Spreuke 8

8
Lofprysing van die Wysheid
1 Is dit nie Wysheid wat uitroep,
en Verstandigheid wat haar stem
laat opklink nie?
2Op die top van die hoogtes
langs die pad,
waar die hoofpaaie bymekaarkom,
het sy stelling ingeneem.
3Langs die poorte,
by die ingang na die stad,
by die toegang tot die poortdeure,
roep sy opgewonde uit:
4“Na julle, manne, roep ek;
my stem is gerig tot mensekinders.
5 Kry tog insig in vernuf, onverstandiges;
onnoseles, bring die hart tot insig!
6 Luister, want oor gepaste dinge
praat ek –
en oor my lippe kom wat reg is.
7Want die waarheid,
dit verkondig my mond,
en afstootlik vir my lippe
is goddeloosheid.
8Wat reg is, kenmerk al die woorde
uit my mond,
niks daarin is geslepe of verdraai nie;
9 dit is alles duidelik
vir wie insig toon,
en gepas vir hulle
wat kennis verwerf.
10 Aanvaar my vermaning,
en nie silwer nie,
aanvaar kennis eerder as goud.”
11Ja, Wysheid is beter as koraal,
en niks wat begeerlik is,
kan met haar vergelyk word nie.
12“ Ek, Wysheid,
die kennis van goeie oordeel
verkry ek.
13 Ontsag vir die Here
is om die kwaad te haat;
verwaandheid, hoogmoed,
'n verkeerde pad
en 'n verdorwe mond haat ek.
14 Ek beskik oor raad
en vindingrykheid;
ek, insig, beskik oor krag.
15 Deur my regeer konings,
en hooggeplaastes vaardig
regverdige dekrete uit.
16Deur my voer •aanvoerders bevel,
ook vooraanstaandes –
almal wat regverdige beslissings neem.
17 Wie my liefhet, het ek self ook lief,
en wie my soek, sal my vind.
18 Welvaart en eer is by my,
bestendige rykdom en geregtigheid.
19 My vrugte is beter as goud,
as fyngoud,
my opbrengs beter
as uitgesoekte silwer.
20 Op die pad van geregtigheid
loop ek
– presies op die paaie
van regverdigheid –
21 om hulle wat my liefhet,
besittings te laat erf.
Hulle voorraadkamers maak ek vol.
22 “Die Here, Hy het my geskep
as die eerste van sy werke,
voor sy dade van lank gelede.
23In die verre verlede is ek gevorm,
aan die begin, voor die aarde.
24Daar was nog nie •oerwaters nie,
toe is ek voortgebring;
daar was nog nie fonteine
ryk aan water nie.
25 Voordat berge ingeplant is,
voor heuwels daar was,
is ek voortgebring,
26toe Hy nog nie grond
en oop weivelde gemaak het nie –
die eerste grondsoorte
van die vasteland.
27 Toe Hy die hemele gevestig het,
was ek daar.
Toe Hy die horison afgemerk het
oor die oppervlak
van die watermassa;
28toe Hy die wolkehemel
daarbo gevestig,
die fonteine van die oerwater
sterk gemaak het;
29toe Hy vir die see
sy grens vasgestel het,
dat die water nie sy bevel
sou oortree nie;
toe Hy die fondamente
van die aarde afgesteek het,
30was ek 'n lieflingskind aan sy sy –
ek was dag ná dag sy vreugde,
terwyl ek die hele tyd
voor Hom speel.
31Terwyl ek op die bewoonbare
deel van sy aarde speel,
het ek vreugde gevind
in die mensekinders.
32“ Daarom, seuns, luister na my!
Gelukkig is hulle wat op my paaie bly.
33Luister na my vermaning
en word wys;
moet dit nie in die wind slaan nie.
34Gelukkig is die mens
wat na my luister
deur dag ná dag
by my deure te waak,
by die kosyne van my ingange
wag te hou.
35 Ja, wie my vind,
het die lewe gevind;
hy geniet die goedkeuring
van die Here.
36Maar wie my ontbeer,
doen sy lewe geweld aan;
almal wat my haat,
het die dood lief.”

Tans Gekies:

Spreuke 8: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid