PSALMS 109:21-31 - Compare All Versions
PSALMS 109:21-31 AFR83 (Afrikaans 1983)
U is die Here my God, handel met my só dat u Naam geëer sal word. U is goed en getrou, red my tog. Ek is hulpeloos en arm, my hart is inmekaargekrimp in my. Soos 'n skaduwee wat lank word, is my einde naby, en ek word weggevee soos 'n sprinkaan. My knieë knak al soos ek gevas het, my liggaam is uitgeteer en maer. Ek het die spot van die mense geword; hulle kyk met veragting na my en knik met voldoening die kop. Help my, Here my God, red my in u troue liefde, dat mense kan weet dat dit u hand is, U, Here, wat dit gedoen het. Húlle vloek my, maar U sal my seën. Hulle kla my aan, maar hulle sal verloor, en ek, u dienaar, sal bly wees. Laat my teëstanders met skande oordek word, laat vernedering hulle aankleef soos hulle klere. Dan sal ek my lof aan die Here laat weerklink en Hom voor 'n groot skare prys, want Hy staan by die arme en red hom van dié wat hom ter dood wil veroordeel.
PSALMS 109:21-31 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Maar U, o HERE Here, maak dit goed met my om u Naam ontwil; omdat u goedertierenheid goed is, red my. Want ek is ellendig en behoeftig, en my hart is deurwond in my binneste. Ek gaan heen soos 'n skaduwee as dit lank word; ek is afgeskud soos 'n sprinkaan. My knieë knik van vas, en my vlees het maer geword, sonder vet. En ék het vir hulle 'n smaad geword; as hulle my sien, skud hulle hul hoof. Help my, HERE my God! Verlos my na u goedertierenheid, sodat hulle kan weet dat dit u hand is: U, o HERE, het dit gedoen. Laat húlle vloek, maar U, seën U. Hulle het opgestaan en beskaamd geword, maar u kneg is bly. Laat my teëstanders beklee word met smaad en hulle toedraai in hul skande soos in 'n mantel. Ek sal die HERE hardop loof met my mond, en onder baie sal ek Hom prys; want Hy staan aan die regterhand van die behoeftige om hom te verlos van die wat hom veroordeel.
PSALMS 109:21-31 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Maar mag U, oppermagtige HERE, met my handel tot eer van u Naam! Red my, want u getrouheid is so goed. Ek is arm en in nood, en my hart is hewig ontsteld binne-in my. Soos ’n skadu wat lank word, so kwyn ek weg. Ek is soos ’n sprinkaan wat afgeskud word. My knieë is swak omdat ek vas; ek is net vel en been. Mense spot met my; as hulle my sien, skud hulle die kop. Help my, HERE my God! Red my op grond van u troue liefde. Laat hulle sien dat dit u werke is, dat U dit self gedoen het, HERE. Hulle vervloek my, maar U sal my seën! My aanvallers sal beskaam word, maar u dienaar sal bly wees! Laat my aanklaers met skande bekleed wees, toegewikkel in oneer soos met klere. Ek sal aanhou om die HERE te dank, Hom prys te midde van ’n menigte. Want Hy staan langs die behoeftige, gereed om hom te red van hulle wat veroordeel.
PSALMS 109:21-31 DB (Die Boodskap)
Here, wees asseblief goed vir my. U Naam is op die spel. U is tog die Here, my God! Help my uit die moeilikheid uit. U het u kinders baie lief. Ek is in die moeilikheid. Ek het u hulp nodig. My binneste is stukkend. Ek is besig om stadig dood te gaan. Daar is niks waaraan ek kan vashou nie. My bene vou onder my in. Ek kan nie meer eet nie. Ek is maer. Daar is geen vet meer aan my nie. Slegte mense het op my getrap en my beledig. As hulle my sien, maak hulle ’n gek van my. Hulle haat my, en hulle is bly as dit sleg met my gaan. Here, my God, help my tog! Help my asseblief uit die moeilikheid uit. U het u kinders baie lief. Mense moet sien dat U hulle uit die moeilikheid gehelp het. Slegte mense kan my maar vloek, Here. Gee U vir my goeie dinge. Hulle wou my lelik behandel en seermaak, maar hulle kon nie. Ek dien U. Dit maak my sommer baie bly. Verneder daardie mense wat teen my is. Laat hulle met hulle kop in skaamte wegstap. Dan sal ek die Here prys. Almal moet dit hoor. Ek sal Hom voor baie mense loof. Hy help almal wat sy hulp nodig het! Hy help mense teen skurke wat ander seermaak.
PSALMS 109:21-31 ABA (Bybel vir almal)
Maar Here, my Here, ek behoort aan U, en daarom moet U my help. U moet my red, want U doen altyd wat U belowe het, en dit is goed. U moet dit doen, want ek kan myself nie help nie, ek het niks, en ek het baie pyn. Ek is besig om te verdwyn soos 'n skaduwee wat lank word, soos 'n sprinkaan wat afval wanneer iemand dit afskud van sy klere. Ek het nie kos om te eet nie, my knieë is swak en ek is maer. Die mense wat my beskuldig, spot my, hulle is bly wanneer hulle sien wat met my gebeur. Here, my Here, U moet my help, U moet my red, U het belowe om dit te doen. Die mense wat my beskuldig, moet weet dat dit U is wat dit sleg laat gaan met my, Ú het hierdie dinge aan my gedoen. Ménse vervloek my, maar Ú sal my seën. Hulle het my aangeval, maar hulle sal verloor, en ek, u dienaar, sal bly wees. U moet hierdie mense verneder, die mense wat my beskuldig, hulle moet aanhou verloor. Ek wil aanhou om vir die Here dankie te sê, ek wil Hom prys waar baie mense dit kan hoor, want Hy help die mens wat niks het nie. Die Here red hom wanneer mense hom oordeel en sê dat hy skuldig is.
PSALMS 109:21-31 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Maar, U, HERE, my Heer, handel met my ter wille van u Naam; omdat u troue liefde goed is, red my! Want ek is magteloos en behoeftig, en my hart is deurboor in my binneste. Soos 'n skaduwee wat lank word, gaan ek heen; ek word afgeskud soos 'n treksprinkaan. My knieë gee mee sonder dat ek vas; my liggaam is uitgeteer, sonder olie. En ek, ek het vir hulle 'n bespotting geword; wanneer hulle my sien, skud hulle die kop. Help my, HERE my God; verlos my in u troue liefde, sodat hulle kan weet dat dit u hand is, dat U, HERE, dit gedoen het. Hulle kan maar vervloek, maar U, U sal seën. Sou hulle teen my opstaan, sal hulle beskaam word; u dienskneg sal bly wees. Mag hulle wat my vyandiggesind is, geklee wees in vernedering; mag hulle in hulle skande gehul wees soos in 'n mantel. Met my mond sal ek die HERE met oorgawe prys, tussen baie mense sal ek Hom loof; want Hy staan aan die regterkant van die behoeftige om hom te verlos van hulle wat oor sy lewe wil beslis.
PSALMS 109:21-31 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Maar doen vir my, o HERE, HERE, ter wille van u Naam; want u goedertierenheid is goed, verlos my. Want ek is arm en behoeftig, en my hart is verwond in my binneste. Ek is weg soos 'n skaduwee as dit daal; ek word op en af geslinger soos 'n sprinkaan. My knieë is swak van vas; en my vlees vergaan van vet. Ek het ook vir hulle 'n smaad geword; toe hulle na my kyk, het hulle hul hoofde geskud. Help my, HERE my God, red my na U goedertierenheid! sodat hulle kan weet dat dit U hand is; dat U, HERE, dit gedoen het. Laat hulle vloek, maar seën U; as hulle opstaan, laat hulle beskaamd staan; maar laat U kneg bly wees. Laat my teëstanders met skande beklee word, en laat hulle hulleself bedek met hul eie wanorde soos met 'n mantel. Ek sal die HERE met my mond baie loof; ja, Ek sal Hom loof onder die skare. Want hy sal staan aan die regterhand van die arme, om hom te red van die wat sy siel veroordeel.