SPREUKE 8:12-21 - Compare All Versions

SPREUKE 8:12-21 AFR83 (Afrikaans 1983)

“Ek, Wysheid, het die verstand, ek het die kennis en die skranderheid. Om die Here te dien, is om te haat wat verkeerd is. Daarom haat ek hoogmoed en hovaardigheid, 'n verkeerde lewe en slinkse woorde. Wie my het, het raad en behaal sukses, ek verleen insig, ek is die een wat die mag gee. Met my hulp regeer konings goed en laat maghebbers reg geskied; met my hulp heers die mense wat mag het, die leiers, elkeen wat reg regeer. Ek het dié lief wat my liefhet; dié wat my soek, vind my. Wie my het, het rykdom en eer, het duursame en blywende besittings. Wat ek vir jou lewer, is beter as goud, selfs fyn goud; wat ek inbring, is meer werd as die suiwerste silwer. Waar ek gaan, is daar geregtigheid, my pad is dié van die reg. Ek maak dié wat my liefhet, ryk, ek maak hulle skure vol.

SPREUKE 8:12-21 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Ek, Wysheid, is vertroud met die skranderheid, en ek vind kennis van regte oorleg. Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en 'n slegte wandel en 'n huigelagtige mond haat ek. Raad en beleid is myne, ek is die insig, sterkte is myne. Deur my regeer die konings en stel die maghebbers vas wat reg is; deur my heers die vorste en die edeles, al die regters van die aarde. Ék het lief die wat my liefhet, en die wat my soek, sal my vind. Rykdom en eer is by my, duursame goed en geregtigheid. My vrug is beter as goud en as fyn goud, en my opbrings as uitgesoekte silwer. Ek wandel op die weg van geregtigheid, in die middel van die paaie van reg, om die wat my liefhet, 'n besitting te laat erwe, en hulle skatkamers maak ek vol.

SPREUKE 8:12-21 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

“Ek, Wysheid, maak my tuis by dié wat verstand het. Ek weet waar om kennis en onderskeidingsvermoë te bekom. Hulle wat respek het vir die HERE, haat dit wat verkeerd is. Daarom haat ek hoogmoed en hovaardigheid, ’n verkeerde lewe en slinkse woorde. Ek besit raad en goeie oordeel. Ek het insig en sterkte. Konings regeer met my hulp. Deur my maak regeerders die regte wette. Leiers neem deur my hulp leiding. Deur my maak vooraanstaande mense die regte uitsprake. Ek het hulle lief wat my liefhet. Hulle wat na my soek, sal my kry. Ek het rykdom en eer, uitsonderlike skatte en geregtigheid. Wat ek gee, is beter as die suiwerste goud. My beloning is beter as die suiwerste silwer. Ek loop die pad van reg en geregtigheid. Ek maak húlle ryk wat my liefhet. Hulle pakkamers maak ek propvol.”

SPREUKE 8:12-21 DB (Die Boodskap)

“Wysheid moet gesien kan word daar waar mense moeilike situasies reg hanteer, daar waar die regte woorde op die regte oomblik gesê word. “Onthou, wysheid begin by liefde vir die Here. Wie Hom liefhet, haat dinge soos om te veel van jouself te dink. Wysheid verag ’n verkeerde manier van leef en praat. “Die wysheid verskaf die regte raad, kennis en insig vir ’n gelukkige lewe. Niemand kan sonder wysheid klaarkom nie. Konings gebruik dit om te regeer, staatspresidente maak goeie wette daarmee en regters sorg dat die regte besluite geneem word. “Wie wysheid liefhet, is gelukkig. Wie daarna smag om reg te leef, sal dit regkry. Wie wys leef, kry rykdom en eer, voorspoed en sukses. Die voordele van die regte manier van leef is onpeilbaar groot. Selfs die suiwerste goud en die duurste silwer kan dit nie koop nie. “Wysheid moet oral in mense te sien wees. Tree daarom in elke lewensituasie reg op. Behandel alle mense billik en reg. Dan sal dit met jou baie goed gaan. Jy sal ’n ryk mens wees.”

SPREUKE 8:12-21 ABA (Bybel vir almal)

Ek is wysheid. Waar ek is, daar weet mense wat om te doen, ek weet wat mense moet leer om die regte dinge te kan doen. Mense wat nie daarvan hou om ander mense te bedrieg nie, is mense wat die Here respekteer en Hom dien. Ek haat mense wat hoogmoedig en trots is, mense wat sleg lewe en vals is wanneer hulle praat. Ek help mense om reg te besluit en om die regte wysheid te kry, ek maak mense slim en sterk. Konings gebruik my wanneer hulle regeer, leiers gebruik my wanneer hulle moet sê wat reg is. Amptenare, belangrike mense, almal wat reg moet oordeel, gebruik my. Ek is lief vir mense wat lief is vir my, mense wat my soek, kry my. Mense wat wysheid het, sal baie goed hê, en ander mense sal hulle respekteer. Hulle sal ryk wees, en dit sal goed gaan met hulle. Ek gee vir mense dinge wat beter is as goud, beter ook as goeie goud, beter as die beste silwer. Waar ek gaan, daar lewe mense reg, en daar doen hulle reg aan ander mense. Ek maak die mense ryk wat lief is vir my, ek maak hulle stoorkamers vol.”

SPREUKE 8:12-21 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

“ Ek, Wysheid, die kennis van goeie oordeel verkry ek. Ontsag vir die HERE is om die kwaad te haat; verwaandheid, hoogmoed, 'n verkeerde pad en 'n verdorwe mond haat ek. Ek beskik oor raad en vindingrykheid; ek, insig, beskik oor krag. Deur my regeer konings, en hooggeplaastes vaardig regverdige dekrete uit. Deur my voer •aanvoerders bevel, ook vooraanstaandes – almal wat regverdige beslissings neem. Wie my liefhet, het ek self ook lief, en wie my soek, sal my vind. Welvaart en eer is by my, bestendige rykdom en geregtigheid. My vrugte is beter as goud, as fyngoud, my opbrengs beter as uitgesoekte silwer. Op die pad van geregtigheid loop ek – presies op die paaie van regverdigheid – om hulle wat my liefhet, besittings te laat erf. Hulle voorraadkamers maak ek vol.

SPREUKE 8:12-21 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Ek wysheid woon in verstandigheid, en ek vind kennis van geestige versinsels. Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is; trotsheid en hoogmoed en die verkeerde weg en die verkeerde mond haat ek. Die raad is myne en die gesonde wysheid; ek is verstand; Ek het krag. Deur my heers konings, en vorste bepaal geregtigheid. Deur my heers vorste en edeles, al die regters van die aarde. Ek het die wat My liefhet, lief; en die wat My vroeg soek, sal My vind. Rykdom en eer is by my; ja, duursame rykdom en geregtigheid. My vrugte is beter as goud, ja, as fyn goud; en my inkomste as uitsoeksilwer. Ek lei op die weg van geregtigheid, in die middel van die paaie van reg. Sodat ek die wat My liefhet, goed kan laat beërwe; en Ek sal hulle skatte vul.