Openbaring 16

16
Die eerste vier bakke
1Toe het ek Iemand hard hoor praat uit die tempel wat in die hemel is. Ek het gehoor Hy sê vir die sewe engele: “Julle moet gaan en julle moet die sewe bakke op die aarde gaan uitgooi, my straf is in daardie sewe bakke!”
2Die eerste engel het gegaan en hy het sy bak op die aarde uitgegooi. Toe het daar lelike en slegte sere gekom op al die mense wat die merk van die dier het en wat sy beeld aanbid.
3Die tweede engel het sy bak op die see gegooi, en die water in die see het bloed geword, dit was soos die bloed van 'n mens wat dood is. En alles wat in die see gelewe het, het doodgegaan.
4Die derde engel het sy bak op die riviere en die fonteine uitgegooi, en die water het bloed geword.
5Toe hoor ek die engel wat regeer oor die water, praat. Hy het gesê:
“O Heilige God,
U is daar en U was altyd daar!
U doen altyd wat reg is,
want U het almal ge-oordeel!
6Hulle het die mense
wat aan U behoort,
en ook die profete doodgemaak,
maar U het die mense wat dit
gedoen het, doodgemaak!
Dit is reg dat dit met hulle
gebeur het.”
7En ek het gehoor iemand by die altaar in die hemel sê:
“Ja, Here God,
U wat alles kan doen,
die dinge wat U besluit,
is altyd waar en reg!”
8Die vierde engel het sy bak op die son uitgegooi. En God het gesê die son mag die mense brand met vuur. 9Die son was baie warm en dit het die mense baie seer gebrand. Maar hulle het vir God gelaster, vir God wat al die strawwe gestuur het. En hulle het nie gelewe soos God wil hê nie en hulle het nie vir God geëer nie.
Die vyfde bak
10Die vyfde engel het sy bak uitgegooi op die troon van die dier. God se straf was in die bak. Toe het dit donker geword op al die plekke waar die dier koning was, en die mense op daardie plekke het so baie pyn gehad dat hulle almal hulle tonge stukkend gebyt het. 11Hulle was kwaad omdat hulle pyn en sere gehad het, en hulle het vir God gelaster, die God van die hemel. Maar hulle het nie begin lewe soos God wil hê nie, hulle het gedoen wat hulle altyd doen.
Die sesde bak
12Die sesde engel het sy bak uitgegooi op die groot Eufraat-rivier. God se straf was in die bak. Al die water van die rivier het opgedroog, en toe was die pad gereed vir die konings wat van die Ooste kom. 13En ek het drie onrein geeste gesien. Hulle het gekom uit die bekke van die draak en die dier en die vals profeet. Die drie onrein geeste het gelyk soos paddas 14en hulle was die geeste van duiwels. Die drie geeste het tekens gedoen en hulle het na al die konings op die aarde gegaan en gesê die konings moet saamkom om oorlog te maak op die belangrike dag, die dag van God, God wat alles kan doen.
15Ja, die Here Jesus het gesê: “Ek sal weer kom! Ek sal kom soos 'n dief kom, niemand sal weet wanneer Ek kom nie. As jy gereed is wanneer Ek kom, dan is jy 'n gelukkige mens! Ja, jy moet gereed wees! Jy moenie wees soos iemand wat sonder klere rondloop nie, want almal sal sien jy is kaal.”
16Die drie onrein geeste het die konings bymekaargebring by die plek Armageddon. Armageddon is 'n Hebreeuse naam.
Die sewende bak
17Die sewende engel het sy bak uitgegooi in die lug. God se straf was in die bak. God wat op die troon sit, het hard gepraat. Hy het uit die tempel in die hemel gesê: “Ek het die mense klaar gestraf!”
18Toe kom daar weerligstrale en donderweer, dit het baie geraas. Daar was ook 'n groot aardbewing. Dit was die grootste aardbewing wat op die aarde was vandat daar mense op die aarde is. 19Die aardbewing het die groot stad, Babilon, in drie stukke laat breek, en die stede van die volke is verwoes. God het onthou dat die mense van die stad Babilon sonde gedoen het. Hy was baie kwaad vir hulle en Hy het hulle gestraf, Hy het vir hulle die beker van swaarkry gegee om te drink. 20En al die eilande en die berge het verdwyn. 21Daar het groot stukke hael uit die lug op die mense geval. Elke stuk hael het een talent geweeg. Toe die hael op die mense val, het hulle vir God gelaster, want dit was 'n swaar straf wat God vir hulle gegee het.

Tans Gekies:

Openbaring 16: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid