ROMEINE 1:18-32

ROMEINE 1:18-32 Bybel vir almal (ABA)

God wat in die hemel woon, straf al die mense wat Hom nie dien nie. Almal kan sien dat Hy hulle straf. Hy straf hulle omdat hulle baie verkeerde dinge doen, so baie verkeerde dinge dat nie een van hulle weet wat die waarheid is nie. Hulle weet die dinge wat mense van God kan weet, want God het dit vir hulle gewys. Mense sien van die begin af alles wat God gemaak het. Hulle kan nie vir God sien nie, maar hulle kan verstaan dat Hy altyd sterk is en dat Hy God is. Hulle kan dit weet omdat hulle sien wat Hy gedoen het. Daarom kan hulle nie sê dat hulle dit nie weet nie. Hulle ken God, maar hulle respekteer Hom nie en hulle sê nooit vir Hom dankie nie. Hulle is dom, hulle doen nie wat God wil hê nie. Hulle verstaan niks, hulle is soos mense wat in die donker lewe. Hulle dink hulle is slim, maar hulle doen nie wat God wil hê nie. God is Koning, Hy kan nooit sterf nie, maar hulle dien Hom nie. Hulle kies om afgode te dien, beelde wat lyk soos mense, mense wat sterf, of beelde wat lyk soos voëls of diere of slange. Daarom los God hulle sodat hulle die slegte dinge kan doen wat hulle graag wil doen, dinge wat wys dat hulle nie mekaar se liggame respekteer nie. Hulle glo nie die waarheid van God nie, hulle kies om hulle eie leuens te glo. God het alles gemaak, maar hulle aanbid en dien die dinge wat Hy gemaak het, hulle aanbid nie vir God nie, God vir wie almal altyd moet prys. Amen. Daarom los God hulle om die onsedelike dinge te doen wat hulle graag wil doen. Hulle vroue het seks met ander vroue, maar dit is iets wat mense nie mag doen nie. Die mans doen ook verkeerd. Mans het gewoonlik seks met vroue, maar party mans doen dit nie. Hulle wil baie graag seks hê met ander mans, en dan doen hulle dinge met mekaar waaroor mense skaam moet wees. Dit is verkeerd, en daarom straf God hulle, Hy los hulle sodat hulle kan aanhou om hierdie slegte dinge te doen. Hulle wil nie vir God ken en Hom dien nie. Daarom los God hulle sodat hulle slegte dinge kan dink en dinge kan doen wat mense nie moet doen nie. Hulle doen baie verskillende verkeerde dinge. Hulle is sleg, hulle wil alles hê wat hulle sien en hulle doen graag slegte dinge. Hulle is jaloers, hulle maak ander mense dood, hulle stry met mekaar, hulle bedrieg mekaar en hulle hou daarvan om slegte dinge te doen. Hulle skinder, hulle sê slegte dinge van ander mense. Hulle haat God, hulle is hoogmoedig, hulle dink hulle is baie goed en hulle hou daarvan om te spog. Hulle dink altyd aan nuwe slegte dinge om te doen. Hulle luister nie vir hulle ouers nie. Hulle doen dom dinge, 'n mens kan hulle nie vertrou nie, hulle is nie lief vir ander mense nie, hulle is vir niemand jammer nie. Hulle weet dat God se wette sê Hy sal mense straf as hulle daardie verkeerde dinge doen, Hy sal hulle laat sterf. Maar hulle hou aan om die verkeerde dinge te doen en hulle sê ook dit is goed wanneer ander mense daardie dinge doen.

ROMEINE 1:18-32 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

WANT die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van 'n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer — hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen. Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang. En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan 'n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie: hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug; vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid; nuusdraers, kwaadsprekers, haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters, uitvinders van slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers; onverstandig, ontrou, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig, mense wat — al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien — dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.

ROMEINE 1:18-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk. Wat 'n mens van God kan weet, was immers binne hulle bereik, want God het dit binne hulle bereik gebring. Van die skepping van die wêreld af kan 'n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat 'n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie, omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie. Met hulle redenasies bereik hulle niks nie, en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister. Hulle gee voor dat hulle verstandig is, maar hulle is dwaas. In die plek van die heerlikheid van die onverganklike God stel hulle beelde wat lyk soos 'n verganklike mens of soos voëls of diere of slange. Daarom gee God hulle aan die drange van hulle hart oor en aan sedelike onreinheid, sodat hulle hulle liggame onder mekaar onteer. Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig. Amen. Daarom gee God hulle oor aan skandelike drifte. Hulle vroue verander die natuurlike omgang in 'n teen-natuurlike omgang. Net so laat vaar die mans ook die natuurlike omgang met die vrou en brand van begeerte vir mekaar. Mans pleeg skandelikhede met mans en bring oor hulleself die verdiende straf vir hulle perversiteit. En omdat hulle dit van geen belang ag om God te ken nie, gee Hy hulle oor aan hulle verdraaide opvattings, sodat hulle doen wat onbetaamlik is. Hulle is een en al ongeregtigheid, slegtheid, hebsug en gemeenheid; hulle is vol jaloesie, moord, twis, bedrog en kwaadwilligheid. Hulle skinder en praat kwaad; hulle haat God, hulle is hooghartig, aanmatigend, verwaand; hulle is mense wat kwaad uitdink, ongehoorsaam aan hulle ouers; hulle is onverstandig, onbetroubaar, liefdeloos, hardvogtig. Hulle is mense wat die verordening van God ken dat dié wat sulke dinge doen, die dood verdien, en tog doen hulle nie net self hierdie dinge nie, maar hulle vind dit ook goed as ander dit doen.

ROMEINE 1:18-32 Die Boodskap (DB)

Uit sy hemelse woonplek wys God dat Hy baie kwaad is oor al die sondige dinge wat die mense hier op die aarde aanvang. Hulle verruil die waarheid vir leuens. Dis ’n groot fout, want God het alles wat hulle oor Hom behoort te weet binne hulle bereik geplaas. Van die begin van die skepping af het God Hom baie duidelik aan ons bekendgemaak. Alhoewel niemand van ons God met die blote oog kan sien nie, het Hy sy groot krag oral in die skepping aan ons kom wys. Sy handewerk wys dat Hy die enigste ware God is. Daarom het die mense geen verskoning nie. Hulle weet baie goed wie God is. Hulle weier egter om Hom te aanbid of Hom te dank vir al die goedheid wat Hy aan ons bewys. Daarom dat hulle soos ’n spul dwase optree. Hulle hele lewe is een stuk donkerte. Tog maak hulle asof hulle verskriklik slim is, al is hulle eintlik dom en sonder insig. Hierdie mense het selfs so ver gegaan om hulle eie gode te maak. Hulle het die voorreg om die ewige God te ken gaan staan en verruil vir ’n spul handgemaakte gode. Nou buig hulle voor dié lewelose afbeeldings van mense, voëls, diere en reptiele. God laat egter nie toe dat mense sy groot Naam deur die modder sleep nie. Daarom het Hy besluit om hierdie mense te straf deur hulle aan hulle eie lot oor te laat. Nou leef hulle al hulle sondige begeertes na hartelus uit. Die gevolg: hulle het erger as ’n klomp varke geword omdat hulle meedoen aan elke denkbare vorm van seksuele losbandigheid. En dit net omdat hulle die waarheid verruil het vir ’n spul leuens. In plaas daarvan dat hulle voor die Skepper buig, verkies hulle om voor hulle eie handewerk te buig. Dit is ’n groot fout. Daar is immers maar net een God wat tot in alle ewigheid aanbid moet word. God het al hierdie sondaars oorgegee aan hulle siek begeertes. Daarom het vroue begin om die normale seksuele gemeenskap met mans te verruil vir abnormale seksuele gemeenskap met ander vroue. Die mans het presies dieselfde gedoen. Hulle het ook hulle normale seksuele gemeenskap met vroue laat staan omdat hulle vreemde seksuele gemeenskap met ander mans wou hê. As gevolg daarvan het hulle allerhande skandelike dade met mekaar begin pleeg. Maar hulle het ’n baie duur prys daarvoor betaal. God het hulle gestraf deur hulle aan hulleself oor te laat. Omdat hierdie mense glad nie daarin belangstel om God op die regte manier te ken nie, het Hy toegelaat dat hulle kan dink net wat hulle wil en doen wat hulle wil. Daarom is hulle hele lewe nou een groot deurmekaarspul. Hulle neem deel aan elke denkbare vorm van goddeloosheid. Hierdie mense is propvol boosheid, seksuele wellus, geldgierigheid en slegtheid. Hulle harte loop oor van slegte dinge soos jaloesie, moord, twis, bedrog, kwaadpratery en ’n geskinder. Hulle steek mekaar in die rug en hulle haat God. Boonop dink hulle heeltemal te veel van hulleself. Hulle praat groot. Elke dag dink hulle ’n spul nuwe sondes uit. Hulle haat hulle ouers. Hulle is ongehoorsaam en dom. Ja, hierdie heidene is ’n spul gevoellose wesens wat net mooi niks vir ander mense omgee nie. Natuurlik weet hulle hoe God wil hê hulle moet leef. En hulle weet ook dat die doderyk op hulle wag. Tog hou hulle aan met al hulle booshede. En asof dit nie erg genoeg is nie, moedig hulle ander mense aan om hulle slegte voorbeeld te volg.

ROMEINE 1:18-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Van sy hemelse woonplek af maak God sy straf bekend oor die mense wat goddeloosheid en ongeregtigheid bedryf en so die waarheid onderdruk. In hulle harte het hulle immers ’n duidelike besef van God, want God het dit aan hulle bekendgemaak. Want hulle kan sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en sy Goddelikheid, reeds van die skepping van die wêreld af duidelik uit sy handewerk waarneem. Daarom kan hulle hulleself nie verontskuldig nie. Ja, hulle het ’n Godsbesef gehad, maar tog het hulle Hom nie as God geëer of aan Hom dankbaarheid betoon nie. Inteendeel, hulle het vir hulleself allerlei belaglike voorstellings oor ’n godheid begin maak en hulle verdwaasde harte het heeltemal toegeslaan. Alhoewel hulle daarop aanspraak maak dat hulle danig slim is, het hulle in werklikheid heeltemal in dwaasheid verval – in so ’n mate dat hulle die verering van die onsterflike God met afgode vervang het wat sterflike mense en voëls en diere en slange uitbeeld. Om hierdie rede het God hulle aan hulle eie sondige hartstogte oorgegee, met die gevolg dat hulle onsedelikheid begin bedryf het deur oor en weer immorele praktyke met mekaar se liggame te beoefen. Hulle het immers so ver gegaan om die ware kennis van God te verkwansel vir die leuen en God se handewerk te vereer en te dien in plaas van die Skepper self – dié God wat vir ewig geprys behoort te word. Amen! Dit is daarom dat God hulle oorgegee het aan hulle eie skandelike drifte. Selfs die vroue het die natuurlike seksuele verkeer verruil vir wat teen die natuur is, naamlik dié met ander vroue. Op dieselfde manier het die mans die natuurlike manier om seksueel te verkeer prysgegee en ’n brandende begeerte na mekaar begin koester. Mans het skandelike dade met mekaar bedryf. Gevolglik moes hulle in hulle eie persoon die duur prys vir hulle perversiteit betaal. Inderdaad, omdat hulle geweier het om aan God die erkenning te gee wat Hy verdien, het Hy hulle oorgegee aan hulle skewe ingesteldheid. Gevolglik doen hulle allerlei onbehoorlike dinge. Hulle lewe word gekenmerk deur elke vorm van ongeregtigheid, boosheid, grypsug, kwaadwilligheid; hulle is vol jaloesie, moord, twisgierigheid, skelmstreke, slegte bedoelings en skinderpraatjies. Hulle stook kwaad, haat God en is arrogant, hooghartig en verwaand; hulle is vindingryk om slegte dinge te bedink en ongehoorsaam aan hulle ouers; jy kan nie met hulle redeneer nie en ook nie op hulle reken nie; hulle is liefdeloos en sonder ontferming vir ander mense. Hulle is bewus van God se bepaling dat mense wat met sulke praktyke besig is, die dood verdien. Tog is hulle nie net self aktief daarmee besig nie; hulle spoor ook nog ander aan wat daarmee besig is.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid