NUMERI 35:9-34

NUMERI 35:9-34 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet met die Israeliete praat en vir hulle sê: Wanneer julle oor die Jordaan-rivier gaan na die land Kanaän, dan moet julle stede kies wat vir julle asielstede kan wees. Iemand kan daarnatoe vlug wanneer hy 'n ander mens per ongeluk doodgemaak het. Die stede moet asielstede wees vir julle. Die naaste familielid van die persoon wat gesterf het, mag nie in die asielstad die moordenaar doodmaak wat een van sy familie doodgemaak het nie. Die volksvergadering moet eers oor hom oordeel. Julle moet ses stede gee wat asielstede kan wees vir julle. Julle moet drie stede oorkant die Jordaan-rivier en drie stede in die land Kanaän gee om asielstede te wees. Daardie ses stede moet asielstede wees vir die Israeliete en vir die vreemdelinge en ander mense by hulle wat nie Israeliete is nie. Elkeen wat iemand doodmaak maar wat dit per ongeluk gedoen het, moet daarnatoe kan vlug. “Maar as hy iemand met 'n stuk yster doodgeslaan het, dan is hy 'n moordenaar, en 'n moordenaar moet sterf, dit is seker. En as hy iemand met 'n gevaarlike klip geslaan het, en die persoon sterf, dan is hy 'n moordenaar, en 'n moordenaar moet sterf, dit is seker. Of as hy iemand met 'n gevaarlike stuk hout geslaan het, en die persoon sterf, dan is hy 'n moordenaar, en 'n moordenaar moet sterf, dit is seker. “Die persoon wat die moordenaar moet doodmaak, is die naaste familielid van die persoon wat dood is. Hy moet hom doodmaak waar hy hom kry. “En ook wanneer iemand 'n ander persoon haat en hy stamp hom of hy wag vir hom en gooi hom dood met iets, of wanneer iemand 'n vyand is van iemand anders en hy slaan die persoon dood, dan moet die persoon wat hom doodgeslaan het, ook sterf, dit is seker. Hy is 'n moordenaar, en die naaste familielid van die persoon wat gesterf het, moet die moordenaar doodmaak waar hy hom kry. “Maar iemand is miskien nie 'n vyand van iemand anders nie, en hy stamp hom skielik of hy gooi hom per ongeluk raak met iets. Of hy gooi 'n gevaarlike klip, hy sien nie waarnatoe die klip gaan nie, en hy gooi iemand raak wat nie sy vyand is nie, iemand wat hy nie wil seermaak nie. As daardie persoon sterf, dan moet die volksvergadering oordeel tussen die persoon wat die ander een doodgemaak het en die familielid van die persoon wat dood is. Die volksvergadering moet die persoon wat die ander een doodgemaak het, red van die familielid van die persoon wat dood is. Die vergadering moet hom terugstuur na die asielstad waarnatoe hy gevlug het, en hy moet daar bly totdat die hoëpriester gesterf het wat met die gewyde olyf-olie gesalf is. “Maar as die persoon wat die ander een doodgemaak het, buite die grens gaan van die asielstad waarnatoe hy gevlug het, en die familielid van die persoon wat dood is, kry hom en hy maak hom dood, dan is die familielid nie skuldig omdat hy hom doodgemaak het nie. Wanneer die persoon wat die ander persoon doodgemaak het, in die asielstad bly totdat die hoëpriester dood is, dan mag hy daarna teruggaan na sy grond. Dit is wat julle en julle nageslag moet doen oral waar julle woon. “Wanneer iemand 'n ander mens doodmaak, en getuies sê hulle het dit gesien, dan moet die moordenaar sterf. Maar wanneer daar net een getuie is, dan mag die moordenaar nie sterf nie. Julle moenie geld neem van iemand omdat hy wil hê jy moet sê 'n moordenaar moenie sterf nie, want 'n moordenaar móét sterf, dit is seker. Julle moet ook nie geld neem omdat 'n persoon wat na 'n asielstad gevlug het, wil hê jy moet sê hy mag teruggaan om op sy grond te woon nie. Hy moet in die asielstad bly totdat die hoëpriester gesterf het. Julle moenie die land ontwy waar julle woon nie, want moord ontwy 'n land. Niemand kan versoening doen vir die land waar iemand vermoor is nie. Die moordenaar moet ook sterf, net dít sal vir die land versoening doen. Julle moenie die land waar julle woon, onrein laat word nie. Dit is die land waar Ek self ook woon, want Ek woon tussen die Israeliete.”

NUMERI 35:9-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle deur die Jordaan na die land Kanaän trek, moet julle gunstig geleë stede vir julle uitsoek; as vrystede moet hulle vir julle dien, dat die een wat 'n doodslag begaan het, een wat per ongeluk 'n mens doodgeslaan het, daarheen kan vlug. En die stede moet vir julle as toevlug dien vanweë die bloedwreker, sodat hy wat 'n doodslag begaan het, nie sterwe voordat hy voor die vergadering gestaan het om geoordeel te word nie. En die stede wat julle gee, moet vir julle, ses in getal, as vrystede dien. Drie van die stede moet julle oos van die Jordaan gee, en drie daarvan moet julle in die land Kanaän gee; vrystede moet hulle wees. Vir die kinders van Israel en die vreemdeling en die bywoner onder hulle moet hierdie ses stede as toevlug dien, sodat elkeen daarheen kan vlug wat per ongeluk 'n mens doodgeslaan het. Maar as hy hom slaan met 'n ystervoorwerp, sodat hy sterwe, dan is hy 'n moordenaar; die moordenaar moet sekerlik gedood word. En as hy hom slaan met 'n klip in die hand — waardeur iemand kan sterwe — en hy sterwe, dan is hy 'n moordenaar; die moordenaar moet sekerlik gedood word. Of as hy hom slaan met 'n houtvoorwerp in die hand — waardeur iemand kan sterwe — en hy sterwe, dan is hy 'n moordenaar; die moordenaar moet sekerlik gedood word. Die bloedwreker, hy moet die moordenaar doodmaak; as hy hom kry, moet hy hom doodmaak. En as hy hom uit haat stamp of met opset na hom gooi, sodat hy sterwe, of hom uit vyandskap met sy hand slaan, sodat hy sterwe, dan moet hy wat geslaan het, sekerlik gedood word; hy is 'n moordenaar; die bloedwreker moet die moordenaar doodmaak as hy hom kry. Maar as hy hom onvoorsiens, sonder vyandskap, stamp of enigiets sonder opset na hom gooi; of as hy enige klip waardeur iemand kan sterwe — as hy, sonder om dit te sien, dit op hom laat val, sodat hy sterwe, terwyl hy geen vyand van hom was en sy onheil nie gesoek het nie, dan moet die vergadering tussen hom wat doodgeslaan het, en die bloedwreker oordeel volgens hierdie voorskrifte. En die vergadering moet hom wat 'n doodslag begaan het, red uit die hand van die bloedwreker, en die vergadering moet hom laat teruggaan na sy vrystad waarheen hy gevlug het; en hy moet daarin bly tot die dood van die hoëpriester wat met die heilige olie gesalf is. Maar as hy wat 'n doodslag begaan het, ooit buitekant die grens van sy vrystad gaan waarheen hy moes vlug, en die bloedwreker hom buitekant die grens van sy vrystad kry, en die bloedwreker hom doodslaan wat 'n doodslag begaan het, dan sal daar vir hom geen bloedskuld wees nie. Want hy moet in sy vrystad bly tot die dood van die hoëpriester; maar ná die dood van die hoëpriester mag die een wat 'n doodslag begaan het, teruggaan na die land waar sy besitting lê. En dit moet vir julle 'n regsinsetting wees in julle geslagte, in al julle woonplekke. As iemand 'n mens doodslaan, moet die moordenaar op verklaring van getuies gedood word; maar een getuie is nie genoegsaam om iemand tot die dood te veroordeel nie. Maar julle mag geen losgeld aanneem vir die lewe van 'n moordenaar wat skuldig is om te sterwe nie, want hy moet sekerlik gedood word. Ook mag julle geen geld aanneem om iemand vry te stel van die vlug na sy vrystad — sodat hy kan teruggaan om in die land te woon — tot op die dood van die hoëpriester nie. En julle mag die land nie ontheilig waar julle in is nie; want die bloed ontheilig die land, en vir die land word geen versoening gedoen vir die bloed wat daarin vergiet is nie, as net deur die bloed van hom wat dit vergiet het. En jy mag die land waar julle in woon, nie verontreinig nie, omdat Ek daarin woon; want Ek, die HERE, woon in die midde van die kinders van Israel.

NUMERI 35:9-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: Wanneer julle deur die Jordaan na Kanaän toe trek, moet julle stede aanwys wat asielstede vir julle kan wees waarheen 'n persoon kan vlug wat onopsetlik die dood van 'n ander veroorsaak het. Dit moet vir julle plekke wees waar julle veilig is teen die wraak van 'n bloedverwant van die oorledene, sodat iemand wat 'n ander se dood veroorsaak het, nie hoef te sterf voordat hy sy saak voor die bevoegde vergadering gelê het nie. Die ses stede wat julle gee, sal vir julle asielstede wees. Julle moet drie asielstede oos van die Jordaan en drie in Kanaän beskikbaar stel. Die ses stede moet plekke van asiel wees vir Israeliete sowel as vir vreemdelinge en ander uitlanders tussen julle, sodat elkeen wat onopsetlik die dood van 'n ander veroorsaak het, daarheen kan vlug. “As iemand 'n ander met 'n stuk yster slaan, sodat hy sterf, is hy 'n moordenaar en moet hy beslis doodgemaak word. As iemand in sy hand 'n klip het wat groot genoeg is om 'n mens mee dood te maak, en hy slaan 'n ander daarmee dat hy sterf, is hy 'n moordenaar en moet hy beslis doodgemaak word. As iemand in sy hand 'n stuk hout het wat groot genoeg is om 'n mens mee dood te maak, en hy slaan 'n ander dat hy sterf, is hy 'n moordenaar en moet hy beslis doodgemaak word. 'n Bloedverwant van die oorledene moet die dood wreek en die moordenaar doodmaak waar hy hom ook al kry. As iemand 'n ander uit haat stamp of hom doelbewus met iets gooi, sodat hy sterf of hom uit vyandskap met die vuis slaan, sodat hy sterf, moet so iemand doodgemaak word; hy is 'n moordenaar. 'n Bloedverwant van die oorledene moet die dood wreek en die moordenaar doodmaak waar hy hom ook al kry. “Maar as iemand sonder opset en sonder vyandskap 'n ander stamp of hom per ongeluk raakgooi of as iemand sonder dat hy kyk 'n klip gooi wat die dood kan veroorsaak, en dit 'n ander tref, sodat hy sterf, en hy wat gegooi het, het dit nie uit vyandskap of met verkeerde bedoelings gedoen nie, moet die bevoegde vergadering volgens hierdie bepalings uitspraak lewer tussen hom wat die dood veroorsaak het en die bloedverwant wat die dood wil wreek. Die vergadering moet die beskuldigde bevry uit die mag van die bloedverwant en hom terugstuur na die asielstad toe waarheen hy gevlug het. Dáár moet hy bly totdat die hoëpriester, die man wat met gewyde olie gesalf is, gesterf het. Maar as die een wat die dood veroorsaak het, hom waag buite die gebied van die asielstad waarheen hy gevlug het, en die bloedverwant wat die dood wil wreek, loop hom raak, mag die bloedverwant hom doodmaak sonder om skuldig te wees aan moord. Die man wat die dood veroorsaak het, moet in die asielstad bly tot die dood van die hoëpriester, en eers ná die dood van die hoëpriester kan hy na sy eie grond toe teruggaan. “Dit is 'n vaste voorskrif vir julle en vir julle nageslag, waar julle ook al mag woon. Enigeen wat die dood van 'n ander veroorsaak, mag slegs as moordenaar doodgemaak word op grond van die getuienis van meer as een persoon. Een getuie is nie genoeg om iemand met die dood te straf nie. Julle mag nie loskoopgeld aanneem vir die lewe van 'n moordenaar wat die dood skuldig is nie. Hy moet beslis doodgemaak word. Julle mag ook nie loskoopgeld aanneem vir iemand wat na sy asielstad toe gevlug het en voor die dood van die hoëpriester na sy grond toe teruggekeer het nie. Julle mag die land waarin julle woon, nie onrein maak nie, want bloedvergieting verontreinig die land en daar kan alleen deur die dood van hom wat die bloed vergiet het, versoening gedoen word vir die land waarin die bloed vergiet is. Julle moenie die land waarin julle bly en waar Ek teenwoordig is, onrein maak nie, want Ek, die Here, is teenwoordig by die Israeliete.”

NUMERI 35:9-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘Wanneer julle die Jordaan oorsteek na die land Kanaän, moet julle vir julle stede uitsoek; asielstede moet dit vir julle wees. Iemand wat 'n lewe geneem het, wat iemand onopsetlik gedood het, moet daarheen vlug. Dit moet vir julle asielstede teen bloedwrekers wees, sodat iemand wat 'n lewe geneem het, nie sal sterf voordat hy voor die volksvergadering verskyn het vir 'n beslissing nie. Van die stede wat julle afstaan, moet ses vir julle asielstede wees. Drie stede moet julle aan die oorkant van die Jordaan afstaan, en drie stede moet julle in die land Kanaän afstaan. Dit moet asielstede wees. Vir die Israeliete, vir •vreemdelinge en vir bywoners tussen julle moet hierdie ses asielstede daar wees, sodat enigiemand wat 'n persoon onopsetlik doodgemaak het, daarheen kan vlug. “ ‘ Maar as hy iemand met 'n ystervoorwerp geslaan het en die persoon sterf, is hy 'n moordenaar. Die moordenaar moet beslis sterf. En as hy met 'n klip in die hand wat die dood kan veroorsaak, iemand geslaan het, en hy is dood, is hy 'n moordenaar. Die moordenaar moet beslis sterf. Of as hy met 'n houtvoorwerp in die hand wat die dood kan veroorsaak, iemand geslaan het, en hy is dood, is hy 'n moordenaar. Die moordenaar moet beslis sterf. Die bloedwreker, hy moet die moordenaar doodmaak. Wanneer hy hom raakloop, moet hy hom doodmaak. En as iemand uit haat 'n ander gestamp of iets met opset na hom gegooi het, en hy sterf, of hom uit vyandskap met die hand geslaan het, en hy is dood, moet die een wat doodgemaak het, beslis sterf; hy is 'n moordenaar. Die bloedwreker moet die moordenaar doodmaak wanneer hy hom raakloop. “ ‘Maar as iemand onverwags, sonder vyandskap, 'n ander gestamp het, of enige voorwerp onopsetlik na hom gegooi het, of in onoplettendheid ook enige klip wat die dood kan veroorsaak, en hy hom getref het, en hy dood is, maar hy was nie sy vyand nie, en hy het nie bedoel om hom kwaad aan te doen nie, dan moet die volksvergadering op grond van hierdie bepalings uitspraak lewer tussen die een wat doodgemaak het en die bloedwreker. Die volksvergadering moet die een wat 'n lewe geneem het uit die hand van die bloedwreker red. Die volksvergadering moet hom laat terugkeer na sy asielstad waarheen hy gevlug het. Hy moet daarin woon tot die dood van die hoëpriester wat met die heilige olie gesalf is. “ ‘As die een wat 'n lewe geneem het, egter enigsins die gebied van sy asielstad waarheen hy moes vlug, verlaat, en die bloedwreker kry hom buite die gebied van sy asielstad, en die bloedwreker maak die een dood wat 'n lewe geneem het, rus daar nie bloedskuld op hom nie. Want die persoon moet in sy asielstad bly tot die dood van die hoëpriester. Ná die dood van die hoëpriester mag die een wat 'n lewe geneem het, na die streek van sy erfgrond terugkeer. Dit moet vir julle 'n wetlike voorskrif wees, vir julle nageslagte in al julle woonplekke. “ ‘ Wat betref enigiemand wat 'n persoon doodgemaak het – net op grond van die verklaring van getuies mag die een wat 'n lewe geneem het, doodgemaak word. Maar die doodstraf mag nie opgelê word wanneer net een getuie teen 'n persoon getuig nie. “ ‘ Julle mag nie vrykoopgeld aanvaar vir die lewe van 'n moordenaar wat ter dood veroordeel is nie, want hy moet beslis sterf. Julle mag nie van iemand vrykoopgeld aanvaar in ruil vir die vlug na sy asielstad, met die doel dat hy kan terugkeer om in die land te woon voor die dood van die priester nie. Julle mag nie die land waarin julle is, besoedel nie. Ja, bloed, dit is wat die land besoedel. Vir die land word nie versoening gedoen vir die bloed wat daarin vergiet is nie, behalwe deur die bloed van hom wat dit vergiet. Julle mag nie die land waarin julle woon, waarin Ek ook vertoef, verontreinig nie; want Ek, die HERE, vertoef tussen die Israeliete.’ ”

NUMERI 35:9-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle oor die Jordaan trek na die land Kanaän; Dan moet julle stede aanstel om vir julle vrystede te wees; dat die moordenaar daarheen kan vlug, wat iemand onverhoeds doodmaak. En dit sal vir julle stede wees as toevlug teen die wraakgierige; dat die moordenaar nie sterf nie, totdat hy voor die vergadering staan in die oordeel. En van hierdie stede wat julle sal gee, sal julle ses stede as toevlug hê. Julle moet drie stede aan die oorkant van die Jordaan gee, en drie stede moet julle gee in die land Kanaän, wat vrystede sal wees. Hierdie ses stede sal 'n toevlug wees vir die kinders van Israel sowel as vir die vreemdeling en vir die bywoner onder hulle; En as hy hom met 'n ysterwerktuig slaan, sodat hy sterf, is hy 'n moordenaar; die moordenaar moet sekerlik gedood word. En as hy hom slaan deur 'n klip te gooi waarmee hy kan sterwe, en hy sterf, is hy 'n moordenaar; die moordenaar moet sekerlik gedood word. Of as hy hom slaan met 'n houthandwapen waarmee hy kan sterf, en hy sterf, is hy 'n moordenaar; die moordenaar moet sekerlik gedood word. Die bloedwrekenaar self sal die moordenaar doodmaak; as hy hom teëkom, sal hy hom doodmaak. Maar as hy hom uit haat stoot, of hom met waggeluid aanslinger, dat hy sterwe; Of slaan hom in vyandskap met sy hand, dat hy sterwe; wie hom geslaan het, moet sekerlik gedood word; want hy is 'n moordenaar: die bloedwreker sal die moordenaar doodmaak as hy hom ontmoet. Maar as hy hom skielik sonder vyandskap stoot, of enigiets op hom gegooi het sonder om te wag, Of met enige klip waarmee 'n mens kan sterwe sonder dat hy hom sien en dit op hom werp, sodat hy sterf en nie sy vyand was nie, en ook nie sy onheil gesoek het nie; Dan moet die vergadering oordeel tussen die doodslager en die bloedwrekenaar volgens hierdie verordeninge: En die vergadering moet die doodslager uit die hand van die bloedwrekenaar red, en die vergadering moet hom teruggee in die vrystad waarheen hy gevlug het; en hy moet daarin bly tot die dood van die hoëpriester wat is met die heilige olie gesalf. Maar as die moordenaar te eniger tyd kom buite die grens van sy vrystad waarheen hy gevlug het; En die bloedwrekenaar het hom gevind buite die grense van sy vrystad, en die bloedwrekenaar het die moordenaar doodgemaak; hy mag nie aan bloed skuldig wees nie; Omdat hy in sy vrystad moes gebly het tot die dood van die hoëpriester; maar ná die dood van die hoëpriester moet die moordenaar teruggaan na die land van sy besitting. So moet hierdie dinge vir julle 'n insetting van oordeel wees in julle geslagte in al julle wonings. Wie iemand doodslaan, die moordenaar moet deur die mond van getuies gedood word; maar een getuie mag nie teen iemand getuig om hom te laat sterf nie. Verder mag julle geen versadiging neem vir die lewe van 'n moordenaar wat skuldig is aan die dood nie, maar hy moet sekerlik gedood word. En julle mag geen versadiging neem vir hom wat na sy vrystad gevlug het om terug te kom om in die land te woon tot die dood van die priester nie. Daarom mag julle die land waarin julle is nie ontheilig nie, want bloed verontreinig die land; en die land kan nie gereinig word van die bloed wat daarin vergiet is nie, maar deur die bloed van hom wat dit vergiet het. Verontreinig dan nie die land waarin julle sal woon waarin Ek woon nie, want Ek, die HERE, woon onder die kinders van Israel.

NUMERI 35:9-34 Die Boodskap (DB)

Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: Wanneer julle deur die Jordaanrivier getrek het, moet julle vir julle ’n aantal stede uitsoek wat bekend sal staan as toevlugstede. Die doel van hierdie stede is dat as iemand sonder opset ’n ander persoon doodgemaak het, hulle daarheen kan vlug en daar beskerm kan word. Dan kan die familie van die persoon wat doodgemaak is, nie die ander persoon uit weerwraak daar kom vang en doodmaak nie. Daar sal hy eers die kans kry om sy saak aan die leiers van die volk te stel. Julle moet ses sulke toevlugstede aanwys. Drie in die gebied oos van die Jordaanrivier en drie in Kanaän, wes van die Jordaanrivier. Hierdie stede moet veilige stede wees vir enigeen wat per ongeluk iemand anders doodgemaak het, of die persoon nou ’n Israeliet is of een van die ander mense wat saam met julle bly. Dit geld vir almal. “Maar as iemand ’n ander persoon met ’n stuk yster slaan en hy gaan dood, is dit moord. Dan moet die moordenaar die doodstraf kry. Of as iemand ’n ander persoon met ’n groot klip slaan en hy gaan dood, is dit moord. Dan moet die moordenaar die doodstraf kry. En as iemand ’n ander persoon met ’n gevaarlike stuk hout bydam en hy gaan dood, is dit moord. Dan moet die moordenaar die doodstraf kry. In al hierdie gevalle het die naaste familielid van die vermoorde persoon die verantwoordelikheid om die moordenaar aan die pen te laat ry vir die moord. Ook in die geval waar iemand ’n ander mens haat en hy die persoon hard omstamp of hom doelbewus met iets gooi, of hom met die vuis slaan sodat hy doodgaan, is dit moord. Dan moet die moordenaar die doodstraf kry. ’n Familielid van die vermoorde het die verantwoordelikheid om die moordenaar te soek en aan die pen te laat ry vir die moord.” “Sê nou dit gebeur dat iemand per ongeluk en sonder dat hy ooit kwaad was, iemand hard omstamp of per ongeluk raak gooi, of sonder dat hy dit gesien het, hom met ’n klip raak gooi sonder enige bybedoelings en die persoon gaan as gevolg hiervan dood, dan moet die leiers die saak ondersoek. Hulle moet besluit wat hulle gaan doen met die saak tussen die beskuldigde en die familielid van die persoon wat dood is. Die volgende riglyne moet gevolg word: As die vergadering besluit dat die persoon per ongeluk doodgemaak is en dat dit nie ’n beplande moord was nie, moet hulle hulle uitspraak in die guns van die beskuldigde gee. Om hom te beskerm teen die wraak van die familielid van die dooie, moet hulle hom laat teruggaan na die toevlugstad waarheen hy gevlug het. Hy moet in dié stad bly tot die dood van die hoëpriester. Maar as hy die toevlugstad voor die tyd verlaat, en die familielid van die dooie loop hom raak en maak hom dood, is dit nie moord nie. Want iemand wat na ’n toevlugstad toe gevlug het, moet daar bly tot die dood van die hoëpriester. Eers daarna is dit veilig om uit te kom en terug te gaan huis toe. Hierdie reëls geld vir julle en julle nageslag, maak nie saak waar julle bly nie. “Iemand wat van moord aangekla word, mag slegs tereggestel word indien daar meer as een getuie is wat dit gesien het. Die getuienis van een persoon is nie aanvaarbaar nie. ’n Moordenaar wat skuldig bevind is, moet tereggestel word. Hy kan nie ’n loskoopboete betaal nie. Iemand wat per ongeluk iemand anders doodgemaak het en na ’n toevlugstad toe gestuur is, kan ook nie geld betaal om homself los te koop nie. Die persoon moet in die toevlugstad bly tot die dood van die hoëpriester. Julle mag nie die land waarin julle nou gaan bly, met moord besoedel nie. Daar is net een manier waarop die skuld hiervoor betaal kan word om die land weer skoon te kry en dit is om die persoon wat die moord gepleeg het, tereg te stel. Julle moenie die land waarin julle bly, besoedel nie, want Ek self bly ook daar. Ek is die Here wat tussen die Israeliete woon.”

NUMERI 35:9-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE het toe vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: Wanneer julle deur die Jordaan getrek het en in Kanaän bly, moet julle bepaalde dorpe aanwys waar iemand wat ’n ander mens sonder opset doodgemaak het asiel kan gaan kry. Die persoon sal hier beskerming teen die wraak van die vermoorde se familie kry. Die persoon mag nie tereggestel word voordat hy voor die regters verskyn het nie. Julle moet op ses plekke besluit. Drie van hulle moet oos van die Jordaan wees en drie aan die westekant in Kanaän. Hierdie ses plekke moet beskerming gee vir Israeliete, vreemdelinge en enigiemand wat tydelik tussen julle woon. Enigeen wat ’n ander een per ongeluk doodgemaak het, kan daarheen vlug.” “As iemand ’n ander een met ’n stuk yster slaan en hy gaan dood, het hy moord gepleeg. Die moordenaar moet beslis tereggestel word. As iemand ’n ander een met ’n groot klip in sy hand doodgemaak het, is dit moord. Hy moet beslis doodgemaak word. As hy hom met ’n stuk hout doodgeslaan het, is dit moord. Hy moet tereggestel word. Die slagoffer se naaste familielid moet sy dood wreek. Hy moet die moordenaar doodmaak waar hy hom ook al kry. As iemand ’n ander doelbewus stamp of hom voorlê en met iets gooi, en die persoon gaan dood, of hom moedswillig met die vuis slaan sodat hy sterf, moet hy tereggestel word. Hy is skuldig aan moord. ’n Naaste familielid van die slagoffer moet sy dood wreek en die moordenaar doodmaak waar hy hom ook al kry. “As iemand egter sonder opset en sonder dat hy dit vooraf beplan het, iemand anders omstamp sodat hy sterf, of hom per ongeluk met iets raak gooi sonder dat hy dit bedoel het, of as iemand sonder dat hy mooi kyk iemand teen wie hy niks het nie met ’n klip raak gooi dat hy daarvan doodgaan, moet die regters in die saak tussen die aangeklaagde en die naaste familielede uitspraak lewer volgens hierdie riglyne. Die regters moet die beskuldigde beskerm teen die familie wat wil wraak neem. Hulle moet hom terugstuur na die plek van asiel waarheen hy gevlug het. Hy moet daar bly totdat die hoëpriester, wat vir sy amp met olie gesalf is, die dag doodgaan. “As die persoon wat die ander doodgemaak het, die gebied verlaat van die plek waarheen hy vir asiel gevlug het, en die familielid wat die dood moet wreek, loop hom raak buite die gebied waar hy vrywaring geniet, mag die familielid hom doodmaak. Hy sal nie skuldig wees aan moord nie. Die man wat die ander se dood veroorsaak het, moet in die plek van asiel bly totdat die hoëpriester sterf. Hy kan eers nadat die hoëpriester dood is, teruggaan na sy eie grond waar hy vandaan kom. “Hierdie riglyne staan vas vir julle en vir julle nageslag, waar julle julle ook al bevind. “Enige persoon wat skuldig bevind word dat hy iemand anders doodgemaak het, moet tereggestel word. Hy mag egter nooit op grond van slegs een getuie tereggestel word nie. “Julle mag nooit ’n afkoopboete aanvaar vir ’n moordenaar wat skuldig bevind is nie. Hy moet beslis doodgemaak word. Julle mag ook nie afkoopgeld aanvaar vir iemand wat na ’n plek van asiel gevlug het sodat hy kan terugkom na sy plek van herkoms voordat die hoëpriester dood is nie. “Julle moenie die land besoedel waarin julle woon nie. Moord besoedel die land. Die moord wat gepleeg is, kan ook nie anders versoen word as deur die teregstelling van hom wat die moord gepleeg het nie. Julle moenie die land waarin julle woon onrein maak nie. Ék bly ook daar. Ek is die HERE wat tussen die Israeliete bly.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid