SPREUKE 9:9-12 - Compare All Versions
SPREUKE 9:9-12 AFR83 (Afrikaans 1983)
Gee jou aandag aan 'n wyse mens, en hy kry meer wysheid, leer 'n regverdige, en sy kennis vermeerder. Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig. As jy wysheid het, sal jy lank lewe, jou lewensjare sal vermeerder word. As jy wysheid het, het jy self die voordeel daarvan; as jy 'n ligsinnige mens is, dra jy alleen die las.
SPREUKE 9:9-12 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Deel mee aan die wyse, en hy sal nog wyser word, leer die regverdige, en hy sal insig vermeerder. Die beginsel van die wysheid is die vrees van die HERE, en kennis van die Heilige is verstand. Want deur my word jou dae meer en word jare van lewe vir jou toegevoeg. As jy wys is, is jy wys tot jou voordeel, en is jy 'n spotter, dan moet jy dit alleen dra.
SPREUKE 9:9-12 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Gee jou raad vir ’n wyse mens, en hy sal groter wysheid kry. Onderrig ’n regverdige, en sy kennis sal vermeerder. Wysheid begin daar waar daar ontsag vir die HERE is. Hy wat die heilige God ken, het werklik insig. Wysheid verleng jou lewe, gee jou meer lewensjare. As jy wysheid kry, geniet jy self die voordeel daarvan. As jy dit verafsku, dra jy self die verantwoordelikheid.
SPREUKE 9:9-12 DB (Die Boodskap)
’n Gelowige is heeltemal anders. Wys jy hom mooi op sy foute, sal hy jou liefhê. Gee hom goeie raad, en hy verstaan die lewe beter. Leer hom om reg te lewe, en hy ken groot geluk. Om reg te leef moet jy eers die Here liefhê. As jy die Heilige ken, verstaan jy soveel meer van ’n gelukkige lewe. As jy reg optree, word jou lewe elke dag net lekkerder, jou lewensjare net gelukkiger. Dus, as jy elke dag op die regte manier leef, is die lewe wonderlik. Maar as jy die wysheid verwerp, is die lewe sleg.
SPREUKE 9:9-12 ABA (Bybel vir almal)
Wanneer jy vir 'n wyse mens iets leer, dan kry hy meer wysheid. Wanneer jy vir 'n mens wat reg lewe, iets leer, dan weet hy nóg meer. Wanneer jy die Here respekteer en dien, dan begin jy wysheid kry. Wanneer jy die heilige God ken, dan is jy verstandig. As jy wysheid het, dan sal jy lank lewe, jy sal baie jare lank lewe. As jy wysheid het, dan sal jou wysheid altyd vir jou help. As jy iemand is wat altyd wil spot, dan sal niemand jou help nie.
SPREUKE 9:9-12 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Gee aan 'n wyse, en hy word nog wyser; deel kennis mee aan 'n regverdige, en sy geleerdheid neem toe. Die begin van wysheid is ontsag vir die HERE, en kennis van die Heilige is insig. “Ja, deur my, Wysheid, word jou lewensdae meer, word daar vir jou lewensjare bygevoeg. As jy wys is, is jy wys tot jou voordeel, maar as jy spot, dra jy alleen die gevolge.”
SPREUKE 9:9-12 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Gee onderrig aan 'n wyse, en hy sal nog wyser word; leer 'n regverdige, en hy sal meer geleerdheid hê. Die vrees van die HERE is die begin van wysheid, en die kennis van die heilige is insig. Want deur My sal jou dae vermeerder word en die jare van jou lewe vermeerder. As jy wys is, sal jy wys wees vir jouself