FILIPPENSE 3:7-16

FILIPPENSE 3:7-16 Bybel vir almal (ABA)

Ja, ek het gedink al hierdie dinge is baie belangrik, maar ek het in Christus begin glo, en toe het ek besef dit alles beteken niks! Ek weet nou die belangrikste ding in die lewe is om Christus Jesus, my Here, te ken! Al die ander dinge beteken niks. Christus is vir my so belangrik dat ek al die ander dinge gelos het, ek dink dit is alles gemors. Ek het iets gekry wat baie beter is as daardie dinge, ek het vir Christus gekry! Ek behoort nou aan Christus. God het my vrygespreek omdat ek in Christus glo, nie omdat ek doen wat die wette sê nie, maar omdat ek glo. Nou ken ek Hom en ek voel sy krag in my lewe, die krag wat Hom weer laat lewe het. Ek kry ook swaar, soos Hy swaargekry het. Ja, ek sterf soos Hy gesterf het, en ek glo dat God my ook weer kan laat lewe nadat ek gesterf het. Ek sê nie dat ek hierdie nuwe lewe al klaar het nie of dat ek al klaar is wat ek moet wees nie. Maar ek sal aanhou probeer om dit te kry, want Christus Jesus het gesê ek behoort aan Hom. Vriende, ek dink nie dat ek dit al klaar alles gekry het nie, maar een ding is vir my belangrik: Ek vergeet al die dinge wat verby is, en ek dink net aan die dinge wat nog sal gebeur. Ek is soos iemand wat resies hardloop om 'n prys te wen. Die prys is om in die hemel te kom, want God het my gekies en ek behoort aan Christus Jesus. Ons almal wat vas glo, moet so dink. As een van julle nie so dink nie, dan sal God vir julle help om reg te dink. Ons het tot nou toe die regte dinge gedoen. Ons moet aanhou om dit te doen.

FILIPPENSE 3:7-16 Die Boodskap (DB)

Al dié dinge was eers vir my ook baie belangrik. Maar Christus het my oë laat oopgaan. Dit het glad geen waarde meer vir my nie. Ek het besef hoe dit ’n mens se aandag kan aftrek van wat regtig belangrik is, en dit is dat ek Christus Jesus as my Here leer ken het. Dit het my laat besef dat al hierdie ander dinge eintlik niks in vergelyking daarmee is nie. Vandat my pad Jesus s’n gekruis het, het die hele manier waarop ek na dinge kyk, verander. Al daardie dinge wat eers vir my so belangrik was, is nou vir my minder as niks werd, want Jesus het vir my alles geword. Hy is nou vir my belangriker as alle ander dinge tesame. Daarom het ek alles gelos vir Hom. Wanneer God na my kyk, moet Hy sien dat ek in ’n intieme verhouding met Jesus staan. Jesus het mos my saak met God reggemaak. Dit was nie omdat ek so mooi na die wet geluister het nie, maar omdat ek Jesus vertrou. Vrede en goeie verhoudings tussen God en mens word ervaar deur almal wat in Jesus glo. God sorg daarvoor. Een ding wil ek nou regtig graag hê, en dit is om Jesus te ken. Daardie krag wat Jesus lewend uit die graf laat uitstap het, wil ek ook hê. Ek wil nie weghardloop vir lyding soos Jesus s’n nie, al beteken dit ook dat ek soos Hy moet sterf. Ek weet tog dat ek soos Hy eendag lewendig uit die kloue van die dood sal stap. Ek wil nie voorgee dat ek geestelik al alles het of al geestelik by die wenpaal verby is nie. Ek span nou eers alles in my in om daardie doel te bereik, juis omdat Jesus sy hand na my uitgesteek en my vasgegryp het. Broers en susters, moenie my verkeerd verstaan nie. Ek wil nie maak asof ek die een is wat volmaak is nie. Allesbehalwe dit; maar ek gee alles om so te probeer wees. Daarom steur ek my nie meer aan my verlede en al die dinge wat toe skeefgeloop het nie. Soos ’n atleet wat sy oë net op die wenpaal hou, so span ek alles in my in: ek wíl die prys aan die einde kry. God self sal die prys uitdeel en my dan na Hom toe roep omdat ek aan Jesus behoort. So behoort volwasse Christene oor dinge te dink. As party van julle op sekere punte van my verskil, laat God vir julle wys wat julle regtig moet dink. Hoe ook al, laat ons nie nou die verkeerde pad vat nie. Laat ons op die regte pad bly.