Numeri 35:9-34

Numeri 35:9-34 AFR20

Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘Wanneer julle die Jordaan oorsteek na die land Kanaän, moet julle vir julle stede uitsoek; asielstede moet dit vir julle wees. Iemand wat 'n lewe geneem het, wat iemand onopsetlik gedood het, moet daarheen vlug. Dit moet vir julle asielstede teen bloedwrekers wees, sodat iemand wat 'n lewe geneem het, nie sal sterf voordat hy voor die volksvergadering verskyn het vir 'n beslissing nie. Van die stede wat julle afstaan, moet ses vir julle asielstede wees. Drie stede moet julle aan die oorkant van die Jordaan afstaan, en drie stede moet julle in die land Kanaän afstaan. Dit moet asielstede wees. Vir die Israeliete, vir •vreemdelinge en vir bywoners tussen julle moet hierdie ses asielstede daar wees, sodat enigiemand wat 'n persoon onopsetlik doodgemaak het, daarheen kan vlug. “ ‘ Maar as hy iemand met 'n ystervoorwerp geslaan het en die persoon sterf, is hy 'n moordenaar. Die moordenaar moet beslis sterf. En as hy met 'n klip in die hand wat die dood kan veroorsaak, iemand geslaan het, en hy is dood, is hy 'n moordenaar. Die moordenaar moet beslis sterf. Of as hy met 'n houtvoorwerp in die hand wat die dood kan veroorsaak, iemand geslaan het, en hy is dood, is hy 'n moordenaar. Die moordenaar moet beslis sterf. Die bloedwreker, hy moet die moordenaar doodmaak. Wanneer hy hom raakloop, moet hy hom doodmaak. En as iemand uit haat 'n ander gestamp of iets met opset na hom gegooi het, en hy sterf, of hom uit vyandskap met die hand geslaan het, en hy is dood, moet die een wat doodgemaak het, beslis sterf; hy is 'n moordenaar. Die bloedwreker moet die moordenaar doodmaak wanneer hy hom raakloop. “ ‘Maar as iemand onverwags, sonder vyandskap, 'n ander gestamp het, of enige voorwerp onopsetlik na hom gegooi het, of in onoplettendheid ook enige klip wat die dood kan veroorsaak, en hy hom getref het, en hy dood is, maar hy was nie sy vyand nie, en hy het nie bedoel om hom kwaad aan te doen nie, dan moet die volksvergadering op grond van hierdie bepalings uitspraak lewer tussen die een wat doodgemaak het en die bloedwreker. Die volksvergadering moet die een wat 'n lewe geneem het uit die hand van die bloedwreker red. Die volksvergadering moet hom laat terugkeer na sy asielstad waarheen hy gevlug het. Hy moet daarin woon tot die dood van die hoëpriester wat met die heilige olie gesalf is. “ ‘As die een wat 'n lewe geneem het, egter enigsins die gebied van sy asielstad waarheen hy moes vlug, verlaat, en die bloedwreker kry hom buite die gebied van sy asielstad, en die bloedwreker maak die een dood wat 'n lewe geneem het, rus daar nie bloedskuld op hom nie. Want die persoon moet in sy asielstad bly tot die dood van die hoëpriester. Ná die dood van die hoëpriester mag die een wat 'n lewe geneem het, na die streek van sy erfgrond terugkeer. Dit moet vir julle 'n wetlike voorskrif wees, vir julle nageslagte in al julle woonplekke. “ ‘ Wat betref enigiemand wat 'n persoon doodgemaak het – net op grond van die verklaring van getuies mag die een wat 'n lewe geneem het, doodgemaak word. Maar die doodstraf mag nie opgelê word wanneer net een getuie teen 'n persoon getuig nie. “ ‘ Julle mag nie vrykoopgeld aanvaar vir die lewe van 'n moordenaar wat ter dood veroordeel is nie, want hy moet beslis sterf. Julle mag nie van iemand vrykoopgeld aanvaar in ruil vir die vlug na sy asielstad, met die doel dat hy kan terugkeer om in die land te woon voor die dood van die priester nie. Julle mag nie die land waarin julle is, besoedel nie. Ja, bloed, dit is wat die land besoedel. Vir die land word nie versoening gedoen vir die bloed wat daarin vergiet is nie, behalwe deur die bloed van hom wat dit vergiet. Julle mag nie die land waarin julle woon, waarin Ek ook vertoef, verontreinig nie; want Ek, die HERE, vertoef tussen die Israeliete.’ ”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid