NUMERI 3:40-51
NUMERI 3:40-51 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet al die oudste seuns van die Israeliete tel en jy moet hulle name in 'n boek skryf, almal wat 'n maand of ouer is. Maar jy moet die Leviete vir My neem in die plek van al die oudste seuns van die Israeliete, en jy moet die diere van die Leviete neem in die plek van al die eerste lammers en kalwers van die Israeliete.” Moses het gedoen wat die Here gesê het, hy het die name van die oudste seuns van die Israeliete in 'n boek geskryf, almal wat 'n maand of ouer was. Hulle was almal saam 22 273. Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet die Leviete neem in die plek van al die oudste seuns van die Israeliete, en jy moet die Leviete se diere neem in die plek van die Israeliete se diere. Die Leviete behoort aan My, Ek is die Here. Maar daar is minder Leviete as die oudste seuns van die Israeliete. Daar is 273 meer oudste seuns. Jy moet hulle laat loskoop. Jy moet sê hulle moet elkeen van daardie 273 seuns loskoop vir vyf sikkels silwer, dit moet tempel-sikkels wees. Elke tempel-sikkel weeg 20 gera. Jy moet die geld neem wat jy kry vir die persone wat jy laat loskoop, en jy moet dit vir Aäron en sy seuns gee.” Moses het die loskoop-geld geneem van die persone wat meer was as die Leviete, hy het dit geneem van die oudste seuns van die Israeliete. Dit was 1 365 tempel-sikkels, en Moses het die loskoop-geld vir Aäron en sy seuns gegee. Die Here het gesê hy moet dit doen.
NUMERI 3:40-51 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En die HERE het aan Moses gesê: Tel al die manlike eersgeborenes van die kinders van Israel, van 'n maand oud en daarbo, en neem die getal van hulle name op. En jy moet vir My — Ek is die HERE — die Leviete neem in die plek van al die eersgeborenes onder die kinders van Israel, en die vee van die Leviete in die plek van al die eersgeborenes onder die vee van die kinders van Israel. En Moses het, soos die HERE hom beveel het, al die eersgeborenes onder die kinders van Israel getel. En al die manlike eersgeborenes volgens die getal name, van 'n maand oud en daarbo, volgens hulle geteldes, was twee-en-twintigduisend-tweehonderd-drie-en-sewentig. En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Neem die Leviete in die plek van al die eersgeborenes onder die kinders van Israel, en die vee van die Leviete in die plek van hulle vee, sodat die Leviete myne kan wees. Ek is die HERE. Wat aangaan die loskoping van die tweehonderd-drie-en-sewentig wat oor is bo die Leviete, uit die eersgeborenes van die kinders van Israel, moet jy per hoof vyf sikkels neem; volgens die sikkel van die heiligdom moet jy dit neem; die sikkel is twintig gera. En jy moet die geld as losprys van die wat onder hulle oor is, aan Aäron en sy seuns gee. Daarop het Moses die loskoopgeld geneem van die wat oor was bo die wat deur die Leviete losgekoop was; van die eersgeborenes van die kinders van Israel het hy die geld geneem, duisend-driehonderd-vyf-en-sestig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom. En Moses het die loskoopgeld aan Aäron en sy seuns gegee volgens die bevel van die HERE, soos die HERE Moses beveel het.
NUMERI 3:40-51 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Here het ook vir Moses gesê: “Tel al die manlike eersgeborenes van die Israeliete van 'n maand en ouer, en maak 'n lys van hulle name. In die plek van al die eersgeborenes uit Israel moet jy die Leviete vir my diens beskikbaar stel, en ook die Leviete se vee in die plek van al die eerstelinge onder die vee van die Israeliete. Ek is die Here.” Moses het toe volgens die bevel van die Here al die eersgeborenes van die Israeliete getel. Die manlike eersgeborenes van 'n maand en ouer wie se name opgeskryf is, was twee en twintig duisend twee honderd drie en sewentig. Die Here het verder vir Moses gesê: “Stel die Leviete beskikbaar vir my diens in die plek van al Israel se eersgeborenes; neem ook die Leviete se vee in die plek van die Israeliete s'n. Die Leviete behoort aan My. Ek is die Here. Die twee honderd drie en sewentig eersgeborenes uit die Israeliete wat daar meer is as Leviete, moet losgekoop word. Jy moet vyf silwerstukke per kop invorder; bereken volgens die standaardgewig van die heiligdom is dit elf gram per silwerstuk. Die geld vir hierdie groter getal eersgeborenes van die Israeliete moet jy as losprys aan Aäron en sy seuns gee.” Moses het toe die loskoopgeld ingevorder vir dié eersgeborenes wat daar meer was as dié wat reeds met Leviete losgekoop is. Hierdie geld het hy geneem van die eersgebore Israeliete, vyftien en 'n half kilogram silwer. Dit het Moses in opdrag van die Here aan Aäron en sy seuns gegee, soos die Here hom beveel het.
NUMERI 3:40-51 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die HERE het vir Moses gesê: “Skryf elke manlike eersgeborene van die Israeliete van 'n maand en ouer in. Neem hulle volle name op in die lys. Neem die Leviete vir My – Ek is die HERE – in die plek van al die eersgeborenes van die Israeliete; en neem die diere van die Leviete in die plek van al die eersgeborenes onder die diere van die Israeliete.” Moses het toe, soos die HERE hom beveel het, al die eersgeborenes onder die Israeliete ingeskryf. Al die manlike eersgeborenes, met volle name, van 'n maand en ouer, was volgens hulle inskrywing 22 273. Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “ Neem die Leviete in die plek van al die eersgeborenes onder die Israeliete, en ook die Leviete se vee in die plek van hulle vee. Die Leviete behoort aan My. Ek is die HERE. Vir die loskoop van 273 van Israelitiese eersgeborenes, wat meer as die Leviete is, moet jy vyf sikkel per kop invorder en dit bereken volgens die standaardgewig wat in die heiligdom geld. Die sikkel is twintig gera werd. Jy moet die geld vir Aäron en sy seuns gee as losprys vir die eersgeborenes wat meer is as hulle.” Moses het die geld vir die losprys van die Israelitiese eersgeborenes, wat meer was as dié wat deur die Leviete losgekoop is, in ontvangs geneem. Namens die eersgeborenes van die Israeliete het hy die geld ontvang. Dit was 1 365 sikkel volgens die standaardgewig wat in die heiligdom geld. Moses het die losprys vir Aäron en sy seuns gegee in opdrag van die HERE, soos die HERE Moses beveel het.
NUMERI 3:40-51 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Verder het die HERE vir Moses gesê: Tel al die eersgeborenes van die manlike kinders van die kinders van Israel, van 'n maand oud en daarbo, en neem die getal van hulle name op. En jy moet die Leviete vir My, Ek is die HERE, neem in die plek van al die eersgeborenes onder die kinders van Israel; en die vee van die Leviete in die plek van al die eersgeborenes onder die vee van die kinders van Israel. En Moses het al die eersgeborenes onder die kinders van Israel getel, soos die HERE hom beveel het. En al die manlike eersgeborenes volgens die getal name, van 'n maand oud en daarbo, van hulle geteldes, was twee en twintig duisend twee honderd dertien en sestig. En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Neem die Leviete in die plek van al die eersgeborenes onder die kinders van Israel, en die vee van die Leviete in die plek van hulle vee; en die Leviete sal myne wees. Ek is die HERE. En vir die wat losgekoop moet word uit die twee honderd dertien en sestig van die eersgeborenes van die kinders van Israel, wat meer is as die Leviete; Jy moet selfs vyf sikkels per paal neem, volgens die sikkel van die heiligdom moet jy dit neem; (die sikkel is twintig gera:) En jy moet die geld waarmee die onewe getal van hulle losgekoop moet word, aan Aäron en sy seuns gee. En Moses het die loskoopgeld geneem van die wat bo die wat deur die Leviete losgekoop was, was. Van die eersgeborenes van die kinders van Israel het hy die geld geneem; duisend drie honderd vyf en sestig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; En Moses het die geld van die wat losgekoop is, aan Aäron en sy seuns gegee volgens die woord van die HERE, soos die HERE Moses beveel het.
NUMERI 3:40-51 Die Boodskap (DB)
Die Here het verder vir Moses gesê: “Tel al die oudste manlike kinders in Israel van ’n maand en ouer. Maak dan ’n lys van hulle name. Die Leviete moet die plaasvervangers wees vir die kinders in Israel wat eerste gebore is. Net so moet die Leviete se vee die plaasvervangers wees vir die eerstelinge van die volk se vee. So sê Ek; Ek, die Here!” Moses het toe al die oudste kinders in Israel getel soos die Here beveel het. Die getal waarop hy uitgekom het, was 22 273. Toe sê die Here vir Moses: “Vat die Leviete in die plek van die eersgebore kinders van Israel en vat hulle vee in die plek van die eerstelinge van Israel se vee. Die Leviete is my eiendom. So sê Ek; Ek, die Here. Aangesien daar 273 meer eersgeborenes in Israel is as wat daar Leviete is, moet hulle losgekoop word uit my diens. Dit gaan vyf silwerstukke kos, want dit is die standaardgewig wat in die heiligdom gebruik word. Die loskoopprys is elf gram per silwerstuk vir elke persoon wat losgekoop word. Gee dan hierdie geld vir Aäron en sy seuns as ’n losprys vir die ekstra eersgeborenes.” Moses het toe die geld ingesamel. Vyftien kilogram silwer is ingesamel. Soos die Here beveel het, het Moses dit vir Aäron en sy seuns gegee.
NUMERI 3:40-51 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe sê die HERE vir Moses: “Tel nou al die eersgebore seuns onder die Israeliete wat ouer as ’n maand is. Skryf hulle name op. Die Leviete sal vir hulle instaan. Ek is die HERE. Die Leviete se vee sal ook instaan vir die eersgebore vee van die Israeliete.” Soos die HERE vir hom gesê het, het Moses al die oudste seuns in Israel getel. Al die oudste seuns wat getel is, was 22 273. Toe sê die HERE vir Moses: “Laat die Leviete instaan vir al die oudste seuns in Israel. Vat ook die Leviete se vee as plaasvervangers vir die vee wat eerste gebore is. Die Leviete behoort aan My. Ek is die HERE. Daar is 273 meer oudste seuns in Israel as die Leviete. Koop hulle los. Vat vyf stukke silwer vir elkeen van hulle. Elke geldstuk moet volgens die standaardgewig van die tempel wees. Gee die geld vir Aäron en sy seuns as ’n losprys vir die persone wat te veel is.” Moses het toe die geld bymekaargekry om dié wat te veel was, los te koop. Die geld wat hy bymekaargekry het, was ongeveer vyftien en ’n half kilogram silwer. Soos die HERE vir Moses gesê het, het hy gemaak. Hy het die silwer vir Aäron en sy seuns gegee om daarmee die oudste seuns los te koop.