ROMEINE 1:24-32

ROMEINE 1:24-32 Bybel vir almal (ABA)

Daarom los God hulle sodat hulle die slegte dinge kan doen wat hulle graag wil doen, dinge wat wys dat hulle nie mekaar se liggame respekteer nie. Hulle glo nie die waarheid van God nie, hulle kies om hulle eie leuens te glo. God het alles gemaak, maar hulle aanbid en dien die dinge wat Hy gemaak het, hulle aanbid nie vir God nie, God vir wie almal altyd moet prys. Amen. Daarom los God hulle om die onsedelike dinge te doen wat hulle graag wil doen. Hulle vroue het seks met ander vroue, maar dit is iets wat mense nie mag doen nie. Die mans doen ook verkeerd. Mans het gewoonlik seks met vroue, maar party mans doen dit nie. Hulle wil baie graag seks hê met ander mans, en dan doen hulle dinge met mekaar waaroor mense skaam moet wees. Dit is verkeerd, en daarom straf God hulle, Hy los hulle sodat hulle kan aanhou om hierdie slegte dinge te doen. Hulle wil nie vir God ken en Hom dien nie. Daarom los God hulle sodat hulle slegte dinge kan dink en dinge kan doen wat mense nie moet doen nie. Hulle doen baie verskillende verkeerde dinge. Hulle is sleg, hulle wil alles hê wat hulle sien en hulle doen graag slegte dinge. Hulle is jaloers, hulle maak ander mense dood, hulle stry met mekaar, hulle bedrieg mekaar en hulle hou daarvan om slegte dinge te doen. Hulle skinder, hulle sê slegte dinge van ander mense. Hulle haat God, hulle is hoogmoedig, hulle dink hulle is baie goed en hulle hou daarvan om te spog. Hulle dink altyd aan nuwe slegte dinge om te doen. Hulle luister nie vir hulle ouers nie. Hulle doen dom dinge, 'n mens kan hulle nie vertrou nie, hulle is nie lief vir ander mense nie, hulle is vir niemand jammer nie. Hulle weet dat God se wette sê Hy sal mense straf as hulle daardie verkeerde dinge doen, Hy sal hulle laat sterf. Maar hulle hou aan om die verkeerde dinge te doen en hulle sê ook dit is goed wanneer ander mense daardie dinge doen.

ROMEINE 1:24-32 Die Boodskap (DB)

God laat egter nie toe dat mense sy groot Naam deur die modder sleep nie. Daarom het Hy besluit om hierdie mense te straf deur hulle aan hulle eie lot oor te laat. Nou leef hulle al hulle sondige begeertes na hartelus uit. Die gevolg: hulle het erger as ’n klomp varke geword omdat hulle meedoen aan elke denkbare vorm van seksuele losbandigheid. En dit net omdat hulle die waarheid verruil het vir ’n spul leuens. In plaas daarvan dat hulle voor die Skepper buig, verkies hulle om voor hulle eie handewerk te buig. Dit is ’n groot fout. Daar is immers maar net een God wat tot in alle ewigheid aanbid moet word. God het al hierdie sondaars oorgegee aan hulle siek begeertes. Daarom het vroue begin om die normale seksuele gemeenskap met mans te verruil vir abnormale seksuele gemeenskap met ander vroue. Die mans het presies dieselfde gedoen. Hulle het ook hulle normale seksuele gemeenskap met vroue laat staan omdat hulle vreemde seksuele gemeenskap met ander mans wou hê. As gevolg daarvan het hulle allerhande skandelike dade met mekaar begin pleeg. Maar hulle het ’n baie duur prys daarvoor betaal. God het hulle gestraf deur hulle aan hulleself oor te laat. Omdat hierdie mense glad nie daarin belangstel om God op die regte manier te ken nie, het Hy toegelaat dat hulle kan dink net wat hulle wil en doen wat hulle wil. Daarom is hulle hele lewe nou een groot deurmekaarspul. Hulle neem deel aan elke denkbare vorm van goddeloosheid. Hierdie mense is propvol boosheid, seksuele wellus, geldgierigheid en slegtheid. Hulle harte loop oor van slegte dinge soos jaloesie, moord, twis, bedrog, kwaadpratery en ’n geskinder. Hulle steek mekaar in die rug en hulle haat God. Boonop dink hulle heeltemal te veel van hulleself. Hulle praat groot. Elke dag dink hulle ’n spul nuwe sondes uit. Hulle haat hulle ouers. Hulle is ongehoorsaam en dom. Ja, hierdie heidene is ’n spul gevoellose wesens wat net mooi niks vir ander mense omgee nie. Natuurlik weet hulle hoe God wil hê hulle moet leef. En hulle weet ook dat die doderyk op hulle wag. Tog hou hulle aan met al hulle booshede. En asof dit nie erg genoeg is nie, moedig hulle ander mense aan om hulle slegte voorbeeld te volg.

ROMEINE 1:24-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Om hierdie rede het God hulle aan hulle eie sondige hartstogte oorgegee, met die gevolg dat hulle onsedelikheid begin bedryf het deur oor en weer immorele praktyke met mekaar se liggame te beoefen. Hulle het immers so ver gegaan om die ware kennis van God te verkwansel vir die leuen en God se handewerk te vereer en te dien in plaas van die Skepper self – dié God wat vir ewig geprys behoort te word. Amen! Dit is daarom dat God hulle oorgegee het aan hulle eie skandelike drifte. Selfs die vroue het die natuurlike seksuele verkeer verruil vir wat teen die natuur is, naamlik dié met ander vroue. Op dieselfde manier het die mans die natuurlike manier om seksueel te verkeer prysgegee en ’n brandende begeerte na mekaar begin koester. Mans het skandelike dade met mekaar bedryf. Gevolglik moes hulle in hulle eie persoon die duur prys vir hulle perversiteit betaal. Inderdaad, omdat hulle geweier het om aan God die erkenning te gee wat Hy verdien, het Hy hulle oorgegee aan hulle skewe ingesteldheid. Gevolglik doen hulle allerlei onbehoorlike dinge. Hulle lewe word gekenmerk deur elke vorm van ongeregtigheid, boosheid, grypsug, kwaadwilligheid; hulle is vol jaloesie, moord, twisgierigheid, skelmstreke, slegte bedoelings en skinderpraatjies. Hulle stook kwaad, haat God en is arrogant, hooghartig en verwaand; hulle is vindingryk om slegte dinge te bedink en ongehoorsaam aan hulle ouers; jy kan nie met hulle redeneer nie en ook nie op hulle reken nie; hulle is liefdeloos en sonder ontferming vir ander mense. Hulle is bewus van God se bepaling dat mense wat met sulke praktyke besig is, die dood verdien. Tog is hulle nie net self aktief daarmee besig nie; hulle spoor ook nog ander aan wat daarmee besig is.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid