle almal. Die wysheid van God, alles wat Hy weet, alles wat aan God behoort, is meer as wat ons kan verstaan. Ons kan nie weet wat God besluit nie, ons kan nie uitvind wat Hy wil doen nie. Wie mag vir die Here sê wat Hy moet dink? Wie mag vir Hom sê wat die regte dinge is wat Hy moet doen? Of wie het eers vir die Here iets gegee sodat die Here dit dan weer vir hom moes teruggee? Die Here het alles en almal gemaak, alles en almal kom van Hom, en alles en almal moet Hom dien. Daarom moet ons die Here altyd prys. Amen.

ROMEINE 11:1-36 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EK vra dan: Het God miskien sy volk verstoot? Nee, stellig nie! Want ek is ook 'n Israeliet uit die nageslag van Abraham, van die stam van Benjamin. God het sy volk wat Hy vantevore geken het, nie verstoot nie. Of weet julle nie wat die Skrif in die gedeelte oor Elía sê nie? — hoe hy by God optree teen Israel en sê: Here, hulle het u profete gedood en u altare het hulle afgebreek, en ek het alleen oorgebly, en hulle soek my lewe! Maar wat sê die Godspraak aan hom? Ek het vir Myself seweduisend manne laat oorbly wat die knie voor Baäl nie gebuig het nie. Net so is daar dan ook in die teenwoordige tyd 'n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van die genade. En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie. Wat dan? Wat Israel soek, dit het hy nie verkry nie; maar die uitverkorenes het dit verkry en die ander is verhard. Soos geskrywe is: God het hulle gegee 'n gees van diepe slaap, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe. En Dawid sê: Laat hulle tafel vir hulle wees 'n vangnet en 'n strik en 'n struikelblok en 'n vergelding. Laat hulle oë duister word om nie te sien nie, en buig hulle rug vir altyd krom. Ek vra dan: Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak. En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie! Want aan julle heidene sê ek: Vir sover as ek 'n apostel van die heidene is, verheerlik ek my bediening — as ek tog maar net my eie volk jaloers kan maak en sommige uit hulle kan red! Want as hulle verwerping die versoening van die wêreld is, wat sal hulle aanneming anders wees as lewe uit die dode? En as die eerstelinge heilig is, dan die deeg ook; en as die wortel heilig is, dan die takke ook. En as sommige van die takke afgebreek is, en jy wat 'n wilde olyfboom was, onder hulle ingeënt is en deel gekry het aan die wortel en die vettigheid van die olyfboom, moet dan nie teen die takke roem nie; en as jy roem — dit is nie jy wat die wortel dra nie, maar die wortel vir jou. Jy sal dan sê: Die takke is afgebreek, sodat ek ingeënt kon word. Goed! Deur ongeloof is hulle afgebreek, maar jy staan deur die geloof. Moenie hoogmoedig wees nie, maar vrees. Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy miskien jou ook nie spaar nie. Let dan op die goedertierenheid en die gestrengheid van God: gestrengheid oor die wat geval het, maar goedertierenheid oor jou as jy in die goedertierenheid bly; anders sal jy ook afgekap word. Maar ook hulle sal, as hulle nie in die ongeloof bly nie, ingeënt word; want God is magtig om hulle weer in te ent. Want as jy afgekap is van die olyfboom wat van nature wild was, en teen die natuur op die mak olyfboom ingeënt kan word, hoeveel te meer kan hulle dan wat dit van nature is, op hul eie olyfboom ingeënt word? Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend; en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem. Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande ter wille van julle; maar wat die uitverkiesing betref, bemindes ter wille van die vaders. Want die genadegawes en die roeping van God is onberoulik. Want soos julle ook vroeër aan God ongehoorsaam was, maar nou barmhartigheid ontvang het deur hulle ongehoorsaamheid, so het hulle ook nou ongehoorsaam geword deur die barmhartigheid aan julle, sodat hulle ook barmhartigheid kan ontvang. Want God het hulle almal in die ongehoorsaamheid ingesluit om vir almal barmhartig te kan wees. O, DIEPTE van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

ROMEINE 11:1-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Het God dan nie tog sy volk verstoot nie?” sou iemand kon vra. Beslis nie! Ek is immers self ook 'n Israeliet, 'n afstammeling van Abraham, uit die stam Benjamin. God het sy volk, wat Hy lank tevore verkies het, nie verstoot nie. Of weet julle nie wat die Skrif sê van Elia nie, hoe hy by God oor Israel gekla het: “Here, hulle het u profete doodgemaak en u altare afgebreek, en net ek het oorgebly, en hulle wil my ook om die lewe bring.” Maar wat het God hom geantwoord? “Ek het vir My sewe duisend manne laat oorbly wat nie vir Baäl aanbid het nie.” Net so is dit ook vandag: daar is 'n oorblyfsel wat uit genade deur God uitverkies is. En as dit uit genade is, dan is dit nie uit verdienste nie, anders sou die genade nie meer genade wees nie. Waarop kom dit dan neer? Hierop: wat Israel soek, het hy nie gekry nie; die uitverkorenes het dit gekry. Die ander is verhard, soos daar geskrywe staan: “God het aan hulle 'n gees gegee wat hulle bedwelm het: oë wat nie sien nie en ore wat nie hoor nie, tot vandag toe nog.” En Dawid sê: “Mag hulle maaltye vir hulle 'n vangstrik en 'n val word en 'n struikelblok en 'n straf. Mag hulle oë verduister word dat hulle nie sien nie; en buig hulle rug vir altyd krom.” 'n Ander vraag is: Het Israel se struikeling hulle finale val beteken? Beslis nie! Maar deur hulle val het die redding na die heidennasies toe gekom om die Jode jaloers te maak. As hulle val 'n verryking vir die wêreld beteken het en hulle klein oorblyfseltjie 'n verryking vir die heidennasies, hoeveel te meer sal dit dan nie tot seën wees as die Jode se volle getal gelowig sou word nie! En nou praat ek met julle, gelowiges uit die heidennasies. As apostel vir die heidennasies is ek trots op my werk en strewe ek daarna om op een of ander manier my eie mense jaloers te maak en sommige van hulle te red. As hulle verwerping vir die wêreld versoening beteken het, wat sal hulle aanneming dan nie beteken nie? Niks minder nie as lewe uit die dood! As die eerste stuk deeg aan God gewy is, dan is ook die res van die deeg aan Hom gewy. En as die wortel van die boom aan God gewy is, dan is ook die takke aan Hom gewy. Party van die takke is uitgekap en jy, 'n wilde olyf, is tussen die ander takke op die mak olyf geënt. So het jy deel gekry aan die lewensap van die mak olyf se wortel. Moet jou dan nie bo die ander takke verhef nie! Moet jou ook nie verbeel jy is iets nie: dit is nie jy wat die wortel dra nie, die wortel dra jou. Jy sal wel sê: “Takke is uitgekap sodat ék daar geënt kon word.” Dis waar. Hulle is uitgekap omdat hulle nie geglo het nie; jy is daar geënt omdat jy glo. Moenie daaroor hoogmoedig wees nie; hou rekening met God; want as Hy die natuurlike takke nie ontsien het nie, sal Hy jou dalk ook nie ontsien nie. Let dan op die goedheid en strengheid van God: sy strengheid oor die afvalliges, en sy goedheid oor jou. Maar dan moet jy uit sy goedheid lewe, anders kan jy ook uitgekap word. En wat hulle betref, as hulle nie in hulle ongeloof volhard nie, sal hulle ook geënt word, want God is in staat om hulle terug te ent. As God jou uit die wilde olyf, waar jy van nature hoort, kon uitkap en teen jou natuur in op die mak olyf kon ent, hoeveel te meer sal Hy die mak takke op hulle ou boom ent. Ons staan hier voor 'n geheimenis, broers, en ek wil hê julle moet weet wat dit is, sodat julle nie te selfversekerd sal wees nie. Die verharding het oor 'n deel van Israel gekom en duur totdat die volle getal uit die heidennasies in die koninkryk ingegaan het; en op hierdie manier sal die hele Israel gered word. So staan daar geskrywe: “Uit Sion sal die Redder kom, en Hy sal die goddeloosheid van sy volk Jakob verwyder. En hierdie verbond sal Ek met hulle sluit wanneer Ek hulle sondes wegneem.” Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande van God, en dit kom julle ten goede, maar kragtens die uitverkiesing is hulle geliefdes om die aartsvaders se ontwil. As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie. Vroeër was julle heidene, ongehoorsaam aan God, maar noudat die Jode ongehoorsaam geword het, het God Hom oor julle ontferm. Net so gaan dit ook met die Jode: omdat God Hom oor julle ontferm het, het hulle nou ongehoorsaam geword. Maar dit gebeur sodat hulle self ook nou ontferming kan vind. God het almal aan die ongehoorsaamheid oorgegee, sodat Hy Hom oor almal kan ontferm. O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! “Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom 'n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?” Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.

ROMEINE 11:1-36 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

My vraag is dan: “Het God dalk sy volk verstoot?” Hoegenaamd nie! Ek is tog ook 'n Israeliet, uit die nageslag van Abraham, uit die stam van Benjamin. “God het nie sy volk verstoot” wat Hy reeds tevore gekies het nie. Of weet julle nie wat die Skrif oor Elia sê nie, hoe hy hom op God beroep het teen Israel? “Here, u profete het hulle doodgemaak, u altare het hulle afgebreek. Ek het alleen oorgebly, en hulle soek my lewe.” Maar wat is God se antwoord aan hom? “Ek het vir My seweduisend mans laat oorbly wat nie hulle knie voor Baäl gebuig het nie.” Net so is daar ook in die huidige tyd 'n oorblyfsel, deur genade uitgekies. Maar as dit uit genade is, is dit nie meer op grond van dade nie; want anders sou die genade nie meer genade wees nie. Waarop kom dit dan neer? Dat Israel dit wat hulle soek, nie gekry het nie. Maar die uitverkorenes het dit wel gekry. Die res is egter verhard, soos daar geskryf staan: “God het aan hulle 'n trae gees gegee, oë wat nie sien nie, en ore wat nie hoor nie, tot op die dag van vandag.” En Dawid sê: “Laat hulle etenstafel 'n valstrik en 'n vangnet word, 'n struikelblok en 'n vergelding vir hulle. Laat hulle oë verblind word, sodat hulle nie kan sien nie, laat hulle rûe vir altyd krom buig.” Ek vra verder: “Hulle het tog seker nie gestruikel, net sodat hulle tot 'n val sou kom nie?” Hoegenaamd nie! Inteendeel, deur hulle val het die verlossing na die nie-Jode gekom om hulle jaloers te maak. As hulle val 'n verryking van die wêreld meegebring het, en hulle tekort 'n verryking van die nie-Jode, hoeveel te meer hulle volle getal! Vir julle uit die nie-Jode sê ek: In soverre ek dan •apostel vir die nie-Jode is, strek dit my bediening tot eer, in die hoop dat ek dalk my eie mense jaloers kan maak, en 'n aantal van hulle tot verlossing kan bring. As hulle verwerping vir die wêreld versoening meegebring het, wat sal hulle aanneming nie beteken nie! Niks anders nie as lewe uit die dood! As die eerste stukkie deeg heilig is, dan is die hele baksel heilig. En as die wortel heilig is, dan ook die takke. En as 'n aantal van die takke van die mak olyfboom uitgebreek is, en jy, die wilde olyf, tussen die takke ingeënt is, en so aan die voedingskrag van die mak olyfboom se wortel deel gekry het, moet jy nie teenoor die ander takke spog nie. As jy wel spog – jy ondersteun nie die wortel nie, maar die wortel jou. Jy sal dan sê: Daar is takke uitgebreek sodat ék op die boom ingeënt kan word. Goed en wel. Dit is deur hulle ongeloof dat hulle uitgebreek is. Maar jy is daar deur jou geloof. Moenie hooghartig wees nie , maar wees vol ontsag. Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy jou dalk ook nie spaar nie. Sien daarom God se goedheid sowel as sy strengheid raak: sy strengheid oor hulle wat afvallig geword het, maar sy goedheid oor jou – mits jy in sy goedheid bly, want ook jy kan uitgekap word. En wat hulle betref, as hulle nie in hulle ongeloof volhard nie, sal ook hulle weer ingeënt word. God is magtig om hulle weer terug te kan ent. Want as jy uitgekap is uit wat van nature 'n wilde olyfboom was, en jy teen jou natuur op die mak olyf oorgeënt kon word, hoeveel te meer sal die natuurlike takke nie op hulle eie olyfboom teruggeënt kan word nie! Om te voorkom dat julle eiewys sal wees, broers, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees oor hierdie misterie nie: Daar het gedeeltelik 'n verharding oor Israel gekom, totdat die volle getal van die heidene ingekom het. Op hierdie manier sal die hele Israel verlos word. Soos daar geskryf staan: “Die Redder sal uit Sion kom, en Hy sal die goddeloosheid uit Jakob verwyder. En dit sal my verbond met hulle wees wanneer Ek hulle sondes wegneem. ” Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande om julle ontwil, maar wat die uitverkiesing betref, is hulle geliefdes om die voorvaders se ontwil. Die gawes en roeping van God is immers onherroeplik. Want net soos júlle voorheen aan God ongehoorsaam was, maar nou ontferming ontvang het weens húlle ongehoorsaamheid, so is ook hulle nou ongehoorsaam weens die ontferming wat julle ontvang het, sodat ook hulle nou self ontferming kan ontvang. God het almal onder die ongehoorsaamheid ingesluit, sodat Hy aan almal ontferming kan betoon. O, diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, en hoe onnaspeurbaar sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken? Of wie het as sy raadsman opgetree? Of wie het eers gawes aan Hom gegee, vir wie Hy dit sou moes vergoed? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom kom die heerlikheid vir ewig toe! •Amen.

ROMEINE 11:1-36 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Ek sê dan: Het God sy volk verstoot? Die Here behoed. Want ek is ook 'n Israeliet, uit die nageslag van Abraham, uit die stam van Benjamin. God het sy volk wat Hy vantevore geken het, nie verwerp nie. Weet julle nie wat die Skrif van Elia sê nie? hoe hy by God teen Israel intree deur te sê: Here, hulle het u profete gedood en u altare afgegrawe; en ek het alleen oorgebly, en hulle soek my lewe. Maar wat sê die antwoord van God aan hom? Ek het vir myself sewe duisend man gereserveer wat nie die knie voor die beeld van Baäl gebuig het nie. Net so is daar ook in hierdie huidige tyd 'n oorblyfsel volgens die uitverkiesing van genade. En as dit uit genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is genade geen genade meer nie. Maar as dit uit die werke is, dan is dit geen genade meer nie; anders is werk geen werk meer nie. Wat dan? Israel het nie verkry wat hy soek nie; maar die uitverkiesing het dit verkry, en die ander is verblind. Soos geskrywe is: God het hulle 'n gees van sluimering gegee, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe. Toe sê Dawid: Laat hulle tafel vir hulle 'n strik en 'n strik en 'n struikelblok en 'n vergelding word. Laat hulle oë verduister word, dat hulle nie kan sien nie, en buig hulle rug altyddeur. Ek sê dan: Het hulle gestruikel om te val? God verhoed dit, maar liewer deur hulle val het verlossing tot die heidene gekom om hulle tot ywer te verwek. En as hulle val die rykdom van die wêreld is, en die vermindering van hulle die rykdom van die heidene; hoeveel te meer hulle volheid? Want Ek spreek tot julle heidene, in soverre Ek die apostel van die heidene is, verheerlik Ek my amp: As ek die wat my vlees is, op enige manier tot navolging kan uitlok en sommige van hulle kan red. Want as die verwerping van hulle die versoening van die wêreld is, wat sal die ontvangs van hulle wees as lewe uit die dode? Want as die eersteling heilig is, is die deeg ook heilig; en as die wortel heilig is, dan is die takke ook. En as sommige van die takke afgebreek word, en jy, wat 'n wilde olyfboom was, tussen hulle ingeënt is en saam met hulle deel het aan die wortel en vet van die olyfboom; Roem nie teen die takke nie. Maar as jy roem, dra jy nie die wortel nie, maar die wortel vir jou. Dan sal jy sê: Die takke is afgebreek, sodat ek ingeënt kan word. Wel; vanweë ongeloof is hulle afgebreek, en jy staan deur die geloof. Wees nie hoogmoedig nie, maar vrees: Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, pas op dat Hy jou ook nie spaar nie. Kyk dan na die goedheid en gestrengheid van God: gestrengheid oor die wat geval het; maar oor jou, goedheid, as jy in sy goedheid bly; anders sal jy ook uitgeroei word. En ook hulle, as hulle nie in die ongeloof bly nie, sal ingeënt word, want God is magtig om hulle weer in te ent. Want as jy uit die olyfboom uitgekap is wat van nature wild is, en teen die natuur in 'n goeie olyfboom geënt is, hoeveel te meer sal hierdie, wat die natuurlike takke is, op hul eie olyfboom geënt word? Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid onkundig moet wees nie, sodat julle nie in jul eie voorstellings wys word nie; dat blindheid ten dele met Israel gebeur het, totdat die volheid van die heidene ingegaan het. En so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en die goddeloosheid van Jakob afwend. Want dit is my verbond met hulle, wanneer Ek hulle sondes sal wegneem. Wat die evangelie betref, hulle is vyande ter wille van julle, maar wat die uitverkiesing betref, is hulle beminde ter wille van die vaders. Want die gawes en roeping van God is onberoulik. Want soos julle in die verlede God nie geglo het nie, maar nou barmhartigheid verkry het deur hulle ongeloof. So het hulle ook nou nie geglo nie, sodat hulle ook deur u barmhartigheid barmhartigheid kan verkry. Want God het hulle almal in ongeloof gesluit, sodat Hy Hom oor almal kan ontferm. O die diepte van die rykdom van die wysheid en kennis van God! hoe ondeurgrondelik is sy oordele, en hoe ondeurgrondelik is sy weë! Want wie het die gedagtes van die Here geken? of wie was sy raadgewer? Of wie het eers aan hom gegee, en dit sal hom weer vergeld word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge; aan wie die heerlikheid toekom tot in ewigheid. Amen.

ROMEINE 11:1-36 Die Boodskap (DB)

Het God Israel afgeskryf? Nee, glad nie. Ek self is die bewys dat dit nie waar is nie. Ek is immers ook ’n Israeliet, ’n lid van Abraham se nageslag, uit die stam van Benjamin. Maar die belangrikste bewys dat God nie sy rug vir Israel gedraai het nie, is Hy self. Hy het Hom lank gelede aan Israel bekendgemaak. En Hy is nog heeltyd by hulle. Onthou julle die keer toe Elia oor hierdie einste Israeliete by God gaan kla het? “Here, hulle het u profete doodgemaak. Hulle het u altare onder hulle voete vertrap. Ek het alleen oorgebly. Nou is hulle ook agter my bloed aan, hulle wil my doodmaak.” Julle onthou nog wat God se antwoord aan Elia was: “Ek het 7 000 mans vir My oorgehou. Hulle dien My. Hulle sal nie daardie heidense afgod, Baäl, aanbid nie.” Tot vandag toe is hierdie woorde waar. Daar is nou nog ’n klein groepie Israeliete wat in God glo. God self het hulle uitgekies om in Hom te glo. Hy het dit nie gedoen omdat hierdie mense so goed leef nie, maar omdat Hy so ’n genadige God is. Hy red mense sonder dat hulle dit verdien. As mense hulle redding moes verdien, sou God mos nie meer ’n genadige God wees nie. Wat het dan met die res van Israel skeefgeloop? Wel, hulle het op die verkeerde manier by God probeer uitkom. Slegs die klein groepie wat deur God uitgekies is, het bly glo. Al die ander se harte is kliphard gemaak. Dit gaan met hulle presies soos die Bybel sê: “God het hierdie spul oorgegee aan ’n diep slaap. Daarom sien hulle glad nie meer nie, en hulle hoor ook nie. Dit gaan tot vandag toe nog so.” Dawid sê dieselfde in een van die psalms: “Mag hulle feesmaaltye hulle dodelik siek maak. Mag hulle in ’n lokval gelei word en in groot moeilikheid beland. Mag hulle blind word sodat hulle niks kan sien nie. Mag hulle vir altyd krom loop van die pyn.” Is Israel se kans by God vir altyd verby? Beteken hulle val die einde van God se pad met hulle? Nee, natuurlik nie. Ironies genoeg het Israel se val vir ander volke die kans gebied om God se redding te smaak. Dit moet Israel sommer groen van jaloesie maak. As hulle sien hoe mense uit ander volke nou God se goedheid geniet, moet hulle hulle begin afvra of hulle nie die ware lewe misloop nie. As Israel se ongeloof bygedra het tot ’n wêreldwye bekering van mense uit ander volke, en as hulle val die res van die wêreld verryk het, dink net wat dit vir die wêreld sal beteken as al die Israeliete tot bekering moet kom. Maar wag, ek wil nou spesifiek met diegene onder julle praat wat nie Israeliete is nie. Ek is immers deur God aangestel as ’n apostel om die goeie nuus aan mense buite Israel te vertel. En wat ’n wonderlike bediening is dit nie! Ek doen dit met groot oorgawe in die hoop dat ek dalk my eie volk, die Jode, jaloers kan maak. Miskien kom ’n paar van hulle tot bekering as hulle sien hoe God se genade mense wat nie aan Israel behoort nie se lewe verander. As God se verwerping van Israel daartoe gelei het dat die res van die wêreld met Hom versoen geraak het, dink net wat hulle terugkeer na God toe sal beteken: niks minder nie as die ewige lewe self! Weet julle, as hierdie eerste offers vir God aanvaarbaar is, moet die res van die offer ook mos vir Hom aanvaarbaar wees. En as die wortel van die boom aan God gewy is, is die res van die boom ook mos Syne. Israel is soos die takke van ’n olyfboom wat stewig in die grond geanker is. Maar party van hierdie olyfboom se takke is intussen afgebreek. Dit is al daardie Israeliete wat nie na God wou luister nie. In hulle plek is jy wat nie ’n Israeliet is nie soos ’n wildeolyf tussen die takke van die olyfboom ingeënt. Op dié manier kon jy deel in die wortel se lewenskrag. God se genade en sy liefde het ook na jou toe gevloei. Jy moet egter nie nou dink dat jy beter as die ander takke is nie. Dis regtig nie jý wat die boom met wortel en al dra nie. Nee, dit is die wortel, God se genade wat van Abraham se tyd af deur die olyfboom vloei, wat jou ook dra. As dit nie daarvoor was nie, het jy ook nie geglo nie. Miskien sal jy sê: “’n Klompie takke is afgebreek om vir my plek te maak.” Goed. Jy’s reg. Hulle is uitgekap omdat hulle nie geglo het nie, en jy is in die olyfboom ingeplant omdat jy glo. Maar dit moet jou juis nederig maak. Jy moet groot eerbied vir God hê. Onthou: God het nie gehuiwer om daardie ongelowige Israeliete uit te kap nie. Dink jy Hy sal anders met jou maak as jy nie na Hom luister nie? God is streng. Maar Hy is ook vol liefde. Hy tree streng op teenoor dooie lote, teenoor mense wat nie na Hom luister nie. Maar Hy tree vol liefde op teenoor lewende lote, teenoor mense soos jy wat elke dag uit sy goedheid leef. Jy mag egter nie God se goedheid as vanselfsprekend aanvaar nie. Dan kap Hy jou op ’n dag ook uit. In God se olyfboom is daar nie plek vir dooie lote wat nie doen wat Hy sê nie. Daar is tog goeie nuus vir die dooie lote, vir Israeliete wat nie in Christus glo nie. As hulle tot bekering kom, sal hulle dadelik weer in die olyfboom ingeënt word. God het die krag om dit te doen. Hy alleen kan dooie lote weer laat leef. Immers, as God vir jou wat ’n wildeolyftak is, so suksesvol op sy olyfboom kon inent, is dit mos geen probleem vir Hom om daardie olyftakke wat afgebreek is ook weer op die olyfboom in te ent nie. My broers en susters, ek wil hê dat julle goed moet begryp hoe God se plan werk. As julle verkeerd oor Israel oordeel, dink julle kort voor lank dat julle belangriker as hulle is. Daarom wil ek nou ’n paar van God se geheime met julle deel. Wel, julle weet dat baie Israeliete se harte kliphard is, want hulle weier om in God te glo. Maar dit sal ophou wanneer al God se uitverkorenes uit ander volke tot bekering gekom het. Op hierdie manier sal die ganse Israel, alle ware Israeliete, na God toe terugkeer. Dit is soos daar geskryf staan: “Die Redder kom van die berg Sion af. Hy sal Jakob se goddeloosheid verwyder. Dit is my ooreenkoms met hulle: Ek sal hulle sondes vergewe.” Baie Israeliete is vyande van die evangelie. Dit het natuurlik aan julle wat nie Jode is nie die kans gebied om in Jesus te glo. Maar aan die ander kant is hulle nog steeds God se vriende omdat Hy hulle uitgekies het. God bly immers getrou aan sy beloftes aan hulle voorvaders. Hy gaan nooit terug op sy woord nie. Vroeër was julle ook ongehoorsaam aan God. Nou glo julle egter omdat God julle jammer gekry het. Dit het gebeur omdat die Jode die deur van God se genade toegeklap het. In reaksie daarop het God toe aan julle die kans gegee om in Hom te glo. Nou staan die Jode ook voor ’n toe deur. Omdat God julle jammer gekry het, staan hulle nou buite. Dit het egter gebeur sodat hulle ook nou God se ontferming kan beleef. God het ons almal laat voel hoe verskriklik dit is om ver van Hom af te leef. Ons almal is aan die mag van die sonde oorgegee sodat ons kan ervaar hoe wonderlik dit is wanneer God sy genade aan ons almal bewys. Niemand in die hemel of op die aarde het soveel wysheid en insig soos God nie. Wie kan dit waag om God se oordeel te bevraagteken? Wie is in staat om sy optrede te verklaar? Wie ken God se planne? Is daar iemand wat vir Hom kan voorskryf wat om te doen? Is daar iemand wat vir God ’n guns bewys het, sodat Hy iets aan hom moet terugdoen? Van God af kom alles wat bestaan. Hy hou alles in stand. Alles is daar om sy Naam groot te maak. Vir altyd. Ja en amen!

ROMEINE 11:1-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

My volgende vraag sou wees: Dit beteken tog seker nie dat God sy volk, die Jode, verstoot het nie? Natuurlik nie! Ek is mos ook ’n Israeliet, uit die nageslag van Abraham, uit die stam van Benjamin. Nee, God het nie sy volk verstoot wat Hy van die begin af uitverkies het nie. Onthou julle nie wat die Skrif sê in die gedeelte oor Elia nie? Hoe hy hom teen Israel op God beroep het: “HERE, hulle het u profete doodgemaak en hulle het u altare afgebreek. Ek het alleen agtergebly en nou probeer hulle my ook doodmaak.” En onthou julle God se antwoord? Sy woorde was: “Jy is nie die enigste een wat oorbly nie. Ek het vir My 7 000 ander mense laat oorbly wat nog nooit voor Baäl gekniel het nie.” So is dit ook vandag nog. Daar het ’n klein groepie oorgebly wat God in sy genade uitverkies het. En as dit uit genade is, dan was dit sekerlik nie op grond van hulle goeie dade nie – anders sou die genade nie meer werklik genade wees, dit wil sê dit wat ons teen alle verdienste in van God ontvang nie. Dit alles kom daarop neer dat Israel nie die vryspraak gekry het waarna hulle deur nakoming van die wet gesoek het nie. Die klein groepie wat God vir Hom laat oorbly het, het dit egter wel gekry. Die meerderheid is egter innerlik verhard. Soos die Skrif tereg sê: “God het ’n innerlike verdwasing oor hulle laat kom: hulle oë sien nie wat hulle behoort te sien nie; hulle ore hoor nie wat hulle behoort te hoor nie. So is dit tot vandag toe.” En Dawid het hieroor die volgende gesê: “Mag hulle feesmaaltye vir hulle ’n gevaarlike valstrik word, ’n struikelblok en ’n straf. Laat hulle oë verblind word, sodat hulle nie kan sien nie en hulle rûe deurentyd kromtrek.” Ek sou verder kon vra: Israel se struikeling beteken tog seker nie dat hulle tot ’n finale val gekom het nie? Sekerlik nie! God se plan was om deur Israel se val die verlossing vir die nie-Joodse nasies beskikbaar te maak sodat hulle weer op hulle beurt vir Israel jaloers kan maak. As die wêreld dan deur die val van die Jode verryk is en die nie-Joodse nasies ryk gemaak is deurdat Israel tot ’n oorblyfsel gereduseer is, dink net wat sal gebeur as die meerderheid Jode die Goeie Nuus sou aanneem! Ek sê al hierdie dinge veral vir dié van julle wat uit die nie-Joodse nasies afkomstig is. As apostel onder die nie-Joodse nasies gee ek my allerbeste vir my bediening in die hoop dat ek my eie mense jaloers sal maak en sommige van hulle verlos sal word. Want as die Jode se verwerping meegebring het dat God vir die hele wêreld die herstel van hulle verhouding met Hom aanbied, hoeveel wonderliker sal die Jode se aanneming nie wees nie! Dit sal niks minder nie as lewe uit die dood beteken! As die eerste stukkie deeg aan God geoffer word, beteken dit dat die hele baksel eintlik aan Hom behoort. Net so, as die wortels van die boom aan God gewy is, sal die takke ook aan Hom behoort. Party van die takke van hierdie boom – van die Joodse takke – is uitgekap en jy, die wilde olyf, is op die mak boom geënt. So deel jy ook nou in die lewensap wat van die mak olyf se onderstam af opstoot. Maar oppas om jou bors hieroor uit te stoot. Dit is immers nie jy wat die onderstam dra nie, maar juis andersom. Jy kan dalk sê: “Die takke is uitgekap sodat ek geënt kan word.” Toegegee – hulle is egter as gevolg van hulle ongeloof uitgekap terwyl jy nou daar is omdat jy glo. Moenie dink jy is wonderlik nie, maar wees liewer baie klein voor God. Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, kan Hy jou dalk ook nie spaar nie. Neem in ag dat God vol goedheid, maar terselfdertyd ook streng is. Hy is streng teenoor hulle wat van Hom weggedwaal het, maar vol goedheid teenoor jou – mits jy op sy goedheid bly staatmaak. Anders kan jy ook afgesny word. En as die Jode nie volhard in hulle ongeloof nie, sal God hulle weer op die olyfboom terug-ent. Hy besit die mag om dit te kan doen. Want as God bereid was om julle, wat van nature takke van die wilde olyf was, af te sny en julle op die mak olyf oor te ent – wat ’n baie ongewone ding was om te doen – hoeveel eerder sal Hy nie die Jode wil terug-ent op die boom waar hulle hoort nie! Ek wil graag aan julle ’n geheim vertel, broers en susters, wat God aan my bekendgemaak het. Ek doen dit om te voorkom dat julle te slim in julle eie oë word. Dit gaan daaroor dat die verharding net vir ’n beperkte tyd oor Israel gekom het totdat die volle getal uit die nie-Joodse nasies onder die koningsheerskappy van God gekom het. En so sal die hele Israel verlos word. Daar staan mos in die Skrif: “’n Redder sal uit Jerusalem kom, en Hy sal Israel se goddeloosheid van hom verwyder. En dan sal Ek hierdie verbond met hulle sluit wanneer Ek hulle sondes wegneem.” Hulle is op die oomblik wel vyande van die Goeie Nuus, maar dit kom julle ten goede omdat God sy gawes nou aan julle geskenk het. Tog is hulle, wat God se uitverkiesing betref, nog steeds geliefdes van God – Hy het immers sy beloftes aan die aartsvaders gegee en sy gawes en roeping staan onherroeplik vas. Voorheen was julle aan God ongehoorsaam, maar as gevolg van die ongehoorsaamheid van die Jode het julle in die huidige tyd ontferming ontvang. Net so sal die ongehoorsaamheid van sommige van julle aan God se ontferming weer daartoe lei dat die Jode opnuut ontferming sal ontvang. God sluit alle nasies in die ongehoorsaamheid in sodat Hy Hom oor almal kan ontferm. Hoe ongelooflik wonderlik is God nie – hoe ontsaglik ryk en wys en vol kennis is Hy nie! Sy beslissings gaan ons begrip te bowe; sy manier van doen kan ons nie deurvors nie. Wie van ons kan regtig verstaan hoe God dink? Of wie sou as sy raadgewer kon optree? Of wie sou ooit aan Hom ’n guns kon bewys vir wie Hy dit sou moes vergoed? Hy is die bron van alles. Alles bestaan deur sy krag, en alles is op Hom gerig. Aan Hom behoort die heerlikheid vir altyd en altyd. Amen.