SPREUKE 1:7-19 - Compare All Versions
SPREUKE 1:7-19 AFR83 (Afrikaans 1983)
Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag. My seun, jy moet luister na die onderrig wat jou vader jou gee; moenie wat jou moeder jou leer, verontagsaam nie: dit sal jou lewe versier soos 'n krans jou kop en 'n kettinkie jou hals. As sondaars jou wil verlei, my seun, moenie toegee nie. Hulle sal vir jou sê: “Kom ons gaan lê iemand voor en vermoor hom, ons oorval sommer iemand, al het hy ons niks gedoen nie; kom ons laat mense verdwyn soos die dood dit doen, ons maak gesonde mense dood! Ons vat al wat waardevol is en ons maak huise vol met wat ons roof. Jy kan deel in die buit, dit sal ons almal s'n wees.” Moenie met hulle saamgaan nie, my seun, bly van hulle pad af; hulle is daarop uit om kwaad te doen, hulle wil gaan moord pleeg. 'n Voël wat 'n net sien wat vir hom gespan is, vlieg nie daarin vas nie, maar hierdie mense span vir hulleself 'n net, hulle gaan hulle ondergang met oop oë tegemoet. So gaan dit met elkeen wat vat wat hom nie toekom nie: rowery kos hom sy lewe.
SPREUKE 1:7-19 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
DIE vrees van die HERE is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug. My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie; want dit is 'n lieflike krans vir jou hoof en sierlike kettings vir jou hals. My seun, as die sondaars jou wil verlei, moet jy nie inwillig nie; as hulle sê: Gaan saam met ons, laat ons loer op bloed, laat ons die onskuldige voorlê sonder oorsaak, laat ons hulle lewendig verslind soos die doderyk en die gesondes soos die wat in die kuil neerdaal; allerhande kosbare goed sal ons vind, ons huise sal ons vol maak met buit; jy sal jou lot onder ons werp, ons sal almal een beurs hê — my seun, gaan nie met hulle saam op die weg nie, hou jou voet terug van hulle pad; want hulle voete hardloop na die kwaad en haas hulle om bloed te vergiet; want die net word tevergeefs uitgesprei voor die oë van allerhande voëls: so loer hulle op hul eie bloed, hulle lê hulleself voor. So gaan dit met almal wat onregverdige wins maak: dit ontneem sy besitter die lewe.
SPREUKE 1:7-19 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Kennis begin met eerbied vir die HERE, net dwase verag wysheid en dissipline. My seun, luister na wat jou pa jou leer. Moenie wat jou ma vir jou sê in die wind slaan nie. Wat jy by hulle leer, sal jou lewe met goedheid kroon en ’n versiering wees om jou nek. My seun, as goddelose mense jou wil ompraat, moenie na hulle luister nie. Hulle sal miskien vir jou sê: “Kom saam met ons! Kom ons gaan lê iemand voor en vermoor hom. Kom ons oorval iemand, al het hy niks aan ons gedoen nie. Ons wil hulle lewendig laat verdwyn, net soos in ’n graf, soos gesonde mense wat in die dood wegsink. Ons wil baie waardevolle dinge bekom, ons huise vol maak met alles wat ons buit. Word een van ons! Dan deel ons in die buit.” My seun, met hulle moet jy nie saamgaan nie. Bly ver van die pad waarop hulle loop. Hulle loop agter kwaad aan. Hulle kan skaars wag om iemand te vermoor. Wanneer ’n voël sien daar is vir hom ’n wip gestel, dan vlieg hy mos weg. Maar hierdie mense stel vir hulleself ’n hinderlaag op. Hulle soek self na hulle dood. So gaan dit met elkeen wat met geweld ryk wil word: sulke rykdom verwoes die lewe van die een wat dit verkry.
SPREUKE 1:7-19 DB (Die Boodskap)
Lewensgeluk begin by liefde vir die Here. Sonder liefde is daar geen lewensvreugde nie. Iemand wat die Here nie liefhet nie en ook nie weet hoe om reg te leef nie, is dom. Hy verag ook al die spreuke. ’n Jongmens moet die waarhede wat sy pa hom leer, ernstig opneem. Sy ma se lewenswaardes moet hy nie in die wind slaan nie. Ouers se liefdevolle dissipline maak ons mooi mense. Dit is soos klere wat ons lewe versier. As glibberige mense jou deel wil laat hê aan hulle gekonkel, moet jy weier. Pas op as hulle vir jou sê: “Kom ons kul onskuldige mense. Ons laat goeie mense niksvermoedend in ons strikke inloop. Dan gaan hulle onder. Dan vat ons hulle goed en verryk onsself. Kom, wees deel daarvan.” Jongmens, moet tog nooit met sulke mense meng of met hulle saamwerk nie. Hulle doen altyd wat sleg is. Hulle is altyd haastig om ander seer te maak. Hulle gee nie om om iemand dood te maak nie. ’n Voëlnet word tog nie voor voëls gegooi nie. Hulle sien dit en vlieg weg. Slegte mense is egter anders. Hulle sien nie die net nie en word daarin verstrengel. Hulle draai hulle vaster in hulle eie sonde. En op ’n dag is dit klaarpraat met hulle. Sonde kos hulle hulle lewe.
SPREUKE 1:7-19 ABA (Bybel vir almal)
Jy moet gehoorsaam wees aan die Here en jy moet Hom respekteer. As jy dit doen, dan is jy regtig slim. Dit is dwase wat dink dit is nie belangrik om wysheid te hê en om te leer nie. My kind, jy moet luister na wat jou pa en jou ma vir jou wil leer, jy moenie vergeet wat hulle vir jou leer nie. As jy dit nie vergeet nie, dan sal jy 'n mooi lewe hê. My kind, wanneer sondaars jou verkeerd wil laat doen, dan moet jy nie luister na hulle nie. Hulle sal miskien vir jou sê: “Kom saam met ons, dan wag ons totdat iemand verbykom, en dan maak ons hom dood, dit maak nie saak of hy niks verkeerd gedoen het aan ons nie. Hy is nog lewendig en gesond wanneer ons hom vang, maar ons sal hom laat sterf en laat afgaan na die doderyk, na die graf. Dan sal ons baie kosbare goed kry en ons sal ons huise volmaak met die goed wat ons vat. Jy sal een van ons wees en ons sal almal kry van die goed wat ons vat.” My seun, jy moenie dan saam met daardie mense gaan nie, want hulle wil verkeerde dinge gaan doen, hulle wil mense vermoor. Wanneer 'n voël 'n vangnet sien wat mense vir hom styfgetrek het, dan vlieg die voël nie vas in die net nie. Maar hierdie mense trek 'n net styf vir hulleself, hulle sal in hulle eie net sterf. Elke mens wat ander mense se goed wil vat, sal sterf. Dit is wat met hom sal gebeur.
SPREUKE 1:7-19 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Ontsag vir die HERE is die begin van kennis; wysheid en vermaning – net sotte verag dit. My seun, luister na die vermaning van jou vader, en moenie die onderrig van jou moeder verontagsaam nie; want dit is 'n bekoorlike krans vir jou kop, en halssnoere vir jou nek. My seun, as sondaars jou wil verlei, moenie instem nie. As hulle sê: “Gaan saam met ons; laat ons 'n hinderlaag opstel vir bloedvergieting; laat ons 'n onskuldige voorlê sonder rede; laat ons, soos die •doderyk, hulle lewend verslind, volledig, soos dié wat afdaal in die put. Allerlei kosbare besittings sal ons vind; ons sal ons huise vol maak met buit. Deel jou lot met ons; ons sal almal net een beursie hê.” My seun, moenie saam met hulle op die pad gaan nie, hou jou voet terug van hulle paaie; want na die kwaad hardloop hulle voete; hulle is haastig om bloed te vergiet. Ja, tevergeefs word 'n net uitgesprei, waar elke voël met vlerke dit sien; maar hierdie manne stel 'n hinderlaag op vir hulle eie bloedvergieting; hulle stel 'n lokval vir hulleself! So verloop die lewenspad van elkeen wat onregverdige wins maak – dit kos die een wat dit verkry, sy lewe.
SPREUKE 1:7-19 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Die vrees van die HERE is die begin van kennis, maar dwase verag wysheid en tug. My seun, hoor die tug van jou vader, en versaak die wet van jou moeder nie. Want hulle sal 'n sierlike versiering vir jou hoof wees en kettings om jou nek. My seun, as sondaars jou verlei, stem jy nie in nie. As hulle sê: Kom saam met ons, laat ons wag op bloed, laat ons sonder oorsaak in die geheim vir die onskuldiges loer. Laat ons hulle lewendig verslind soos die graf; en heel, soos die wat in die kuil neerdaal; Ons sal alle kosbare goed vind, ons sal ons huise met buit vul. Werp u lot onder ons; laat ons almal een beursie hê: My seun, wandel jy nie saam met hulle op die weg nie; weerhou jou voet van hulle pad: Want hulle voete hardloop na die onheil, en maak gou om bloed te vergiet. Waarlik, tevergeefs word die net uitgesprei voor die oë van enige voël. En hulle het op hul eie bloed gelê en wag; hulle loer in die geheim vir hul eie lewens. So is die weë van elkeen wat winsgewend is; wat die lewe van die eienaars daarvan wegneem.