OPENBARING 14

14
Die 144 000 en die Lam op Sionsberg
1Toe het ek gesien, en kyk, die Lam staan op Sionsberg, en by Hom 144 000 met sy Naam en dié van sy Vader op hulle voorkoppe geskryf. 2En ek het van die hemel af ’n geluid gehoor soos die gedruis van ’n groot waterval en soos die gerammel van swaar donderweer. Die geluid wat ek gehoor het, was soos dié van musikante wat op hulle siters speel.
3Hulle sing ’n nuwe lied in die teenwoordigheid van die troon, die vier lewende wesens en die ouderlinge. Niemand behalwe die 144 000 wat van die aarde af losgekoop is, was in staat om hierdie lied te bemeester nie. 4Dit is hulle wat hulle nie met vroue besoedel het nie omdat hulle onthouding beoefen het.#14:4 Grondteks Hulle is “maagde” wat hulleself nie met vroue verontreinig het nie. Hulle volg die Lam waar Hy ook al lei. Hulle is onder die mense uit losgekoop as ’n eersteling van die oes, gewy aan God en aan die Lam. 5En in hulle mond vind jy geen leuen nie. Hulle is vlekkeloos.
Die gelowiges moet volhard
6Toe het ek ’n ander engel in die middel van die hemelruim sien vlieg. Hy het die ewige Goeie Nuus gebring. Hy moes die Goeie Nuus bring aan die bewoners van die aarde, aan elke nasie, stam, taalgroep en volk. 7En hy het toe met ’n kragtige stem uitgeroep: “Eerbiedig God en bewys Hom eer, want die uur van sy oordeel het aangebreek. Val in aanbidding voor Hom neer wat die hemel en die aarde, die see en die waterfonteine gemaak het.”
8’n Ander engel, ’n tweede, het gevolg en uitgeroep: “Die magtige Babilon het geval, ja, geval! Babilon het al die nasies bedwelm met die wyn van haar passie vir seksuele sonde.”
9Nog ’n engel, ’n derde, het agter die ander gevolg en met ’n kragtige stem uitgeroep: “As iemand neerkniel voor die monster en sy standbeeld en ’n merk op sy voorkop of op sy hand het, 10sal hy ook van die wyn van God se woede moet drink. Dié wyn word onverdun in die beker van sy wraak ingeskink. Hulle sal ook gefolter word in vuur en swael in die teenwoordigheid van die heilige engele en die Lam. 11Die rookwolk van hulle foltering styg vir altyd na bo, en hulle het dag en nag nie rus nie; dit is húlle wat die monster en sy standbeeld aanbid, en wat die merk van sy naam dra.”
12Onder hierdie omstandighede het die gelowiges nodig om te volhard, hulle wat die opdragte van God en die geloof in Jesus bly bewaar.
13Ek het ook ’n stem van die hemel af hoor sê: “Skryf dit op! Geseënd is die dooies wat van nou af in die Here sterf.”
“Ja,” sê die Gees, “hulle sal rus van hulle harde werk, want wat hulle gedoen het, vergesel hulle.”
Die graan en druiwe op aarde is ryp om geoes te word
14En kyk, ek het ’n wit wolk gesien. Op die wolk het Iemand soos die Seun van die Mens gesit. Hy het ’n goue kroon op sy kop gehad en ’n skerp sekel in sy hand. 15’n Ander engel het uit die tempel te voorskyn gekom en met ’n kragtige stem geroep na Hom wat op die wolk sit: “Steek u sekel in en oes, want die uur het aangebreek om te oes. Die oes van die aarde is ryp.”
16Hy wat op die wolk sit, het toe sy sekel op die aarde ingesteek en die oes ingesamel.
17Toe het ’n ander engel uit die rigting van die tempel in die hemel gekom terwyl hy ook ’n skerp sekel vashou.
18Nog ’n ander engel het uit die rigting van die altaar gekom. Hy het mag oor die vuur gehad en met ’n kragtige stem geroep na hom wat die skerp sekel vashou en aan hom gesê: “Steek jou skerp sekel in en sny die druiwetrosse van die wingerd op die aarde af, want sy druiwe het ryp geword.”
19Die engel het toe sy sekel op die aarde ingesteek en die wingerd geoes, en dit in die druiwepers van God se toorn gegooi. 20Die druiwepers wat buitekant die stad geleë is, is getrap. Uit die druiwepers het daar bloed gestroom wat tot aan die tooms van die perde geraak en 300 kilometer ver gevloei het.

Tans Gekies:

OPENBARING 14: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid