Numeri 3:40-51

Numeri 3:40-51 AFR20

Die HERE het vir Moses gesê: “Skryf elke manlike eersgeborene van die Israeliete van 'n maand en ouer in. Neem hulle volle name op in die lys. Neem die Leviete vir My – Ek is die HERE – in die plek van al die eersgeborenes van die Israeliete; en neem die diere van die Leviete in die plek van al die eersgeborenes onder die diere van die Israeliete.” Moses het toe, soos die HERE hom beveel het, al die eersgeborenes onder die Israeliete ingeskryf. Al die manlike eersgeborenes, met volle name, van 'n maand en ouer, was volgens hulle inskrywing 22 273. Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “ Neem die Leviete in die plek van al die eersgeborenes onder die Israeliete, en ook die Leviete se vee in die plek van hulle vee. Die Leviete behoort aan My. Ek is die HERE. Vir die loskoop van 273 van Israelitiese eersgeborenes, wat meer as die Leviete is, moet jy vyf sikkel per kop invorder en dit bereken volgens die standaardgewig wat in die heiligdom geld. Die sikkel is twintig gera werd. Jy moet die geld vir Aäron en sy seuns gee as losprys vir die eersgeborenes wat meer is as hulle.” Moses het die geld vir die losprys van die Israelitiese eersgeborenes, wat meer was as dié wat deur die Leviete losgekoop is, in ontvangs geneem. Namens die eersgeborenes van die Israeliete het hy die geld ontvang. Dit was 1 365 sikkel volgens die standaardgewig wat in die heiligdom geld. Moses het die losprys vir Aäron en sy seuns gegee in opdrag van die HERE, soos die HERE Moses beveel het.