DIE OPENBARING 16:1-7 - Compare All Versions

DIE OPENBARING 16:1-7 AFR83 (Afrikaans 1983)

Toe het ek uit die tempel 'n harde stem vir die sewe engele hoor sê: “Gaan gooi die sewe bakke, gevul met die toorn van God, op die aarde uit!” Die eerste engel het toe gegaan en sy bak op die land uitgegooi. Daar het kwaadaardige en pynlike swere uitgekom aan die mense wat die merk van die dier aan hulle het en wat sy beeld aanbid. Die tweede engel het sy bak in die see uitgegooi. Dit het bloed geword soos die bloed van 'n dooie, en alles wat in die see lewe, het doodgegaan. Die derde engel het sy bak in die riviere en die waterbronne uitgegooi. Dit het ook bloed geword. Toe het ek die engel wat oor die water toesig hou, hoor sê: “U is regverdig, U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel voltrek het; want hulle het die bloed van die gelowiges en van die profete vergiet, en U het hulle self bloed laat drink. Dit het hulle verdien.” Toe het ek die engel wat oor die altaar toesig hou, hoor sê

DIE OPENBARING 16:1-7 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

EN ek het 'n groot stem uit die tempel aan die sewe engele hoor sê: Gaan gooi die skale van die grimmigheid van God op die aarde uit. Toe gaan die eerste een weg en gooi sy skaal op die aarde uit, en kwaai en bose swere het aan die mense gekom wat die merk van die dier gehad het en sy beeld aanbid het. En die tweede engel het sy skaal op die see uitgegooi, en dit het bloed geword soos van 'n dooie, en al die lewende wesens in die see het gesterwe. En die derde engel het sy skaal uitgegooi op die riviere en op die waterfonteine, en dit het bloed geword. En ek het die engel van die waters hoor sê: Regverdig, Here, is U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel uitgevoer het; want hulle het die bloed van heiliges en profete vergiet, en U het aan hulle bloed gegee om te drink, want hulle het dit verdien. En ek het 'n ander een uit die altaar hoor sê: Ja, Here God, Almagtige, waaragtig en regverdig is u oordele.

DIE OPENBARING 16:1-7 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Ek het toe uit die rigting van die tempel ’n kragtige stem vir die sewe engele hoor sê: “Gaan nou, en gooi die sewe bakke, vol van God se toorn, op die aarde uit!” Toe het die eerste engel gegaan en sy bak op die aarde uitgegooi. Daar het toe kwaadaardige en bose sere op dié mense ontstaan wat die merk van die monster dra en sy standbeeld aanbid het. Die tweede engel het sy bak op die see uitgegooi. Dit het bloed geword soos dié van ’n lyk, en elke lewende organisme wat in die see is, het doodgegaan. Die derde engel het sy bak op die riviere en waterfonteine uitgegooi. Ook dit het bloed geword. Toe het ek die engel wat gesag oor die waters voer, hoor sê: “U is regverdig, U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U oor hierdie dinge u straf voltrek het; want hulle het die bloed van dié wat aan U toegewy is en van die profete vergiet, en U het nou ook aan húlle bloed gegee om te drink. Hulle verdien dit.” Ek het toe vanuit die rigting van die altaar iemand hoor sê: “Ja, Here God, die Almagtige, betroubaar en regverdig is u oordele.”

DIE OPENBARING 16:1-7 DB (Die Boodskap)

Toe hoor ek iemand wat baie hard praat. Die stem het uit God se blyplek gekom en met die sewe engele gepraat: “Weg is julle! Gaan maak die sewe bakke wat vol van die woede en die straf van God is, op die aarde leeg.” Die eerste een trek toe dadelik weg en gaan maak sy bak op die aarde leeg. Dadelik het die vieslikste swere wat jy jou kan voorstel op die mense uitgeslaan. Dit het egter net op daardie mense uitgeslaan wat die merk van die dier gedra en die beeld van die dier soos ’n god aanbid het. Die tweede engel gooi sy bak toe op die see uit. Die water het bloederig geword asof dit uit ’n dooie man uitloop. Alles wat in die see geleef het, is daar en dan dood. Toe volg die derde engel met sy bak. Sy bak se inhoud het op die riviere en fonteine beland. Al die water het in bloed verander. Die engel wat vir water moes sorg, sê toe: “U straf hierdie mense regverdig. Want U was altyd daar en is nog daar. U is die Gans Andere. Niemand is soos U nie! Hierdie slegte mense het die mense wat aan U behoort, doodgemaak. Hulle het die bloed laat vloei van mense wat ander van U vertel het. Daarom gee U juis vir hulle bloed om te drink - dit is hulle verdiende loon!” Uit die rigting van die altaar hoor ek toe: “Ja, Here God. Daar is niks wat U nie kan doen nie en daar is niemand so sterk soos U nie. As U iets besluit, is dit soos dit moet wees. U maak nooit ’n fout met ’n oordeel nie.”

DIE OPENBARING 16:1-7 ABA (Bybel vir almal)

Toe het ek Iemand hard hoor praat uit die tempel wat in die hemel is. Ek het gehoor Hy sê vir die sewe engele: “Julle moet gaan en julle moet die sewe bakke op die aarde gaan uitgooi, my straf is in daardie sewe bakke!” Die eerste engel het gegaan en hy het sy bak op die aarde uitgegooi. Toe het daar lelike en slegte sere gekom op al die mense wat die merk van die dier het en wat sy beeld aanbid. Die tweede engel het sy bak op die see gegooi, en die water in die see het bloed geword, dit was soos die bloed van 'n mens wat dood is. En alles wat in die see gelewe het, het doodgegaan. Die derde engel het sy bak op die riviere en die fonteine uitgegooi, en die water het bloed geword. Toe hoor ek die engel wat regeer oor die water, praat. Hy het gesê: “O Heilige God, U is daar en U was altyd daar! U doen altyd wat reg is, want U het almal ge-oordeel! Hulle het die mense wat aan U behoort, en ook die profete doodgemaak, maar U het die mense wat dit gedoen het, doodgemaak! Dit is reg dat dit met hulle gebeur het.” En ek het gehoor iemand by die altaar in die hemel sê

DIE OPENBARING 16:1-7 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Ek het toe 'n harde stem uit die tempel aan die sewe engele hoor sê: “Gaan en gooi die sewe bakke, gevul met die toorn van God, op die aarde uit! ” Die eerste engel het uitgegaan, en sy bak op die aarde uitgegooi. Daar het toe kwaadaardige en bose swere uitgeslaan op die mense wat die merk van die dier dra en sy beeld aanbid. Die tweede engel het sy bak oor die see uitgegooi. Dit het verander in bloed, soos van 'n dooie, en elke lewende wese in die see het doodgegaan. Die derde engel het sy bak oor die riviere en die fonteine uitgegooi, en dit het in bloed verander. Toe het ek die engel van die water hoor sê: “U is regverdig, U wat is en wat was, die Heilige, omdat U oor hierdie dinge geoordeel het; want hulle het die bloed van •heiliges en profete vergiet, en U het hulle bloed gegee om te drink. Hulle verdien dit.” Toe het ek die engel van die altaar hoor sê: “Ja, Here God, Almagtige, u oordele is betroubaar en regverdig.”

DIE OPENBARING 16:1-7 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En ek het 'n groot stem uit die tempel aan die sewe engele hoor sê: Gaan heen en gooi die skale van die toorn van God uit oor die aarde. En die eerste het gegaan en sy skaal op die aarde uitgegooi; en 'n harde en ernstige sweer het geval op die mense wat die merk van die dier gehad het en op die wat sy beeld aanbid het. En die tweede engel het sy skaal op die see uitgegooi; en dit het geword soos die bloed van 'n dooie, en elke lewende siel het in die see gesterwe. En die derde engel het sy skaal uitgegooi op die riviere en waterfonteine; en hulle het bloed geword. En ek het die engel van die water hoor sê: U is regverdig, Here, wat is en wat was en sal wees, omdat U so geoordeel het. Want hulle het die bloed van heiliges en profete vergiet, en U het aan hulle bloed gegee om te drink; want hulle is waardig. En ek het 'n ander een van die altaar af hoor sê: Net so, Here God, Almagtige, waaragtig en regverdig is u oordele.