DIE OPENBARING 5:8-10 - Compare All Versions

DIE OPENBARING 5:8-10 ABA (Bybel vir almal)

Toe die Lam die boekrol neem, het die vier diere en die 24 ouderlinge voor die Persoon gekniel soos 'n mens voor 'n koning kniel. Elkeen het 'n harp gehad en goue bakke. Die goue bakke was vol wierook. Die wierook is die gebede van die gelowiges. Toe sing die diere en die ouderlinge hierdie nuwe lied vir die Lam: “Net U mag die boekrol neem! U mag die seëls breek en die boekrol oopmaak! Want die mense het U doodgemaak, ja, U het gesterf en U het mense gekoop vir God, mense van al die stamme, tale, volke en lande! U het gesê God regeer oor hulle, hulle is soos die priesters wat vir God werk, en hulle sal oor die aarde regeer!”

DIE OPENBARING 5:8-10 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

en toe Hy die boek neem, val die vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge voor die Lam neer, elkeen met siters en goue skale vol reukwerk, wat die gebede van die heiliges is. Toe sing hulle 'n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.

DIE OPENBARING 5:8-10 AFR83 (Afrikaans 1983)

Net toe die Lam die boek neem, het die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor Hom gekniel. Elkeen van hulle het 'n siter gehad en 'n goue bak vol wierook, die gebede van die gelowiges. Toe sing hulle 'n nuwe lied: “U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. U het hulle 'n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer.”

DIE OPENBARING 5:8-10 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Toe Hy die boekrol neem, het die vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge voor die Lam neergeval. Elkeen het 'n lier en 'n goue bak vol reukwerk, wat die gebede van die •heiliges is, vasgehou. Toe sing hulle 'n nuwe lied: “U is waardig om die boekrol te neem, en die seëls daarvan oop te breek, omdat U geslag is, en met u bloed mense vir God gekoop het, uit elke geslag en taal en volk en nasie. U het hulle 'n koninkryk en priesters vir ons God gemaak, en hulle sal as konings oor die aarde heers. ”

DIE OPENBARING 5:8-10 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En nadat Hy die boek geneem het, val die vier lewende wesens en vier en twintig ouderlinge voor die Lam neer, met elkeen van hulle siters en goue skale vol reuke, wat die gebede van die heiliges is. En hulle het 'n nuwe lied gesing en gesê: U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak, want U is gedood en het ons deur u bloed vir God losgekoop uit elke geslag en taal en volk, en nasie; en het ons vir onse God konings en priesters gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.

DIE OPENBARING 5:8-10 DB (Die Boodskap)

Dít het die hemel in beroering gebring! Nie slegs die vier lewende wesens nie, maar ook al 24 leiers van die kerk sak toe uit eerbied en aanbidding op hulle knieë voor die Lam neer. Elkeen van hulle het ’n goue musiekinstrument vasgehou. Hulle het ook goue bakke by hulle gehad. Uit die bakke het daar die lekkerste geur gekom. Ek kon sien dat dit die gebede van die Christene was wat vir almal in die hemel so lekker is om te hoor. Die vier wesens en die leiers van die kerk begin toe die pragtigste lied sing wat ek nog ooit gehoor het. Dit was die eerste maal dat hulle die lied gesing het. “O, hoe groot en belangrik is U. U kan die boek vat en die seëls breek! U is mos soos ’n lam wat geslag is. U bloed, ja, u lewe, het U gegee sodat mense God se mense kon wees, maak nie saak waar hulle bly of watter taal hulle praat nie. U sorg dat hulle God as heerser oor almal erken. U maak dat hulle God met oorgawe, soos priesters, dien. Hulle sal ook eendag oor al die mense van hierdie wêreld heers.”

DIE OPENBARING 5:8-10 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Net toe Hy die boekrol vat, het die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge in aanbidding voor die Lam neergeval. Elkeen het ’n siter en ’n goue bak vol wierook vasgehou, dit is die gebede van die gelowiges. Toe sing hulle ’n nuwe lied met dié woorde: “U is waardig genoeg om die boekrol te neem en sy seëls te breek omdat U geslag is en met u bloed mense vir God vrygekoop het, uit elke geslag en taalgroep, volk en nasie. U het hulle vir ons tot konings en priesters gemaak.”