ROMEINE 1:2-7 - Compare All Versions

ROMEINE 1:2-7 ABA (Bybel vir almal)

God het lank gelede vir die profete gesê hulle moet in die Ou Testament skryf dat Hy vir die mense die goeie boodskap belowe, die goeie boodskap oor sy Seun. Die Seun het mens geword, en Hy was van die nageslag van Dawid. Die Seun het gesterf, maar God het Hom weer laat lewe. Daarom het die Heilige Gees gesê Christus is die Seun van God wat alles kan doen. Ja, Hy is Jesus Christus ons Here. Christus was baie goed vir my en Hy het my gekies en aangestel om 'n apostel te wees. Ek moet vir al die heidene van Hom vertel, sodat hulle in Hom kan glo en gehoorsaam kan wees aan Hom. Dan sal almal weet wie Christus is. Julle glo ook in Jesus Christus. Hy het ook vir julle gekies om aan Hom te behoort. Ek skryf hierdie brief vir julle almal wat in die stad Rome is. God is lief vir julle, Hy het julle gekies om aan Hom te behoort. Ek bid dat God ons Vader en die Here Jesus Christus genadig sal wees vir julle en dat Hy vir julle vrede sal gee.

ROMEINE 1:2-7 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

wat Hy tevore beloof het deur sy profete in die heilige Skrifte, aangaande sy Seun wat gebore is na die vlees uit die geslag van Dawid en na die Gees van heiligheid met krag verklaar is as die Seun van God deur die opstanding uit die dode, Jesus Christus, onse Here, deur wie ons genade en die apostelskap ontvang het om geloofsgehoorsaamheid te verkry onder al die heidene ter wille van sy Naam, onder wie julle ook is, geroepenes van Jesus Christus — aan al die geliefdes van God, geroepe heiliges wat in Rome is: Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus!

ROMEINE 1:2-7 AFR83 (Afrikaans 1983)

Hierdie evangelie het Hy vooruit deur sy profete in die Heilige Skrif aangekondig, en dit handel oor sy Seun. As mens is Hy uit die geslag van Dawid gebore; op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here. Deur Hom het ek die genade ontvang om apostel te wees onder al die heidennasies, om tot eer van sy Naam mense tot geloof en so tot gehoorsaamheid te bring. Julle is hierby inbegrepe; ook julle is geroep om aan Jesus Christus te behoort. Aan almal in Rome vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

ROMEINE 1:2-7 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

wat Hy reeds tevore deur sy profete in die heilige Skrifte beloof het aangaande sy Seun – wat na die liggaam uit die nageslag van Dawid gebore is, wat na die Gees van heiligheid op grond van sy opstanding uit die dood kragtig aangedui is as die •Seun van God – Jesus Christus, ons Here, deur wie ek die genade van my apostelskap ontvang het om tot eer van sy Naam mense uit al die heidenvolke tot geloofsgehoorsaamheid te bring, onder wie julle ook is, julle wat deur Jesus Christus geroep is – aan al die geliefdes van God wat in Rome is, geroepe heiliges: Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus.

ROMEINE 1:2-7 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

(Wat Hy vooraf deur sy profete in die Heilige Skrifte beloof het) aangaande sy Seun, Jesus Christus, onse Here, wat na die vlees gemaak is uit die geslag van Dawid; en met krag verklaar is dat hy die Seun van God is, volgens die gees van heiligheid, deur die opstanding uit die dode: Deur wie ons genade en apostelskap ontvang het, tot geloofsgehoorsaamheid onder al die nasies, ter wille van sy Naam. Onder wie is julle ook die geroepees van Jesus Christus: Aan almal wat in Rome is, geliefdes van God, geroep om heiliges te wees: Genade vir julle en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus.

ROMEINE 1:2-7 DB (Die Boodskap)

Hierdie goeie nuus is al lankal deur God se boodskappers in die Bybel neergeskryf. Dit handel oor God se Seun, Jesus Christus. Hy is ons Here. Hy kom uit die nageslag van Dawid. Toe Jesus na sy kruisiging uit die dood opgestaan het, het die Heilige Gees aan Hom die heel belangrikste posisie in die hemel gegee. Hy is daar in die hemel triomfantlik as die Seun van God aangewys. Daarom besit Hy nou al die mag in die hemel en op die aarde. Jesus was baie goed vir my. Hy het my aangestel as sy apostel. Ek moet vir mense uit alle volke van Hom vertel. Ek sê vir hulle om in Hom te glo en om te doen wat Hy sê. Julle tel onder die gelukkiges wat hierdie goeie nuus glo. Christus het julle ook geroep om in Hom te glo. Ek skryf hierdie brief aan julle almal in Rome. God het julle baie lief. Hy het julle eenkant gesit vir Homself sodat julle Hom voltyds kan dien. Die goedheid en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus is by julle.

ROMEINE 1:2-7 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Hierdie Goeie Nuus het Hy reeds lank gelede deur sy profete in die Skrif beloof. Dit gaan oor sy Seun, Jesus Christus. Wat sy menslikheid betref, is Hy uit die nageslag van Dawid gebore. Wat sy heilige Goddelikheid betref – sy opstanding uit die dood het kragdadig bevestig dat Hy die Seun van God is. Wat meer is, Hy is ook ons Here! Dit is hierdie Here wat aan my die onverdiende voorreg gegee het om sy apostel te wees en die Goeie Nuus aan al die nie-Joodse nasies te bring sodat hulle kan glo en God kan gehoorsaam, en Hy op hierdie manier verheerlik kan word. Julle maak ook deel uit van daardie nie-Joodse nasies – julle almal wat geroep is om aan Jesus Christus te behoort. Ek skryf aan julle almal in Rome – julle vir wie God liefhet en vir wie Hy geroep het om sý mense te wees. Mag die genade en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus met julle wees.