NUMERI 5:1-10

NUMERI 5:1-10 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet vir die Israeliete sê: Julle moet elke persoon wegstuur wat melaats is, en ook elkeen wat 'n geslagsiekte het of wat onrein geword het omdat hy aan 'n lyk geraak het. Julle moet daardie mans en vroue wegstuur, julle moet hulle uit die kamp stuur, sodat hulle nie hulle kampe onrein laat word nie, die kampe waar Ek tussen hulle woon.” Die Israeliete het dit gedoen. Hulle het die persone wat onrein is, uit die kamp gestuur. Die Israeliete het gedoen wat die Here vir Moses gesê het. Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet vir die Israeliete sê: Wanneer 'n persoon, 'n man of 'n vrou, iets verkeerd doen aan 'n ander mens, dan is hy ontrou aan die Here en dan is daardie persoon skuldig. Hy moet sy sonde bely wat hy gedoen het en hy moet boete betaal omdat hy verkeerd gedoen het. Hy moet dit gee vir die persoon aan wie hy die verkeerde ding gedoen het en hy moet een vyfde meer bysit. As die persoon aan wie hy verkeerd gedoen het, gesterf het, en daar is ook nie iemand wat familie is aan wie hy die boete kan betaal nie, dan moet hy die geld vir die Here gee, en die priester moet dit kry. Maar die persoon wat verkeerd gedoen het, moet ook nog 'n skaap-ram gee. Die skaap-ram moet die offer wees waarmee die priester versoening moet doen vir die persoon.” Die Here het vir Moses gesê: “Wanneer die Israeliete gewyde presente gee om offers te wees, dan moet die priester daarvan kry. Die gewyde presente wat 'n persoon bring, bly sy eie presente, maar hy moet daarvan vir die priester gee wat die priester moet kry.”

NUMERI 5:1-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “Gee die Israeliete opdrag om elkeen wat 'n velsiekte het en elkeen wat 'n afskeiding het, uit die kamp te stuur, ook elkeen wat onrein is omdat hy aan 'n lyk geraak het. Mans sowel as vroue, moet julle uitstuur. Na die buitekant van die kamp moet julle hulle stuur, sodat hulle nie hulle kamp, waar Ek in hulle midde woon, verontreinig nie.” Die Israeliete het toe so gemaak. Hulle het hulle uit die kamp gestuur. Net soos wat die HERE vir Moses beveel het, so het die Israeliete gedoen. Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “ Sê vir die Israeliete, ‘Wanneer 'n man of 'n vrou enige sonde begaan wat 'n mens kan doen, sodat daar ontrou teenoor die HERE gepleeg word, is daardie persoon skuldig. Hulle moet hulle sonde wat hulle gedoen het, bely. Die persoon moet ten volle vergoeding gee vir wat hy verkeerd gedoen het en 'n vyfde daarvan byvoeg. Hy moet dit gee aan wie hy ook al benadeel het. As iemand egter geen naaste familielid het aan wie die skuld vergoed kan word nie, val die verskuldigde bedrag terug aan die HERE. Dit is tot voordeel van die priester, bo en behalwe die ram vir versoening waarmee die priester vir die persoon versoening moet doen. “ ‘Enige •wydingsgeskenk uit al die •heilige gawes van die Israeliete wat hulle na die priester bring, sal syne wees. Elkeen se heilige gawes is sy eie, maar wanneer iemand iets vir die priester gee, behoort dit aan die priester.’ ”