PSALMS 129:1-5 - Compare All Versions
PSALMS 129:1-5 ABA (Bybel vir almal)
'n Lied wanneer mense na die tempel gaan. “Ek het baie vyande gehad vandat ek jonk was,” dit moet die volk Israel sê, “ek het baie vyande gehad vandat ek jonk was, maar hulle kon my nie wen nie. Hulle het my rug stukkend geslaan met swepe. Dit het gelyk soos wanneer iemand geploeg het en die grond stukkend gebreek het. Die Here het reg gedoen, Hy het die toue losgesny waarmee die mense my vasgebind het, die mense wat verkeerd doen. Ek bid dat almal wat vir Sion haat, sal verloor en sal verdwyn.
PSALMS 129:1-5 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
'N BEDEVAARTSLIED. Alreeds te veel het hulle my as vyand behandel van my jeug af — laat Israel dit sê — alreeds te veel het hulle my as vyand behandel van my jeug af; tog het hulle my nie oorwin nie. Ploeërs het op my rug geploeg; hulle het hul vore lank getrek. Die HERE is regverdig: Hy het die toue van die goddelose afgekap. Laat hulle beskaamd staan en agteruitwyk, almal wat Sion haat.
PSALMS 129:1-5 AFR83 (Afrikaans 1983)
'n Pelgrimslied. Hulle het my van jongs af swaar verdruk, dit moet Israel sê, hulle het my van jongs af swaar verdruk, maar hulle kon my nie onderkry nie. Hulle het van my rug 'n ploegland gemaak en daar lang vore op getrek. Die Here is regverdig, Hy het die bande losgesny waarmee die goddeloses my gebind het. Mag almal wat vir Sion haat, self tot niet gaan
PSALMS 129:1-5 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
'n •Pelgrimslied. Van my jeug af het hulle my dikwels aangeval – laat Israel dit sê – van my jeug af het hulle my dikwels aangeval, tog kon hulle nie oor my die oorhand kry nie. Ploeërs het oor my rug geploeg, hulle ploegvore lank getrek; maar die HERE is regverdig – Hy het die goddeloses se toue stukkend gesny. Mag almal wat Sion haat, beskaamd staan en terugdeins.
PSALMS 129:1-5 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Baie keer het hulle my geteister van my jeug af, mag Israel nou sê: Baie keer het hulle my verdruk van my jeug af, maar hulle het my nie oorwin nie. Die ploeë het op my rug geploeg, hulle het hul vore lank gemaak. Die HERE is regverdig: Hy het die toue van die goddelose stukkend gekap. Laat hulle almal wat Sion haat, beskaamd staan en terugdraai.
PSALMS 129:1-5 DB (Die Boodskap)
U kinders sê vir hulleself: “Reeds van kleins af is daar mense wat lelik met ons is. Van jongs af het hulle ons baie sleg behandel, maar hulle kan ons nie onderkry nie. Hulle het ons so geslaan dat dit gelyk het of ’n ploeg slote oor ons lyf oopgekrap het. Maar die Here tree reg op. Hy het ons gered van daardie mense wat Hom nie dien nie.” Here, mag almal wat U en u kinders nie liefhet nie, skaam word en padgee.
PSALMS 129:1-5 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Baie kere, vanaf my jeug, het hulle my verdruk. Laat Israel nou ook sê: Baie kere, vanaf my jeug, het hulle my verdruk, maar hulle kon nie die oorhand oor my kry nie. My rug is vol snye, asof lang vore daarop geploeg is. Maar die HERE is goed; Hy het die bande afgesny waarmee die goddeloses my vasgemaak het. Mag almal wat Sion haat skaam omdraai.