DIE OPENBARING 1:2-4 - Compare All Versions

DIE OPENBARING 1:2-4 ABA (Bybel vir almal)

Johannes het alles neergeskryf wat God en Jesus Christus vir hom gesê en gewys het. In hierdie boek is die dinge geskryf wat later sal gebeur. Elkeen wat hierdie boek lees, is 'n gelukkige mens! En almal wat die dinge hoor en wat doen wat in hierdie boek geskryf is, is gelukkige mense! Want die tyd wanneer Christus weer kom, is naby! Ek, Johannes, skryf hierdie brief vir die sewe gemeentes in Asië. Ek groet julle en ek bid dat God en die Sewe Geeste wat voor sy troon is en Jesus Christus genadig sal wees vir julle en dat Hy vir julle sy vrede sal gee. God was altyd daar, Hy is nou daar en Hy sal weer kom.

DIE OPENBARING 1:2-4 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

wat getuig het van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus — alles wat hy gesien het. Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby. JOHANNES aan die sewe gemeentes in Asië: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is

DIE OPENBARING 1:2-4 AFR83 (Afrikaans 1983)

Johannes is die getuie van wat God gesê en wat Jesus Christus bevestig het; hy getuig van alles wat hy gesien het. Geseënd is die een wat die woorde van hierdie profesie lees, en die mense wat dit hoor en wat ter harte neem wat daarin geskrywe staan, want die eindtyd is naby. Van Johannes. Aan die sewe gemeentes in die provinsie Asië. Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon

DIE OPENBARING 1:2-4 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Dit is hy wat getuig van die woord van God, en die getuienis deur Jesus Christus – alles wat hy gesien het. Gelukkig is die een wat dit voorlees, en ook hulle wat die woorde van dié profesie hoor, en vashou aan dit wat daarin geskryf staan, want die bestemde tyd is naby. Johannes, aan die sewe •gemeentes in Asië: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is

DIE OPENBARING 1:2-4 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Wat getuig het van die woord van God en van die getuienis van Jesus Christus en van alles wat hy gesien het. Geseënd is hy wat die woorde van hierdie profesie lees en die wat die woorde van hierdie profesie hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby. Johannes aan die sewe gemeentes wat in Asië is: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste wat voor sy troon is

DIE OPENBARING 1:2-4 DB (Die Boodskap)

Hier volg nou Johannes se presiese weergawe van daardie boodskap van God. Jesus Christus self staan in vir die waarheid daarvan. Johannes het alles wat hy deur visioene gesien het, mooi neergeskryf. Daarom is elkeen wat hierdie boodskap van God lees, baie gelukkig. Ja, gelukkig is almal wat hierdie goddelike woorde hoor en dit ernstig opneem, want daar is nie meer baie tyd oor nie. Ek, Johannes, skryf aan die sewe gemeentes in Asië (daar in Wes-Turkye). Ek groet julle met die wens dat God vir julle alles sal gee wat julle nodig het, of julle dit verdien of nie. Mag julle lewe van God se vrede oorloop. Dit is die God wat nou by ons is, wat nog altyd daar was en ook in die toekoms saam met ons sal wees. Die goeie wense kom ook van die Heilige Gees af wat sorg dat alles gedoen word wat God as Heerser wil hê.

DIE OPENBARING 1:2-4 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Johannes het getuienis gelewer van alles wat hy gesien het: wat God gesê het en wat Jesus getuig het. Geseënd is dié een wat die woorde van dié profesie lees, asook dié wat dit hoor en gehoorsaam wat daarin geskryf staan, want die tyd van beslissing is naby. Hierdie brief kom van Johannes en is gerig aan die sewe gemeentes wat in die provinsie Asië geleë is. Genade en vrede aan julle, van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is