Spreuke 31

31
Woorde aan ’n koning
1Hier volg nou die woorde van koning Lemuel van Massa se ma: 2My kind, wat sal ek vir jou sê? Jy wat ek in die lewe gebring het. Jy, my gebedskind, wat ek van die Here afgesmeek het.
3Luister mooi wat ek vir jou wil sê: Moenie jou liggaam vir ’n los vrou gee nie. Moenie dat sy jou lewe vernietig nie. Sulke vroue bring konings tot ’n val.
4Pas op vir te veel wyn. Dit pas nie by ’n koning nie. Mense wat regeer, moet nie heeltyd na drank ruik nie. 5Netnou drink hulle te veel en vergeet hulle hulle pligte. Kort voor lank dink hulle nie meer aan die arm mense wat hulle moet help nie. 6Gee eerder ’n bietjie drank aan mense wat op hulle laaste is, wyn aan hulle met wie dit bitter sleg gaan. 7Laat hulle drink sodat hulle hulle ellende kan vergeet, sodat hulle nie meer aan hulle swaarkry dink nie.
8Help liewer die mense wat nie self hulle saak kan stel nie. Wees jy hulle stem. Kom op vir die hulpeloses. 9Sê jou sê sodat die regte dinge kan gebeur. Sorg jy vir die armes en die onderdruktes.
Die beeld van ’n goeie vrou
10Wie ’n goeie vrou het, het iemand wat baie kosbaar is. Sy is baie meer werd as die duurste juwele.
11Haar man reken op haar en sy beteken baie vir hom. Haar hele lewe lank is sy goed vir hom.
12Wat nodig is vir die huis, dit kry sy. 13Sy verrig haar dagtaak met vreugde. 14Sy sal selfs ook buite die huis gaan werk om nog beter vir haar gesin te sorg.
15Vroegoggend staan sy op om haar gesin te versorg. Vir elkeen het sy ’n taak vir die dag.
16Sy het ’n oog vir ’n winskopie, maar sy dink mooi voor sy koop. Die geld wat sy so spaar, belê sy versigtig.
17Vir harde werk is sy nie bang nie! Wat sy aanpak, maak sy klaar.
18Die kanse wat die lewe haar bied, gryp sy met albei hande. Sy sal tot laat in die nag werk om haar drome waar te maak.
19Haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy doen wat sy moet doen.
20Vir die armes gee sy kos en die behoeftiges help sy. 21As die winter kom, voel sy gerus. Sy weet haar gesin het genoeg warm klere vir die koue.
22Baie van die mooi goed in haar huis het sy self gemaak. Haar pragtige klere is ook handgemaak.
23Omdat sy so bekwaam is, word haar man ook geëer. Almal ken hom. As hy by belangrike mense is, weet hulle wie hy is.
24Met vaardigheid maak sy klere en verkoop dit. Mense koop graag haar handewerk.
25Sy is geestelik sterk en tree altyd waardig op. Vir die toekoms is sy nie bang nie.
26Haar wyse woorde help ander om reg te leef. Sy het goeie raad vir ’n gelukkige lewe.
27Sy is in volle beheer van haar huishouding. Luiheid ken sy nie. 28Haar kinders is dankbaar vir so ’n ma. Haar man oorlaai haar met komplimente.
29In hierdie lewe is daar baie goeie vroue, maar hierdie vrou oortref almal.
30Mooiheid bedrieg, skoonheid vergaan, maar ’n vrou wat die Here liefhet, moet jy vir altyd koester. 31Eer haar vir wat sy doen. Almal sal haar lof besing.

Tans Gekies:

Spreuke 31: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid