Psalms 109

109
1Vir die •musiekleier. Van Dawid. 'n Psalm.
O God, aan wie my lof toekom,
moet tog nie stilbly nie;
2want die monde van goddeloses,
ja, monde vol bedrog,
is wyd oop teen my –
hulle beskuldig my met tonge wat lieg.
3Met woorde van haat
omsingel hulle my;
hulle val my sonder rede aan.
4 In antwoord op my liefde
is hulle vyandig teenoor my,
en dit terwyl ek in gebed is.
5Hulle vergeld my
met kwaad vir goed,
met haat vir my liefde.
6Hulle sê:
“Stel 'n goddelose teen hom aan,
laat 'n aanklaer aan sy regterkant staan.
7 Wanneer die beslissing
oor hom gegee word,
moet hy as 'n skuldige na vore tree;
sy gebed moet hom as sonde
toegereken word.
8Mag sy lewensdae min wees;
mag iemand anders sy amp oorneem.
9Mag sy kinders vaderloos word
en sy vrou 'n weduwee.
10Mag sy kinders bly rondswerf en bedel,
en kos soek op hulle puinhope.
11Mag die skuldeiser beslag lê
op alles wat aan hom behoort,
en mag vreemdes die vrug
van sy arbeid plunder.
12Mag daar vir hom niemand wees
wat in troue liefde uitreik nie;
mag daar niemand wees
wat hom ontferm
oor sy vaderlose kinders nie.
13Mag sy nageslag uitgeroei word –
in die volgende geslag
moet hulle name uitgewis word.
14Mag die sondeskuld van sy voorouers
die Here bybly,
en mag die sonde van sy moeder
nie uitgewis word nie.
15Mag dit altyd voor die Here wees,
sodat Hy die herinnering aan hulle
van die aarde af verdelg;
16omdat hierdie man
nie daaraan gedink het
om troue liefde te bewys nie,
maar magtelose mense en behoeftiges,
dié met vreesbevange harte,
vervolg het om hulle dood te maak.
17Hy was lief vir vervloeking –
dit het hom getref.
Hy het niks gehou van seën nie –
dit het ver van hom gebly.
18Hy het vervloeking aangetrek
soos sy bokleed –
dit het sy binneste ingedring
soos water,
en sy gebeente soos olie.
19Mag dit vir hom word
soos 'n kledingstuk
waarin hy homself hul,
en 'n lyfband wat hy altyd dra.”
20Mag dít van die Here se kant
die straf wees vir hulle
wat my vyandiggesind is,
en wat onheil oor my lewe uitspreek!
21Maar, U, Here, my Heer,
handel met my ter wille van u Naam;
omdat u troue liefde goed is, red my!
22Want ek is magteloos en behoeftig,
en my hart is deurboor in my binneste.
23Soos 'n skaduwee wat lank word,
gaan ek heen;
ek word afgeskud soos 'n treksprinkaan.
24My knieë gee mee sonder dat ek vas;
my liggaam is uitgeteer, sonder olie.
25 En ek, ek het vir hulle
'n bespotting geword;
wanneer hulle my sien,
skud hulle die kop.
26Help my, Here my God;
verlos my in u troue liefde,
27sodat hulle kan weet
dat dit u hand is,
dat U, Here, dit gedoen het.
28Hulle kan maar vervloek,
maar U, U sal seën.
Sou hulle teen my opstaan,
sal hulle beskaam word;
u dienskneg sal bly wees.
29Mag hulle wat my vyandiggesind is,
geklee wees in vernedering;
mag hulle in hulle skande
gehul wees soos in 'n mantel.
30Met my mond sal ek die Here
met oorgawe prys,
tussen baie mense sal ek Hom loof;
31want Hy staan aan die
regterkant van die behoeftige
om hom te verlos van hulle
wat oor sy lewe wil beslis.

Tans Gekies:

Psalms 109: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid