DIE OPENBARING 16:1-16 - Compare All Versions

DIE OPENBARING 16:1-16 ABA (Bybel vir almal)

Toe het ek Iemand hard hoor praat uit die tempel wat in die hemel is. Ek het gehoor Hy sê vir die sewe engele: “Julle moet gaan en julle moet die sewe bakke op die aarde gaan uitgooi, my straf is in daardie sewe bakke!” Die eerste engel het gegaan en hy het sy bak op die aarde uitgegooi. Toe het daar lelike en slegte sere gekom op al die mense wat die merk van die dier het en wat sy beeld aanbid. Die tweede engel het sy bak op die see gegooi, en die water in die see het bloed geword, dit was soos die bloed van 'n mens wat dood is. En alles wat in die see gelewe het, het doodgegaan. Die derde engel het sy bak op die riviere en die fonteine uitgegooi, en die water het bloed geword. Toe hoor ek die engel wat regeer oor die water, praat. Hy het gesê: “O Heilige God, U is daar en U was altyd daar! U doen altyd wat reg is, want U het almal ge-oordeel! Hulle het die mense wat aan U behoort, en ook die profete doodgemaak, maar U het die mense wat dit gedoen het, doodgemaak! Dit is reg dat dit met hulle gebeur het.” En ek het gehoor iemand by die altaar in die hemel sê: “Ja, Here God, U wat alles kan doen, die dinge wat U besluit, is altyd waar en reg!” Die vierde engel het sy bak op die son uitgegooi. En God het gesê die son mag die mense brand met vuur. Die son was baie warm en dit het die mense baie seer gebrand. Maar hulle het vir God gelaster, vir God wat al die strawwe gestuur het. En hulle het nie gelewe soos God wil hê nie en hulle het nie vir God geëer nie. Die vyfde engel het sy bak uitgegooi op die troon van die dier. God se straf was in die bak. Toe het dit donker geword op al die plekke waar die dier koning was, en die mense op daardie plekke het so baie pyn gehad dat hulle almal hulle tonge stukkend gebyt het. Hulle was kwaad omdat hulle pyn en sere gehad het, en hulle het vir God gelaster, die God van die hemel. Maar hulle het nie begin lewe soos God wil hê nie, hulle het gedoen wat hulle altyd doen. Die sesde engel het sy bak uitgegooi op die groot Eufraat-rivier. God se straf was in die bak. Al die water van die rivier het opgedroog, en toe was die pad gereed vir die konings wat van die Ooste kom. En ek het drie onrein geeste gesien. Hulle het gekom uit die bekke van die draak en die dier en die vals profeet. Die drie onrein geeste het gelyk soos paddas en hulle was die geeste van duiwels. Die drie geeste het tekens gedoen en hulle het na al die konings op die aarde gegaan en gesê die konings moet saamkom om oorlog te maak op die belangrike dag, die dag van God, God wat alles kan doen. Ja, die Here Jesus het gesê: “Ek sal weer kom! Ek sal kom soos 'n dief kom, niemand sal weet wanneer Ek kom nie. As jy gereed is wanneer Ek kom, dan is jy 'n gelukkige mens! Ja, jy moet gereed wees! Jy moenie wees soos iemand wat sonder klere rondloop nie, want almal sal sien jy is kaal.” Die drie onrein geeste het die konings bymekaargebring by die plek Armageddon. Armageddon is 'n Hebreeuse naam.

DIE OPENBARING 16:1-16 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

EN ek het 'n groot stem uit die tempel aan die sewe engele hoor sê: Gaan gooi die skale van die grimmigheid van God op die aarde uit. Toe gaan die eerste een weg en gooi sy skaal op die aarde uit, en kwaai en bose swere het aan die mense gekom wat die merk van die dier gehad het en sy beeld aanbid het. En die tweede engel het sy skaal op die see uitgegooi, en dit het bloed geword soos van 'n dooie, en al die lewende wesens in die see het gesterwe. En die derde engel het sy skaal uitgegooi op die riviere en op die waterfonteine, en dit het bloed geword. En ek het die engel van die waters hoor sê: Regverdig, Here, is U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel uitgevoer het; want hulle het die bloed van heiliges en profete vergiet, en U het aan hulle bloed gegee om te drink, want hulle het dit verdien. En ek het 'n ander een uit die altaar hoor sê: Ja, Here God, Almagtige, waaragtig en regverdig is u oordele. En die vierde engel het sy skaal op die son uitgegooi, en daaraan is dit gegee om die mense met vuur te skroei. En die mense is geskroei met 'n groot hitte, en hulle het die Naam van God gelaster wat mag het oor hierdie plae, en hulle het hul nie bekeer om Hom heerlikheid te gee nie. En die vyfde engel het sy skaal uitgegooi op die troon van die dier, en sy koninkryk is verduister, en hulle het hul tonge gekou van pyn; en hulle het die God van die hemel gelaster oor hulle pyne en oor hulle swere, en het hulle nie bekeer van hul werke nie. En die sesde engel het sy skaal uitgegooi op die groot rivier, die Eufraat, en sy water het opgedroog, sodat die pad van die konings wat van die ooste af kom, reggemaak kon word. En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom. Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God. Kyk, Ek kom soos 'n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie. En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon.

DIE OPENBARING 16:1-16 AFR83 (Afrikaans 1983)

Toe het ek uit die tempel 'n harde stem vir die sewe engele hoor sê: “Gaan gooi die sewe bakke, gevul met die toorn van God, op die aarde uit!” Die eerste engel het toe gegaan en sy bak op die land uitgegooi. Daar het kwaadaardige en pynlike swere uitgekom aan die mense wat die merk van die dier aan hulle het en wat sy beeld aanbid. Die tweede engel het sy bak in die see uitgegooi. Dit het bloed geword soos die bloed van 'n dooie, en alles wat in die see lewe, het doodgegaan. Die derde engel het sy bak in die riviere en die waterbronne uitgegooi. Dit het ook bloed geword. Toe het ek die engel wat oor die water toesig hou, hoor sê: “U is regverdig, U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel voltrek het; want hulle het die bloed van die gelowiges en van die profete vergiet, en U het hulle self bloed laat drink. Dit het hulle verdien.” Toe het ek die engel wat oor die altaar toesig hou, hoor sê: “Ja, Here God, Almagtige, betroubaar en reg is u oordele.” Die vierde engel het toe sy bak op die son uitgegooi. Daardeur is aan die son die vermoë verleen om die mense met vuur te brand. Die mense is deur 'n groot hitte gebrand, en hulle het die Naam gelaster van God wat die mag oor hierdie plae het. En hulle het hulle nie bekeer nie en aan Hom nie die eer gegee nie. Die vyfde engel het toe sy bak op die troon van die dier uitgegooi, en daar het duisternis oor die koninkryk van die dier gekom. Die mense het hulle tonge stukkend gebyt van die pyn en het die God van die hemel gelaster oor die pyn wat hulle moet verduur, en oor die swere. En hulle het hulle nie bekeer van hulle verkeerde praktyke nie. Die sesde engel het toe sy bak op die groot Eufraatrivier uitgegooi. Die water daarvan het opgedroog om 'n pad vir die konings uit die ooste oop te maak. Toe sien ek uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die vals profeet drie onrein geeste kom wat soos paddas lyk. Hierdie geeste, wat wondertekens doen, is bose geeste. Hulle gaan na die konings van die hele wêreld toe om hulle byeen te bring vir die oorlog op die groot dag van God, die Almagtige. “Kyk, Ek kom onverwags soos 'n dief. Geseënd is die een wat wakker bly en sy klere reghou, sodat hy nie kaal hoef te loop en die mense sy skande sien nie.” Die geeste het die konings byeengebring op die plek wat in Hebreeus Armageddon genoem word.

DIE OPENBARING 16:1-16 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Ek het toe 'n harde stem uit die tempel aan die sewe engele hoor sê: “Gaan en gooi die sewe bakke, gevul met die toorn van God, op die aarde uit! ” Die eerste engel het uitgegaan, en sy bak op die aarde uitgegooi. Daar het toe kwaadaardige en bose swere uitgeslaan op die mense wat die merk van die dier dra en sy beeld aanbid. Die tweede engel het sy bak oor die see uitgegooi. Dit het verander in bloed, soos van 'n dooie, en elke lewende wese in die see het doodgegaan. Die derde engel het sy bak oor die riviere en die fonteine uitgegooi, en dit het in bloed verander. Toe het ek die engel van die water hoor sê: “U is regverdig, U wat is en wat was, die Heilige, omdat U oor hierdie dinge geoordeel het; want hulle het die bloed van •heiliges en profete vergiet, en U het hulle bloed gegee om te drink. Hulle verdien dit.” Toe het ek die engel van die altaar hoor sê: “Ja, Here God, Almagtige, u oordele is betroubaar en regverdig.” Die vierde engel het sy bak oor die son uitgegooi, en die son is toegelaat om die mense met vuur te skroei. Die mense is deur 'n versengende hitte geskroei, en hulle het gelaster teen die Naam van God, wat mag oor hierdie plae het. Nogtans het hulle hulle nie bekeer, en aan Hom heerlikheid bewys nie. Die vyfde engel het sy bak oor die troon van die dier uitgegooi. Sy koninkryk is in duisternis gehul, en die mense het op hulle tonge gebyt van die pyn. Hulle het ook die God van die hemel gelaster, as gevolg van hulle pyne en hulle swere. Nogtans het hulle nie tot bekering van hulle dade gekom nie. Die sesde engel het sy bak oor die groot Eufraatrivier uitgegooi, en die rivier se water het opgedroog om 'n pad vir die konings uit die ooste gereed te maak. Toe het ek uit die bek van die draak, en uit die bek van die dier, en uit die mond van die vals profeet, drie onrein geeste sien kom wat soos paddas lyk. Hulle is demoniese geeste wat tekens doen, en wat na die konings van die hele bewoonde wêreld gaan, om hulle byeen te bring vir die oorlog op die groot dag van God, die Almagtige. “Kyk, Ek kom soos 'n dief! Gelukkig is die een wat wakker bly en sy klere byderhand hou, sodat hy nie naak loop, en die mense sy skaamte sien nie.” Die geeste het die konings byeengebring by die plek wat in Hebreeus Armageddon genoem word.

DIE OPENBARING 16:1-16 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En ek het 'n groot stem uit die tempel aan die sewe engele hoor sê: Gaan heen en gooi die skale van die toorn van God uit oor die aarde. En die eerste het gegaan en sy skaal op die aarde uitgegooi; en 'n harde en ernstige sweer het geval op die mense wat die merk van die dier gehad het en op die wat sy beeld aanbid het. En die tweede engel het sy skaal op die see uitgegooi; en dit het geword soos die bloed van 'n dooie, en elke lewende siel het in die see gesterwe. En die derde engel het sy skaal uitgegooi op die riviere en waterfonteine; en hulle het bloed geword. En ek het die engel van die water hoor sê: U is regverdig, Here, wat is en wat was en sal wees, omdat U so geoordeel het. Want hulle het die bloed van heiliges en profete vergiet, en U het aan hulle bloed gegee om te drink; want hulle is waardig. En ek het 'n ander een van die altaar af hoor sê: Net so, Here God, Almagtige, waaragtig en regverdig is u oordele. En die vierde engel het sy skaal op die son uitgegooi; en aan hom is mag gegee om mense met vuur te skroei. En die mense is deur groot hitte verskroei en die Naam van God gelaster wat mag het oor hierdie plae, en hulle het hulle nie bekeer om Hom heerlikheid te gee nie. En die vyfde engel het sy skaal op die troon van die dier uitgegooi; en sy koninkryk was vol duisternis; en hulle het hul tonge geknaag van pyn, en die God van die hemel gelaster oor hulle pyne en hulle swere, en nie berou gehad oor hulle dade nie. En die sesde engel het sy skaal uitgegooi op die groot Eufraatrivier; en sy water het opgedroog, sodat die weg van die konings van die Ooste berei kon word. En ek het drie onrein geeste soos paddas sien uitkom uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die bek van die valse profeet. Want hulle is die geeste van duiwels, wat wonders doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en van die hele wêreld, om hulle te versamel vir die stryd van daardie groot dag van God, die Almagtige. Kyk, ek kom soos 'n dief. Welgeluksalig is hy wat waak en sy klere bewaar, dat hy nie naak loop en hulle sy skande sien nie. En hy het hulle bymekaar laat kom op 'n plek wat in die Hebreeuse taal Armageddon genoem word.

DIE OPENBARING 16:1-16 DB (Die Boodskap)

Toe hoor ek iemand wat baie hard praat. Die stem het uit God se blyplek gekom en met die sewe engele gepraat: “Weg is julle! Gaan maak die sewe bakke wat vol van die woede en die straf van God is, op die aarde leeg.” Die eerste een trek toe dadelik weg en gaan maak sy bak op die aarde leeg. Dadelik het die vieslikste swere wat jy jou kan voorstel op die mense uitgeslaan. Dit het egter net op daardie mense uitgeslaan wat die merk van die dier gedra en die beeld van die dier soos ’n god aanbid het. Die tweede engel gooi sy bak toe op die see uit. Die water het bloederig geword asof dit uit ’n dooie man uitloop. Alles wat in die see geleef het, is daar en dan dood. Toe volg die derde engel met sy bak. Sy bak se inhoud het op die riviere en fonteine beland. Al die water het in bloed verander. Die engel wat vir water moes sorg, sê toe: “U straf hierdie mense regverdig. Want U was altyd daar en is nog daar. U is die Gans Andere. Niemand is soos U nie! Hierdie slegte mense het die mense wat aan U behoort, doodgemaak. Hulle het die bloed laat vloei van mense wat ander van U vertel het. Daarom gee U juis vir hulle bloed om te drink - dit is hulle verdiende loon!” Uit die rigting van die altaar hoor ek toe: “Ja, Here God. Daar is niks wat U nie kan doen nie en daar is niemand so sterk soos U nie. As U iets besluit, is dit soos dit moet wees. U maak nooit ’n fout met ’n oordeel nie.” Die vierde engel gooi toe sy bak op die son uit. Skielik het lang vuurtonge van die son die mense verskroei. Dit was geweldig warm. Die mense het gevloek en God uitgeskel. Hy is mos die een wat hierdie dinge laat gebeur. Tog het hulle God nie begin dien nie. Hulle wou nie erken dat Hy regtig die belangrikste van almal is nie. Toe kom die vyfde engel aan die beurt. Die inhoud van sy bak het op die troon van die dier beland. Oral waar hy invloed uitgeoefen het, het dit so donker geword dat jy nie jou hand voor jou oë kon sien nie. Buite hulleself van pyn het die mense wat Satan dien hulle tonge gekou. Hulle het die God van die hemel gevloek en sleggesê oor hulle pyn en hulle sere. Tog wou hulle nie ophou om verkeerde dinge te doen nie. Hulle wou nie reg begin lewe soos God dit wil hê nie. Toe slaan die sesde engel toe. Sy bak se inhoud beland op die Eufraatrivier. Dit was ’n groot, magtige rivier, maar elke druppel water het opgedroog. Nou kon die konings uit die ooste sonder moeite deur die rivier kom. Toe sien ek die duiwel, die draak, staan saam met die dier en dié een wat voorgee om almal van God te vertel, maar die hele tyd lieg. Hulle maak hulle monde oop, en daar kruip drie bose geeste uit. Hulle het net soos paddas gelyk. Hierdie geeste het reguit van die duiwel af gekom en vir hom gewerk. Hulle het allerhande dinge gedoen om die mense te beïndruk. Hulle is na al die leiers en konings toe. Hulle het nie een oorgeslaan nie, maar almal omgepraat om saam met hulle te kom oorlog maak teen God. Maar dié dag wanneer hulle God gaan aandurf, sal in die geskiedenis uitstaan as ’n geweldig belangrike dag. Dit gaan God se dag wees, want Hy is sterker as almal saam. (Julle is natuurlik onseker wanneer die dag presies is. Luister wat sê God: “Wees wakker. My koms sal wees soos ’n dief s’n - as mense dit nie verwag nie. Die mense wat wakker en gereed is, sal gelukkig wees. Hulle sal te bly wees dat hulle vir My gewag het. Hulle sal nie rooi in die gesig en skaam uit die bed hoef op te spring omdat hulle nie reg was nie.”) Die duiwel en sy helpers het al die leiers van die wêreld saamgetrek by ’n plek wat in Hebreeus Armageddon genoem word.

DIE OPENBARING 16:1-16 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Ek het toe uit die rigting van die tempel ’n kragtige stem vir die sewe engele hoor sê: “Gaan nou, en gooi die sewe bakke, vol van God se toorn, op die aarde uit!” Toe het die eerste engel gegaan en sy bak op die aarde uitgegooi. Daar het toe kwaadaardige en bose sere op dié mense ontstaan wat die merk van die monster dra en sy standbeeld aanbid het. Die tweede engel het sy bak op die see uitgegooi. Dit het bloed geword soos dié van ’n lyk, en elke lewende organisme wat in die see is, het doodgegaan. Die derde engel het sy bak op die riviere en waterfonteine uitgegooi. Ook dit het bloed geword. Toe het ek die engel wat gesag oor die waters voer, hoor sê: “U is regverdig, U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U oor hierdie dinge u straf voltrek het; want hulle het die bloed van dié wat aan U toegewy is en van die profete vergiet, en U het nou ook aan húlle bloed gegee om te drink. Hulle verdien dit.” Ek het toe vanuit die rigting van die altaar iemand hoor sê: “Ja, Here God, die Almagtige, betroubaar en regverdig is u oordele.” Die vierde engel het toe sy bak op die son uitgegooi. Die son is in staat gestel om die mense met vuur te skroei. Die mense is deur ’n hewige gloed geskroei en hulle het die Naam van God gevloek wat mag het oor hierdie plae. Hulle het egter nie tot inkeer gekom en aan Hom eer betoon nie. Die vyfde engel het sy bak op die troon van die monster uitgegooi, en sy koninkryk is in duisternis gedompel. Die mense het hulle tonge begin byt van die pyn en het die God van die hemel gevloek oor hulle pyne en sere. Hulle het hulle egter nie bekeer van hulle verkeerde dade nie. Die sesde engel het toe sy bak op die groot Eufraatrivier uitgegooi. Sy vloei het opgedroog om ’n pad gereed te maak vir die konings wat van die ooste af kom. Toe merk ek op dat uit die bek van die draak en uit die bek van die monster en uit die bek van die vals profeet drie onrein geeste kom, net soos paddas. Dié geeste wat wondertekens doen, is van bose geeste afkomstig. Hulle gaan uit na die konings oor die hele bewoonde aarde heen om hulle bymekaar te maak vir die oorlog op die beslissende dag van God, die Almagtige. “Wees bedag, Ek kom onverwags, net soos ’n dief. Geseënd is elkeen wat wakker loop en sy klere gereed hou sodat hy nie kaal hoef te loop en die mense sy verleentheid sien nie.” Die geeste het die konings bymekaargemaak op die plek wat in Hebreeus Armageddon genoem word.