DIE OPENBARING 16:17-21 - Compare All Versions
DIE OPENBARING 16:17-21 AFR83 (Afrikaans 1983)
Die sewende engel het toe sy bak in die lug uitgegooi. Van die troon in die tempel af het daar 'n stem hard uitgeroep: “Dit is verby!” Toe het daar weerligstrale, dreunings en donderslae gekom. Daar was ook 'n groot aardbewing soos daar nog nie was vandat die mens op die aarde gekom het nie, so 'n geweldige groot aardbewing was dit. Die groot stad het in drie dele geskeur, en die stede van die nasies het inmekaargestort. God het ook nie vergeet om vir die grote Babilon die beker met die wyn van sy gloeiende toorn te gee nie. Al die eilande het verdwyn, en berge was daar ook nie meer nie. Groot haelstene, elkeen omtrent vyftig kilogram swaar, het van die hemel af op die mense geval. En die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat die plaag verskriklik groot was.
DIE OPENBARING 16:17-21 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
En die sewende engel het sy skaal uitgegooi in die lug, en 'n groot stem het uit die tempel van die hemel gekom, van die troon af, wat gesê het: Dit is verby! En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het 'n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie — so 'n geweldige groot aardbewing. En die groot stad is in drie dele verdeel, en die stede van die nasies het geval. En die groot Babilon is in gedagtenis gebring voor God, om haar te gee die beker met die wyn van die grimmigheid van sy toorn. En alle eilande het gevlug, en berge is daar nie gevind nie; en groot hael, omtrent 'n talent swaar, het uit die hemel op die mense geval; en die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat sy plaag ontsettend groot was.
DIE OPENBARING 16:17-21 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Die sewende engel het toe sy bak in die lug uitgegooi. ’n Kragtige stem het uit die rigting van die tempel, waar die troon ook is, gekom en gesê: “Dit is afgehandel.” Toe het daar weerligstrale, dreunings en donderslae gekom. Daar was ook ’n reuse aardbewing soos wat daar nog nie was vandat die mens op die aarde gekom het nie – só ’n groot aardbewing was dit. Die groot stad is in drie dele geskeur, en die stede van die nasies het ineengetuimel. God het dus hoegenaamd nie vergeet om vir die grote Babilon die beker met die wyn van sy woedende toorn te gee nie. Elke eiland het eenvoudig weggeraak, en berge was ook nie meer te vind nie. Groot haelstene, elkeen ongeveer 34 kilogram swaar, het van die hemel af op die mense gereën. Die mense het God egter gevloek oor die haelplaag omdat dit uitermate groot was.
DIE OPENBARING 16:17-21 DB (Die Boodskap)
Net toe strooi die sewende engel sy bak in die lug uit. Uit die rigting van die troon in God se woonplek, sy tempel, hoor ek toe ’n harde geskree: “Alles is klaar; dit is verby!” Toe begin die hele aarde ruk en bewe soos nooit tevore nie. Die blitse het geslaan en die dreuning van die donder was verskriklik. Met die groot aardbewing is die belangrikste stad, Babilon, met al die bose mense in stukke geruk. Dit het in drie gebreek. Van die stede en mense wat God nie gedien het nie, het niks oorgebly nie. Ja, so sal dit gaan. God vergeet nie wat die klomp slegte mense van Babilon alles teen Hom gedoen het nie. Hulle sal moet betaal, daarvoor sal God sorg. Elke stukkie van God se straf en woede sal Babilon tref. So verskriklik sal dit wees dat eilande sal verdwyn en berge sal platval. Hael so groot soos rotse sal uit die hemel op die mense neerreën. Wat ’n verskriklike ramp gaan dit nie wees nie! Mense gaan God daaroor beledig en vloek.
DIE OPENBARING 16:17-21 ABA (Bybel vir almal)
Die sewende engel het sy bak uitgegooi in die lug. God se straf was in die bak. God wat op die troon sit, het hard gepraat. Hy het uit die tempel in die hemel gesê: “Ek het die mense klaar gestraf!” Toe kom daar weerligstrale en donderweer, dit het baie geraas. Daar was ook 'n groot aardbewing. Dit was die grootste aardbewing wat op die aarde was vandat daar mense op die aarde is. Die aardbewing het die groot stad, Babilon, in drie stukke laat breek, en die stede van die volke is verwoes. God het onthou dat die mense van die stad Babilon sonde gedoen het. Hy was baie kwaad vir hulle en Hy het hulle gestraf, Hy het vir hulle die beker van swaarkry gegee om te drink. En al die eilande en die berge het verdwyn. Daar het groot stukke hael uit die lug op die mense geval. Elke stuk hael het een talent geweeg. Toe die hael op die mense val, het hulle vir God gelaster, want dit was 'n swaar straf wat God vir hulle gegee het.
DIE OPENBARING 16:17-21 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Toe het die sewende engel sy bak in die lug uitgegooi. Uit die tempel, van die troon se kant af, het 'n harde stem uitgeroep: “Dit is afgehandel!” En weerligstrale, 'n gerammel en donderslae het gevolg, en ook 'n vernietigende aardbewing, soos wat nog nie plaasgevind het sedert daar mense op aarde was nie – so geweldig was die aardbewing. Die groot stad het in drie dele uitmekaar geval, en die stede van die nasies het ineengetuimel. God het aan Babilon, die magtige, gedink deur aan haar die beker wyn van die gramskap van sy toorn te gee. En elke eiland het in die niet verdwyn, en berge was nie meer te vind nie. Groot haelstene, ongeveer 'n talent swaar, het uit die hemel op die mense neergereën. En die mense het God gelaster oor die haelplaag, omdat dit 'n uitermate groot plaag was.
DIE OPENBARING 16:17-21 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En die sewende engel het sy skaal in die lug uitgegooi; en daar het 'n groot stem uit die tempel van die hemel gekom, van die troon af, wat sê: Dit is verby. En daar was stemme en donderslae en weerligstrale; en daar was 'n groot aardbewing soos daar nie was vandat die mense op die aarde was nie, so 'n groot aardbewing en so groot. En die groot stad is in drie dele verdeel, en die stede van die nasies het geval, en die groot Babel het in gedagtenis gekom voor God, om aan haar die beker van die wyn van die gloed van sy toorn te gee. En elke eiland het weggevlug, en die berge is nie gevind nie. En 'n groot hael uit die hemel het op die mense geval, elke klip omtrent 'n talent gewig; en die mense het God gelaster oor die plaag van die hael; want sy plaag was buitengewoon groot.