DIE OPENBARING 14:12-20 - Compare All Versions

DIE OPENBARING 14:12-20 ABA (Bybel vir almal)

Die mense wat aan God behoort, moet geduldig wees wanneer hulle swaarkry, hulle wat doen wat God se wette sê en wat aanhou om in Jesus te glo. En ek het die stem van iemand in die hemel gehoor. Hy het gesê: “Jy moet skryf! Van nou af is almal wat aan die Here behoort en wat sterf, gelukkige mense!” Die Heilige Gees het gesê: “Ja, hulle sal nie meer hard werk nie. Hulle sal rus, want hulle het baie goeie dinge gedoen.” Ek het gekyk en gesien daar was 'n wit wolk, en op die wolk het Iemand gesit wat lyk soos die Seun van die mens! Hy het 'n goue kroon op sy kop gehad en in sy hand was 'n skerp sekel. Ek het 'n ander engel gesien. Hy het uit die tempel in die hemel gekom. Hy het hard geskree vir die Persoon wat op die wolk sit en gesê: “Dit is nou die tyd om die mense te straf! U moet hulle straf soos wanneer 'n mens koring afsny. U moet u sekel gebruik en begin afsny! Die oes op die aarde is ryp!” En die Persoon wat op die wolk sit, het sy sekel oor die aarde geswaai en Hy het afgesny. 'n Ander engel het uit die tempel in die hemel gekom. Hy het ook 'n skerp sekel in sy hand gehad. En 'n ander engel het van die altaar in die tempel in die hemel gekom. Dit was die engel wat regeer het oor al die vuur. Hy het vir die engel met die sekel geskree en gesê: “Dit is nou die tyd om die mense te straf! Die mense op die aarde is soos druiwetrosse. Gebruik jou skerp sekel, sny hulle af en maak hulle bymekaar soos 'n mens die druiwetrosse van 'n wingerdstok bymekaarmaak! Jy moet dit doen, want die druiwe is ryp.” Die engel het sy sekel oor die aarde geswaai en hy het die druiwetrosse afgesny. Hy het dit in die groot parskuip gegooi. Die parskuip beteken dat God baie kwaad is vir die mense en dat Hy hulle baie swaar sal straf. Die parskuip was buite die stad, en die engel het die druiwe in die parskuip getrap. Die bloed het by die parskuip uitgevloei. Dit was so diep dat dit tot by die perde se tome gevloei het. Die bloed het 1 600 stadioi ver gevloei.

DIE OPENBARING 14:12-20 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar. En ek het 'n stem uit die hemel aan my hoor sê: Skryf — salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle. EN ek het gesien, en kyk, daar was 'n wit wolk en een soos 'n Menseseun wat op die wolk sit, met 'n goue kroon op sy hoof en in sy hand 'n skerp sekel. En 'n ander engel het uit die tempel gekom en met 'n groot stem geroep na Hom wat op die wolk sit: Slaan u sekel in en maai, want die uur het vir U gekom om te maai, omdat die oes van die aarde oorryp geword het. En Hy wat op die wolk sit, het sy sekel oor die aarde laat gaan, en die aarde is afgemaai. En 'n ander engel het uitgekom uit die tempel wat in die hemel is, en hy het ook 'n skerp sekel gehad; en 'n ander engel wat mag oor die vuur gehad het, het uit die altaar uitgekom en met 'n groot stem geroep na hom wat die skerp sekel het, en gesê: Slaan jou skerp sekel in en samel die trosse van die wingerdstok van die aarde in, want sy druiwe het ryp geword. En die engel het sy sekel oor die aarde laat gaan en die wingerdstok van die aarde afgeoes en dit gegooi in die groot parskuip van die grimmigheid van God. En die parskuip is buitekant die stad getrap, en bloed het uit die parskuip gekom tot aan die tooms van die perde, tweehonderd myl ver.

DIE OPENBARING 14:12-20 AFR83 (Afrikaans 1983)

Hier het die gelowiges volharding nodig, hulle wat die gebooie van God nakom en in Jesus bly glo. Toe het ek 'n stem uit die hemel hoor sê: “Skryf op! Geseënd is dié wat van nou af in die Here sterwe.” “Ja,” sê die Gees, “hulle sal rus van hulle arbeid, want alles wat hulle gedoen het, volg hulle.” Toe het ek 'n wit wolk gesien. Op die wolk het daar Iemand soos die Seun van die mens gesit. Hy het 'n goue kroon op sy kop gehad en 'n skerp sekel in sy hand. 'n Engel het uit die tempel uitgekom en hard geroep na Hom wat op die wolk sit: “Steek u sekel in en oes, want die tyd het gekom om te oes. Die aarde is ryp vir die oes.” Hy wat op die wolk sit, het toe sy sekel ingesteek op die aarde, en die aarde is afgeoes. Toe het daar 'n ander engel uit die tempel wat in die hemel is, uitgekom. Hy het ook 'n skerp sekel gehad. Nog 'n ander engel het van die altaar se kant af gekom. Hy het mag oor die vuur gehad en het met 'n harde stem geroep na die engel wat die skerp sekel het, en vir hom gesê: “Steek jou skerp sekel in en sny die druiwetrosse van die wingerd op die aarde af, want sy druiwe het ryp geword.” Die engel het toe sy sekel op die aarde ingesteek. Hy het die wingerd op die aarde afgeoes en die oes in die groot parskuip van God se toorn gegooi. Die parskuip, buitekant die stad, is getrap. Uit die parskuip het daar bloed uitgekom wat tot aan die tooms van die perde geraak en sestien honderd kilometer ver gestrek het.

DIE OPENBARING 14:12-20 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Hiervoor het die •heiliges volharding nodig, hulle wat die gebooie van God nakom, en in Jesus bly glo. Ek het toe 'n stem uit die hemel hoor sê: “Skryf neer! ‘Gelukkig is die dooies wat van nou af in die Here sterf.’ ” “Ja,” sê die Gees, “sodat hulle mag rus van hulle geswoeg, want hulle dade volg hulle.” Toe het ek gesien, en kyk, daar was 'n wit wolk, en op die wolk sit daar iemand net soos 'n •Seun van die Mens. Op sy kop het Hy 'n goue kroon, en in sy hand hou Hy 'n skerp sekel. 'n Ander engel het uit die tempel gekom, en met 'n harde stem geroep na Hom wat op die wolk sit: “Steek u sekel in en oes, want die tyd om te oes, het aangebreek, en die aarde is ryp vir die oes.” Hy wat op die wolk sit, het toe sy sekel oor die aarde geswaai, en die aarde is afgeoes. Toe het daar 'n ander engel uit die tempel in die hemel gekom. Ook hy het 'n skerp sekel vasgehou. Nog 'n engel, wat beheer oor die vuur gehad het, het van die altaar af gekom. Hy het met 'n harde stem geroep na hom wat die skerp sekel vashou en gesê: “Steek jou skerp sekel in, en sny die druiwetrosse van die wingerd op die aarde af, want die druiwe het ryp geword.” Die engel het toe sy sekel oor die aarde geswaai, en die wingerd op die aarde afgeoes, en dit in die groot parskuip van God se toorn gegooi. En die parskuip is buite die stad getrap. Uit die parskuip het daar bloed gevloei – sestienhonderd stadion ver, tot aan die perde se tooms.

DIE OPENBARING 14:12-20 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Hier is die geduld van die heiliges: hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar. En ek het 'n stem uit die hemel vir my hoor sê: Skryf, Geseënd is die dooies wat van nou af in die Here sterf: Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid; en hulle werke volg hulle. En ek het gesien, en daar was 'n wit wolk, en een het op die wolk gesit soos die Seun van die mens, met 'n goue kroon op sy hoof en in sy hand 'n skerp sekel. En 'n ander engel het uit die tempel uitgekom en met 'n groot stem geroep na Hom wat op die wolk sit: Steek jou sekel in en maai, want die tyd het aangebreek vir jou om te maai; want die oes van die aarde is ryp. En Hy wat op die wolk sit, het sy sekel op die aarde gedruk; en die aarde is gemaai. En 'n ander engel het uit die tempel wat in die hemel is, uitgekom, en hy het ook 'n skerp sekel gehad. En 'n ander engel het van die altaar uitgekom, wat mag oor vuur gehad het; en met 'n groot geroep na hom wat die skerp sekel het, uitgeroep en gesê: Steek jou skerp sekel in en maak die trosse van die wingerdstok van die aarde bymekaar; want haar druiwe is heeltemal ryp. En die engel het sy sekel in die aarde gesteek en die wingerdstok van die aarde bymekaargemaak en dit in die groot parskuip van die toorn van God gegooi. En die parskuip is buitekant die stad getrap, en bloed het uit die parskuip gekom, tot by die tooms van die perde, met 'n afstand van duisend seshonderd myl.

DIE OPENBARING 14:12-20 DB (Die Boodskap)

“Die mense wat aan God behoort, moet net vasbyt. Hulle moet op die regte pad bly. Hulle moet gehoorsaam doen wat God van hulle verwag en aan Jesus Christus getrou bly.” Toe hoor ek ’n stem uit die hemel: “Skryf! Die Here se mense wat van nou af doodgaan, is baie gelukkig. Sowaar! sê die Gees. Nou kan hulle ontspan en rustig wees. Hulle hoef nie meer hard te swoeg nie. Almal in die hemel weet hoe hulle met oorgawe vir God gewerk het toe hulle moes. God self weet dit baie goed.” ’n Spierwit wolk vang toe my oog. Op die wolk het Iemand gesit. Dit het gelyk soos die Seun van die mens. Hy het die goue kroon op sy kop gehad wat net wenners dra. In sy hand het Hy ’n sekel gehou waarmee mense gewoonlik ryp lande afgeoes het. Skielik het ’n ander engel sy opwagting gemaak. Die engel het uit die blyplek van God gekom en hard geskree vir die Man wat op die wolk sit om te hoor: “Steek u sekel in. Maak die oes bymekaar. Die oestyd is hier, want die oes op die aarde is ryp.” (Natuurlik het die engel van die oordeel gepraat.) Die Man op die wolk maak toe so. Hy het sy sekel ingesteek en die hele aarde afgeoes. En nog ’n engel het uit die blyplek van God in die hemel verskyn. Hy het ook so ’n skerp sekel gehad. Skielik was daar nog een wat uit die rigting van God se altaar gekom het. Hy was in beheer van die vuur. Hy skree toe hard vir die engel met die sekel sodat almal kon hoor: “Steek jy ook jou sekel in! Sny die druiwetrosse van die wingerde op aarde af. Die druiwe is ryp.” (So begin die oordeel.) Die engel het nie op hom laat wag nie en het op die aarde begin oes. Wat geoes is, is saam in ’n groot houer gegooi. In hierdie houer is die druiwe stukkend getrap. Hierdie houer kan vergelyk word met die woede en straf van God oor die sonde. So vreeslik was dit dat dit nie in die stad waar die mense gebly het, gedoen is nie. Die bloed het oor die houer gestroom. Die stroom bloed was so diep dat dit tot by die middellyf van ’n man gekom het. Hierdie stroom bloed het 300 kilometer ver geloop.

DIE OPENBARING 14:12-20 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Onder hierdie omstandighede het die gelowiges nodig om te volhard, hulle wat die opdragte van God en die geloof in Jesus bly bewaar. Ek het ook ’n stem van die hemel af hoor sê: “Skryf dit op! Geseënd is die dooies wat van nou af in die Here sterf.” “Ja,” sê die Gees, “hulle sal rus van hulle harde werk, want wat hulle gedoen het, vergesel hulle.” En kyk, ek het ’n wit wolk gesien. Op die wolk het Iemand soos die Seun van die Mens gesit. Hy het ’n goue kroon op sy kop gehad en ’n skerp sekel in sy hand. ’n Ander engel het uit die tempel te voorskyn gekom en met ’n kragtige stem geroep na Hom wat op die wolk sit: “Steek u sekel in en oes, want die uur het aangebreek om te oes. Die oes van die aarde is ryp.” Hy wat op die wolk sit, het toe sy sekel op die aarde ingesteek en die oes ingesamel. Toe het ’n ander engel uit die rigting van die tempel in die hemel gekom terwyl hy ook ’n skerp sekel vashou. Nog ’n ander engel het uit die rigting van die altaar gekom. Hy het mag oor die vuur gehad en met ’n kragtige stem geroep na hom wat die skerp sekel vashou en aan hom gesê: “Steek jou skerp sekel in en sny die druiwetrosse van die wingerd op die aarde af, want sy druiwe het ryp geword.” Die engel het toe sy sekel op die aarde ingesteek en die wingerd geoes, en dit in die druiwepers van God se toorn gegooi. Die druiwepers wat buitekant die stad geleë is, is getrap. Uit die druiwepers het daar bloed gestroom wat tot aan die tooms van die perde geraak en 300 kilometer ver gevloei het.