PSALMS 105:42-45 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

PSALMS 105:42-45 AFR83 (Afrikaans 1983)

Ja, Hy het sy heilige belofte aan sy dienaar Abraham gestand gedoen en sy volk juigend, sy uitverkorenes jubelend laat voorttrek. Vir hulle het Hy die heidene se lande gegee; wat deur ander volke met moeite verkry is, het hulle in besit geneem. Daarom moet hulle sy voorskrifte gehoorsaam en sy wil doen. Prys die Here!

PSALMS 105:42-45 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Want Hy het gedink aan sy heilige woord, aan Abraham, sy kneg. En Hy het sy volk laat uitgaan met vreugde, sy uitverkorenes met gejubel. En Hy het aan hulle die lande van die heidene gegee, en wat deur volke met moeite verwerf is, het hulle in besit geneem, dat hulle sy insettinge kan onderhou en sy wette bewaar. Halleluja!

PSALMS 105:42-45 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Hy het inderdaad sy heilige belofte aan Abraham sy dienaar onthou. Hy het sy volk met vreugde gelei, sy uitverkorenes uitgelei met gejuig. Die lande van nasies het Hy aan hulle gegee, en wat ander geplant het, het hulle geoes sodat hulle sy gebooie sou onderhou en sy voorskrifte sou gehoorsaam. Prys die HERE!

PSALMS 105:42-45 DB (Die Boodskap)

Dit alles het Hy gedoen omdat Hy sy belofte onthou, sy belofte wat Hy aan Abraham, sy kneg, gemaak het. Hy het sy volk al singende laat uittrek. Almal wat Hy uitgekies het, het gejuig van vreugde. Hy het vir hulle ongelowiges se grond gegee. Die land wat hulle met moeite verkry het, het God se volk in besit geneem. Wat ander met groot moeite in die hande gekry het, het hulle vir hulle gevat sodat hulle daar kan doen wat Hy sê en op die regte pad kan stap wat Hy vir hulle wys. Prys die Here!

PSALMS 105:42-45 ABA (Bybel vir almal)

Ja, die Here is heilig, Hy het sy belofte onthou. Hy het die belofte vir sy dienaar Abraham gemaak. Die Here het sy volk, die mense wat Hy gekies het, laat uitgaan. Hulle was vrolik en hulle het gesing. Hy het vir sy volk die lande van die heidene gegee. Sy volk kon die goed vir hulleself vat, die goed waarvoor die ander volke hard gewerk het. Hoekom het die Here dit gedoen? Die Here het dit gedoen sodat sy volk sal doen wat Hy vir hulle sê, sodat hulle gehoorsaam sal wees aan die dinge wat Hy vir hulle geleer het.

PSALMS 105:42-45 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Ja, Hy het sy •heilige belofte aan Abraham, sy dienskneg, onthou. Hy het sy volk laat wegtrek met vreugde, sy uitverkorenes met jubelkrete. Hy het aan hulle die landstreke van volke gegee. Wat nasies met moeite verkry het, het hulle in besit geneem, sodat hulle sy vaste voorskrifte kan nakom en by sy wette kan hou.

PSALMS 105:42-45 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Want hy het gedink aan sy heilige belofte en aan Abraham, sy dienaar. En Hy het sy volk met blydskap uitgelei en sy uitverkorenes met blydskap. En hulle het die lande van die nasies aan hulle gegee, en hulle het die arbeid van die volk geërf; sodat hulle sy insettinge kon onderhou en sy wette onderhou. Prys die HERE.