NUMERI 14:1-30

NUMERI 14:1-30 Bybel vir almal (ABA)

Die hele volksvergadering het hard geskree, en die mense het daardie hele nag gehuil. Al die Israeliete het vir Moses en Aäron beskuldig. Die hele vergadering het vir hulle gesê: “Ons wens ons het in Egipte gesterf of hier in die woestyn, ons wens ons was dood. Hoekom bring die Here ons na hierdie land om in oorlog te sterf? Die vyande sal ons vroue en kinders vir hulleself vat. Dit sal vir ons beter wees as ons teruggaan na Egipte.” Hulle het vir mekaar gesê: “Kom ons kies 'n leier en gaan terug na Egipte.” Moses en Aäron het daar voor die volksvergadering, voor die vergadering van die Israeliete, gaan lê met hulle gesigte teen die grond. Josua seun van Nun en Kaleb seun van Jefunne was twee van die manne wat gaan kyk het hoe die land lyk. Hulle het hulle klere geskeur en hulle het vir die hele vergadering van die Israeliete gesê: “Ons het deur die land gegaan en ons het na die land gaan kyk. Dit is 'n baie goeie land, baie goed. As die Here goed is vir ons, dan sal Hy ons in hierdie land bring en Hy sal dit vir ons gee. Dit is 'n land waar daar baie melk en heuning is. Maar dan moet julle nie opstandig wees teen die Here nie en julle moenie bang wees vir die mense in die land nie. Ons sal hulle maklik oorwin. Niemand sal hulle kan beskerm nie. Die Here is by ons, julle moenie bang wees nie.” Die hele vergadering het toe gesê hulle gaan vir Josua en Kaleb doodgooi met klippe. Maar toe sien al die Israeliete dat die Here, die Koning, by die tent is waar Hy aan die Israeliete verskyn. Die Here sê toe vir Moses: “Hierdie volk hou aan om te maak of Ek nie vir hulle belangrik is nie. Ek het vir hulle baie tekens gewys. Hulle glo nie dat Ek hulle sal help nie. Hoe lank wil hulle aanhou om dit te doen? Ek sal hulle siek laat word van pes en Ek sal hulle almal laat sterf. Dan sal Ek jou nageslag 'n volk maak wat groter en sterker as hulle is.” Toe sê Moses vir die Here: “Die Egiptenaars sal dit hoor, want U het hierdie volk van hulle laat weggaan omdat U sterk is. Die Egiptenaars sal praat met die mense wat in hierdie land woon. Hulle het gehoor dat U, die Here, by hierdie volk is en dat U self aan hulle verskyn. Hulle het gehoor dat U hulle in die dag lei met 'n wolk bokant hulle en in die nag met vuur. As U nou die hele volk laat sterf, dan sal die volke wat van U gehoor het, sê: ‘Die Here was nie sterk nie, Hy kon nie hierdie volk in die land bring wat Hy vir hulle belowe het nie, daarom het Hy hulle in die woestyn laat sterf.’ Daarom, Here, U moet asseblief nou wys dat U sterk is. U het self gesê: ‘Ek, die Here, is geduldig en vol liefde, Ek vergewe mense wanneer hulle sonde doen en opstandig is, maar Ek sê nie iemand is onskuldig wanneer hy skuldig is nie, Ek straf die nageslag oor die sondes van hulle voorvaders, Ek straf hulle tot in die derde en vierde geslag.’ U is altyd vol liefde. U het hierdie volk se sondes vergewe van die tyd toe hulle weggegaan het uit Egipte tot nou toe. U vergewe hulle sondes tot in die derde en vierde geslag. Vergewe hulle asseblief nou ook.” Die Here het gesê: “Ek vergewe hulle soos jy gevra het, maar so seker soos Ek lewe, so seker soos Ek Koning is van die hele aarde, hierdie mense het gesien dat Ek die Koning is, hulle het die tekens gesien wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, maar hulle het My tien maal getoets en hulle het nie na My geluister nie. Daarom sal nie een van hulle die land sien wat Ek aan hulle voorvaders belowe het nie. Nie een van die mense wat gewys het dat Ek nie vir hulle belangrik is nie, sal die land sien nie. Maar my dienaar Kaleb was anders, hy het aangehou om in My te glo. Ek sal hom na die land bring waarnatoe hy gegaan het, en die land sal aan sy nageslag behoort. Die Amalekiete en die Kanaäniete woon in die lae deel van die land. Julle moet môre wegdraai en verder in die woestyn ingaan op die pad na die Riet-see.” Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Hierdie slegte volk hou aan om My te beskuldig. Ek het gehoor dat die Israeliete My beskuldig, en julle moet vir hulle sê: So seker soos Ek lewe, Ek het gehoor wat julle gewens het, en dit is wat Ek sal laat gebeur: Julle dooie liggame sal in hierdie woestyn lê, almal wie se name in die boek geskryf is, almal wat ouer as 20 jaar is en wat My beskuldig het. Ek het belowe dat julle in daardie land sal woon, maar julle sal nie daar kom nie, net Kaleb seun van Jefunne en Josua seun van Nun sal daar kom.

NUMERI 14:1-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

TOE het die hele vergadering uitgeroep — hulle het hul stem verhef, en die volk het dié nag geween. En al die kinders van Israel het gemurmureer teen Moses en teen Aäron, en die hele vergadering het aan hulle gesê: Ag, as ons maar in Egipteland gesterf het! Of as ons maar hier in die woestyn gesterf het! En waarom bring die HERE ons na hierdie land om deur die swaard te val? Ons vroue en ons kinders sal 'n buit word. Sal dit nie beter vir ons wees om na Egipte terug te gaan nie? En hulle sê vir mekaar: Laat ons 'n hoof aanstel en na Egipte teruggaan. Toe het Moses en Aäron op hulle aangesig geval voor die hele vergadering van die gemeente van die kinders van Israel. En Josua, die seun van Nun, en Kaleb, die seun van Jefúnne, twee van die wat die land verken het, het hulle klere geskeur en die hele vergadering van die kinders van Israel toegespreek en gesê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is 'n buitengewoon goeie land. As die HERE 'n welbehae in ons het, sal Hy ons in hierdie land inbring en dit aan ons gee, 'n land wat oorloop van melk en heuning. Wees net nie teen die HERE opstandig nie, en wees julle nie bevrees vir die volk van die land nie, want hulle is ons spys. Hulle beskutting het van hulle gewyk, en die HERE is met ons. Wees nie bevrees vir hulle nie! Toe sê die hele vergadering dat hulle gestenig moet word. Maar die heerlikheid van die HERE het in die tent van samekoms verskyn voor al die kinders van Israel. Daarop het die HERE aan Moses gesê: Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het? Ek sal hulle met die pes tref en hulle uitroei; en Ek sal jou 'n groter en sterker nasie maak as hulle. Toe het Moses aan die HERE gesê: Maar die Egiptenaars het gehoor dat U deur u krag hierdie volk onder hulle uit laat optrek het en dit aan die inwoners van hierdie land gesê. Hulle het gehoor dat U, HERE, in die midde van hierdie volk is; dat U, HERE, duidelik waarneembaar verskyn; dat u wolk oor hulle staan en U in 'n wolkkolom voor hulle uit trek bedags en in 'n vuurkolom by nag. As U nou hierdie volk soos een man ombring, dan sal die nasies wat die tyding aangaande U gehoor het, spreek en sê: Omdat die HERE hierdie volk nie kon inbring in die land wat Hy hulle met 'n eed beloof het nie, het Hy hulle in die woestyn omgebring. Laat dan nou tog die krag van die HERE groot word, soos U gespreek het deur te sê: Die HERE is lankmoedig en groot van goedertierenheid, wat die ongeregtigheid en oortreding vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie, wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag. Vergeef tog die ongeregtigheid van hierdie volk na die grootheid van u goedertierenheid, en soos U hierdie volk van Egipte af tot hiertoe vergewe het. Toe sê die HERE: Ek vergewe, volgens jou woord. Maar so waar as Ek leef en die hele aarde van die HERE se heerlikheid vol sal word, al die manne wat my heerlikheid en my tekens gesien het wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, en My nou al tien maal versoek het en na my stem nie geluister het nie, hulle sal die land nie sien wat Ek aan hulle vaders met 'n eed beloof het nie, ja, almal wat My verag het, sal dit nie sien nie. Maar my kneg Kaleb, omdat 'n ander gees in hom was en hy volhard het om My te volg — hom sal Ek bring in die land waarin hy gekom het, en sy geslag sal dit in besit neem. Die Amalekiete en die Kanaäniete woon in die laagte — draai môre weg en trek tog die woestyn in, op pad na die Skelfsee. Daarna het die HERE met Moses en Aäron gespreek en gesê: Hoe lank sal hierdie bose vergadering aanhou dat hulle teen My murmureer? Ek het die murmureringe van die kinders van Israel gehoor waarmee hulle teen My bly murmureer. Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die HERE, waarlik, soos julle voor my ore gespreek het, so sal Ek aan julle doen. Julle lyke sal in hierdie woestyn lê, naamlik al julle geteldes, volgens julle volle getal, van twintig jaar oud en daarbo, julle wat teen My gemurmureer het. Waarlik, júlle sal nie in die land kom waaroor Ek my hand opgehef het om julle daarin te laat woon nie, behalwe Kaleb, die seun van Jefúnne, en Josua, die seun van Nun.

NUMERI 14:1-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daardie nag het die hele volksvergadering aanhoudend gekla. Al die Israeliete was in verset teen Moses en Aäron, en die hele vergadering het vir hulle gesê: “As ons maar in Egipte of in hierdie woestyn gesterf het! Waarom het die Here ons na hierdie land toe gebring? Net om doodgemaak te word? Ons vrouens en kinders sal krygsgevangenes word. Is dit nie vir ons beter om na Egipte toe terug te gaan nie?” Hulle het toe vir mekaar gesê: “Kom ons kies 'n leier en gaan terug Egipte toe!” Moses en Aäron het toe voor die hele vergadering van Israeliete wat daar saam was, op hulle knieë geval. Ook het Josua seun van Nun, en Kaleb seun van Jefunne, manne wat saam die land verken het, hulle klere geskeur, en vir die hele vergadering Israeliete gesê: “Die land wat ons gaan verken het, is 'n buitengewoon goeie land. As die Here ons goedgesind is, sal Hy ons na hierdie land toe bring en dit aan ons gee, 'n land wat oorloop van melk en heuning. Julle moet net nie teen die Here in opstand kom nie. Moet ook nie vir die mense van die land bang wees nie, want ons sal hulle maklik verslaan. Hulle gode sal hulle nie kan beskerm nie. Die Here is by ons. Moenie vir hulle bang wees nie!” Maar die hele vergadering het gedreig om vir Josua en Kaleb met klippe dood te gooi. Toe het die magtige teenwoordigheid van die Here by die tent van ontmoeting vir al die Israeliete sigbaar geword. Die Here het vir Moses gesê: “Hoe lank sal hierdie volk my almag bly onderskat? Hoe lank sal hulle weier om op My te vertrou ten spyte van al die wonders wat Ek onder hulle gedoen het? Ek gaan hulle tref met die pes en hulle uitroei, en dan sal Ek jou 'n volk maak, groter en sterker as hulle!” Maar Moses het vir die Here gesê: “Die Egiptenaars sal dit hoor en dit vir die inwoners van hierdie land vertel. Dit is tog U wat hierdie volk deur u mag uit Egipte laat wegtrek het, en die inwoners van hierdie land het reeds gehoor dat U, Here, onder hierdie volk is, dat U duidelik waarneembaar verskyn het, dat u wolk oor hulle is, en dat U bedags in 'n wolkkolom en snags in 'n vuurkolom voor hulle uit gaan. As U hierdie volk soos een man om die lewe bring, sal die nasies wat van u dade gehoor het, sê: ‘Die Here was nie in staat om hierdie volk in te bring in die land wat Hy met 'n eed aan hulle beloof het nie, daarom het Hy hulle in die woestyn omgebring.’ “Laat u groot mag nou bekend word, Here, soos U gesê het: ‘Ek, die Here, is lankmoedig en vol liefde; Ek vergewe ongeregtigheid en oortreding, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.’ Vergewe dan tog die sonde van hierdie volk in u groot liefde, soos U hulle van Egipte af tot hiertoe vergewe het!” Toe het die Here geantwoord: “Ek vergewe hulle, soos jy gevra het. Nogtans, so seker as Ek leef en die hele aarde vol sal word van my magtige teenwoordigheid, nie een van die manne wat my mag en die wonders wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, gesien het, en wat My nou oor en oor getart het en nie na my woorde geluister het nie, sal die land wat Ek met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het, sien nie. Nie een van hulle wat My geminag het, sal die land sien nie. Maar omdat my dienaar Kaleb 'n ander gesindheid het en My getrou gevolg het, sal Ek hom inbring in die land wat hy gaan verken het, en sy nageslag sal dit besit. “Die Amalekiete en die Kanaäniete woon in die laagte. Draai môre om en trek weg na die woestyn toe met die Rietseepad.” Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Hoe lank sal hierdie slegte volk nog aanhou met hulle verset teen My? Ek het opgemerk hoe die Israeliete hulle teen My verset. Sê vir hulle: ‘So seker as Ek leef,’ sê die Here, ‘Ek sal met julle maak soos Ek julle hoor sê het. In hierdie selfde woestyn sal die lyke bly lê van julle almal van twintig jaar en ouer wat in die sensus opgeneem is en wat teen My in verset gekom het. Nie een van julle sal die land betree wat Ek met 'n eed aan julle as woonplek beloof het nie, behalwe Kaleb seun van Jefunne, en Josua seun van Nun.

NUMERI 14:1-30 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die hele volksvergadering het toe hard uitgeroep en die volk het daardie hele nag gekerm. Al die Israeliete het by Moses en Aäron gemor en die hele volksvergadering het vir hulle gesê: “Het ons maar in Egipteland gesterf; of het ons maar in hierdie woestyn gesterf! Waarom bring die HERE ons na hierdie land, net om deur die swaard te val? Ons vroue en ons jong kinders gaan buit word! Is dit nie vir ons beter om na Egipte terug te keer nie?” Hulle sê toe vir mekaar: “Kom ons wys 'n leier aan en gaan terug na Egipte.” Moses en Aäron het op hulle gesigte neergeval voor die hele byeenkoms van die volksvergadering van die Israeliete. Josua, seun van Nun, en Kaleb, seun van Jefunne, twee van dié wat die land verken het, het hulle klere geskeur en vir die hele volksvergadering van die Israeliete gesê: “Die land wat ons deurkruis het om dit te verken, is 'n buitengewoon goeie land. As die HERE ons goedgesind is, sal Hy ons in hierdie land inneem en dit vir ons gee – 'n land wat oorloop van melk en heuning. Teen die HERE moet julle net nie in opstand kom nie. Julle moenie bang wees vir die volk van die land nie, want hulle is 'n maklike prooi vir ons. Hulle beskutting het van hulle gewyk, en die HERE is met ons. Moenie vir hulle bang wees nie.” Toe die hele volksvergadering dreig om hulle met klippe dood te gooi, het die heerlikheid van die HERE in die Tent van Ontmoeting aan al die Israeliete verskyn. Die HERE het vir Moses gesê: “Hoe lank gaan hierdie volk My nog minag? Hoe lank gaan hulle My nie vertrou nie, ten spyte van al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het? Ek gaan hulle met pessiekte tref en hulle onterf. Dan sal Ek jou 'n nasie maak, groter en sterker as hulle.” Daarop het Moses vir die HERE gesê: “Die Egiptenare sal dit hoor – U het immers hierdie volk met u krag uit hulle midde laat wegtrek – en dan sal hulle dit vir hierdie land se inwoners vertel. Hulle het gehoor dat U, HERE, onder hierdie volk teenwoordig is en dat U, HERE, van aangesig tot aangesig aan hulle verskyn het en dat u wolk bo hulle bly – ja, dat U in 'n wolkkolom bedags voor hulle uitgaan en in 'n vuurkolom snags. As U dan hierdie volk soos een man om die lewe bring, sal die nasies wat van u roem gehoor het, sê, ‘Dit is omdat die HERE nie in staat was om hierdie volk in die land in te bring wat Hy met 'n eed aan hulle beloof het nie, dat Hy hulle in die woestyn omgebring het. ’ Daarom dan, laat die krag van my Heer tog groot wees, soos U gesê het, “ ‘Die HERE is geduldig en oorvloedig in troue liefde. Hy skeld sondeskuld en oortreding kwyt, maar laat beslis niks ongestraf nie; Hy laat kinders tot die derde en vierde geslag boet vir die skuld van voorouers.’ “Vergewe asseblief die sondeskuld van hierdie volk volgens die grootheid van u troue liefde, soos U hierdie volk van Egipte af tot hier kwytgeskeld het.” Die HERE het gesê: “Ek vergewe, soos jy versoek. Maar aan die ander kant, so seker as wat Ek leef, en so seker as wat die heerlikheid van die HERE die hele aarde vul, niemand van al die manne wat my heerlikheid en my tekens gesien het wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, en My nou al tien keer uitgedaag het, en na my stem nie geluister het nie, sal die land sien wat Ek aan hulle voorouers met 'n eed beloof het nie. Ja, almal wat My minag, sal dit nie sien nie. Maar wat my dienskneg Kaleb betref, omdat hy 'n ander gees openbaar het, en My met volharding gevolg het, sal Ek hom inbring in die land waarheen hy gekom het. Sy nageslag sal dit in besit neem. “Die Amalekiete en die Kanaäniete bewoon die oop vlaktes. Draai môre weg, dan trek julle weg die woestyn in, op pad na die Rietsee. ” Die HERE het verder met Moses en Aäron gepraat en gesê: “ Hoe lank nog moet Ek hierdie bose volksvergadering verduur wat aanhoudend by My mor? Die gemor waarmee die Israeliete aanhoudend by My aankom, het Ek gehoor. Sê vir hulle, ‘So seker as wat Ek leef,’ is die uitspraak van die HERE, ‘waarlik, wat Ek julle hoor sê het, net so sal Ek met julle maak. In hierdie woestyn sal julle dooie liggame val, julle almal wat ingeskryf is – die volle getal van twintig jaar en ouer, julle wat teen My gemor het. Ja, julle sal nie in die land ingaan waaroor Ek my hand opgehef het om julle daarin te laat woon nie, behalwe Kaleb, seun van Jefunne, en Josua, seun van Nun.

NUMERI 14:1-30 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die hele vergadering het hul stem verhef en geroep; en die mense het daardie nag gehuil. En al die kinders van Israel het teen Moses en teen Aäron gemurmureer, en die hele vergadering het vir hulle gesê: Mag ons tog maar in Egipteland gesterf het! of sou God ons in hierdie woestyn gesterf het! En waarom het die HERE ons na hierdie land gebring om deur die swaard te val, sodat ons vroue en ons kinders 'n prooi sou word? was dit nie vir ons beter om na Egipte terug te keer nie? En hulle het vir mekaar gesê: Laat ons 'n owerste aanstel en na Egipte teruggaan. Toe val Moses en Aäron op hulle aangesig voor die hele vergadering van die vergadering van die kinders van Israel. En Josua, die seun van Nun, en Kaleb, die seun van Jefunne, wat was van die wat die land verken het, het hulle klere geskeur. En hulle het met die hele menigte van die kinders van Israel gespreek en gesê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is 'n uitermate goeie land. As die HERE 'n welbehae in ons het, dan sal Hy ons in hierdie land bring en dit aan ons gee; 'n land wat oorloop van melk en heuning. Wees net nie opstandig teen die HERE nie, en vrees nie die volk van die land nie; want hulle is vir ons brood; hulle verdediging is van hulle afgewyk, en die HERE is met ons; vrees hulle nie. Maar die hele vergadering het beveel om hulle met klippe te stenig. En die heerlikheid van die HERE het in die tent van samekoms verskyn voor al die kinders van Israel. Toe sê die HERE vir Moses: Hoe lank sal hierdie volk My terg? en hoe lank sal dit duur voordat hulle My glo, vanweë al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het? Ek sal hulle met die pes tref en hulle onterf, en Ek sal van jou 'n groter nasie en sterker maak as hulle. Toe sê Moses aan die HERE: Dan sal die Egiptenaars dit hoor, want U het hierdie volk in U mag onder hulle uit opgebring; En hulle sal dit aan die inwoners van hierdie land vertel, want hulle het gehoor dat U HERE onder hierdie volk is, dat U HERE van aangesig tot aangesig gesien word, en dat U wolk oor hulle staan en dat U bedags voor hulle uit trek. tyd in 'n wolkkolom en in 'n vuurkolom in die nag. As jy dan al hierdie volk soos een man doodmaak, sal die nasies wat die roem van jou gehoor het, spreek en sê: Omdat die HERE nie in staat was om hierdie volk in die land in te bring wat Hy hulle met 'n eed beloof het nie, daarom het Hy hulle in die woestyn gedood. En nou, ek smeek jou, laat die krag van my HERE groot wees, soos jy gespreek het deur te sê: Die HERE is lankmoedig en groot barmhartigheid, wat ongeregtigheid en oortreding vergewe en geensins die skuldige reinig nie, en die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders tot in die derde en vierde geslag. Verskoon tog die ongeregtigheid van hierdie volk na die grootheid van U goedertierenheid, en soos U hierdie volk vergewe het, van Egipte af tot nou toe. En die HERE het gesê: Ek het vergewe volgens U woord. Maar so waar as wat Ek leef, die hele aarde sal vol wees met die heerlikheid van die HERE. Omdat al daardie manne wat my heerlikheid en my wonders gesien het, wat ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, en my nou al tien maal versoek het en nie na my stem geluister het nie; Waarlik, hulle sal die land nie sien wat Ek aan hulle vaders met 'n eed beloof het nie, en niemand van die wat My geterg het, sal dit sien nie. Maar my dienaar Kaleb, omdat hy 'n ander gees by hom gehad het en My volkome gevolg het, sal Ek hom bring in die land waarin hy gegaan het; en sy nageslag sal dit in besit neem. (En die Amalekiete en die Kanaäniete het in die dal gewoon.) Draai julle môre om en gaan na die woestyn op die pad van die Skelfsee. En die HERE het met Moses en Aäron gespreek en gesê: Hoe lank sal ek hierdie bose vergadering verdra wat teen my murmureer? Ek het die murmureringe van die kinders van Israel gehoor wat hulle teen My murmureer. Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die HERE, soos julle voor my ore gespreek het, so sal Ek aan julle doen. Jou lyke sal in hierdie woestyn val; en almal wat van julle getel is, volgens julle hele getal, van twintig jaar oud en daarbo, wat teen my gemurmureer het, Julle sal ongetwyfeld nie in die land kom waaroor Ek gesweer het om julle daarin te laat woon nie, behalwe Kaleb, die seun van Jefunne, en Josua, die seun van Nun.

NUMERI 14:1-30 Die Boodskap (DB)

Die klomp Israeliete het toe verskriklik begin huil, hulle het sommer dwarsdeur die nag aangehou. Hulle het teen Moses en Aäron in opstand gekom en gesê: “As ons maar eerder in Egipte of in die woestyn doodgegaan het, dan was dit baie beter! Hoekom het die Here ons na die land toe gebring as ons in elk geval net doodgemaak gaan word en ons vroue en kinders as gevangenes weggevat gaan word? Miskien is dit vir ons beter om terug te gaan Egipte toe!” Hulle het toe onder mekaar begin planne maak: “Kom ons kies vir ons ’n nuwe leier wat ons sal terugvat Egipte toe.” Moses en Aäron het uit pure moedeloosheid op hulle knieë voor die volk gaan staan. Maar Nun se seun Josua en Jefunne se seun Kaleb, twee van die leiers wat saam was Kanaän toe, het van hartseer hulle klere stukkend geskeur en vir die hele vergadering wat daar bymekaar was, gesê: “Dit is ’n ongelooflike mooi land waarna ons gaan kyk het. As die Here tevrede met ons is, sal Hy ons help om hierdie land in te neem en daar te gaan bly. Soos ons vroeër vir julle gesê het: dit is ’n land waar dit lyk of die melk en heuning oral in strome loop. Moet asseblief nie die Here se gesag nou uitdaag nie. Moet ook nie vir die land en sy inwoners bang wees nie, ons kan hulle maklik oorrompel. Hulle afgode waarop hulle staatmaak, sal hulle nie kan help nie, want die Here is aan ons kant. Moenie vir daardie spul bang wees nie!” Die hele vergadering was egter min beïndruk met wat Josua en Kaleb gesê het en wou hulle sommer daar op die plek met klippe doodgooi. Maar skielik het die verblindende glans van die Here se teenwoordigheid oor die tent sigbaar geword. Almal kon dit sien. Die Here vra toe vir Moses: “Hoe lank gaan hierdie volk aanhou om die rug vir My te draai en weier om My te vertrou, ten spyte van die wonderwerke wat Ek al voor hulle oë gedoen het? Ek gaan ’n siekte-epidemie onder hulle instuur om hulle uit te roei. Dan maak Ek jou nageslag ’n baie magtiger volk as wat hierdie spul nog ooit was!” Maar Moses het by die Here gepleit: “Wat sal die Egiptenaars dink as hulle dit moet hoor? Hulle weet mos hoe magtig U is en hoe U hierdie volk uit hulle hande bevry het. Hulle sal dit dadelik vir die mense van hierdie land vertel. U weet tog dat al die inwoners van hierdie land maar alte goed weet dat U saam met hierdie volk trek. Hulle het gehoor dat U onder u volk woon, en bedags saam met hulle trek in die wolk wat skaduwee gee en snags daar is met die vuurwolk om lig te gee. As U hierdie volk nou totaal uitroei, sal al die nasies wat reeds van u wonderlike dade gehoor het, bymekaarkom en sê: ‘Die Here was nie sterk genoeg om hierdie volk in die land in te vat wat Hy hulle so plegtig belowe het nie, daarom het Hy hulle toe maar in die woestyn laat doodgaan.’ “Here, wys nou vir ons dat U regtig alles kan doen wat U gesê het. U het mos gesê: ‘Ek is die Here en Ek word nie gou kwaad nie. Ek hou my woord as Ek met julle ’n ooreenkoms gemaak het. Ek vergewe mense hulle sondes en hulle opstandigheid teen My, maar nie sonder dat hulle self die gevolge van hulle dade gedra het nie. Selfs hulle kinders, kleinkinders en agterkleinkinders sal ly onder die gevolge van hulle verkeerde dade.’ Vergewe asseblief hierdie volk se sonde omdat U so baie vir hulle omgee. Vergewe hulle soos U hulle van Egipte af tot hier toe vergewe het!” Toe sê die Here: “Ek vergewe hulle, soos jy My gevra het om te doen. Maar so seker as wat Ek leef en Ek die hele aarde met my magtige teenwoordigheid volmaak, nie een van hierdie mense sal ooit in hierdie land ingaan nie. Al het hulle my groot krag en al die wondertekens gesien wat Ek in Egipte en ook in die woestyn gedoen het, het hulle My steeds bly uittart. Hulle het hulle geheel en al nie aan My gesteur nie. Daarom sal hulle nooit die land sien wat Ek met ’n plegtige belofte aan hulle voorouers beloof het nie. Nie een van hierdie spul wat my groot Naam onder hulle voete vertrap het, sal hulle voete in die land sit nie. Maar my dienaar Kaleb is nie soos hulle nie. Hy het deur dik en dun aan my kant bly staan, daarom sal hy in die land wat hy help verken het, ingaan. Sy kinders sal in die land gaan bly, al bly die Amalekiete en die Kanaäniete nou nog in die valleie. Môre moet julle omdraai en die woestyn intrek in die rigting van die Rietsee.” Die Here vra toe vir Moses en Aäron: “Hoe lank gaan hierdie slegte spul mense nog aanhou om die rug vir My te draai? Ek het net mooi genoeg gehad van hulle gekerm! Gaan sê vir hulle: So seker as wat Ek leef, sê die Here, Ek gaan alles met julle doen wat Ek julle hoor sê het. Almal van julle wat ouer is as twintig en wie se name in die sensus opgeskryf is, dié wat teen My in opstand gekom het, se geraamtes sal in hierdie woestyn agterbly. Nie een van julle sal in die Beloofde Land ingaan nie, behalwe Kaleb seun van Jefunne en Josua seun van Nun.

NUMERI 14:1-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die gemeenskap het toe begin kla. Die volk het deur die nag gesit en huil. Al die Israeliete het by Moses en Aäron kom kla. Hulle het gesê: “As ons tog maar liewer in Egipte gesterf het, of selfs hier in die woestyn! Hoekom het die HERE ons na hierdie land toe laat kom om hier met die swaard doodgemaak te word? Ons vroue en ons dogters gaan nog oorlogsbuit word. Is dit nie beter dat ons maar liewer na Egipte toe teruggaan nie?” Hulle het toe onder mekaar gekonkel: “Kom ons kies ’n leier en ons gaan terug na Egipte toe.” Moses en Aäron het voor die gemeenskap van die Israeliete neergeval. Josua, seun van Nun, en Kaleb, seun van Jefunne, wat saam die land gaan verken het, het hulle klere geskeur. Hulle het vir die gemeenskap van die Israeliete gesê: “Die land wat ons gaan verken het, is ’n besondere mooi land. As die HERE ons liefhet, sal Hy ons in die land laat kom en dit vir ons gee. Dit is ’n baie vrugbare land. Moenie teen die HERE in opstand kom nie! Moenie bang wees vir die mense van die land nie. Hulle is ons slagoffers. Hulle het geen beskerming nie. Die HERE is met ons. Moenie bang wees nie!” Die gemeenskap het egter gedreig om hulle met klippe dood te gooi. Die Israeliete het toe bewus geword van die HERE se magtige teenwoordigheid by die tabernakel. Die HERE het vir Moses gesê: “Hoe lank gaan hierdie volk nog aanhou om My te minag? Hoe lank gaan hulle bly weier om op My te vertrou, selfs al het Ek al die wonders tussen hulle laat gebeur? Ek gaan ’n pessiekte onder hulle laat uitbreek. Ek gaan hulle uitroei. Ek gaan jou egter ’n groot nasie maak wat baie sterker is as hulle!” Moses het toe vir die HERE gesê: “U het met u krag hierdie volk uit Egipte weggevat. Die Egiptenaars sal hoor wat U doen. Hulle sal dit vir die inwoners van hierdie land oorvertel. Hulle het alreeds gehoor dat U tussen die mense van hierdie volk bly. HERE, hulle weet dat U sigbaar is vir u volk in die wolk wat bo hulle hang. Hulle weet dat U die volk lei met ’n wolkmassa wat bedags voor hulle uitgaan en ’n vuurbondel wat snags voor hulle is. As U nou meteens hierdie volk man en muis uitwis, gaan die nasies wat van u beroemdheid gehoor het, sê: ‘Omdat die HERE nie die volk na die land toe kon bring wat Hy vir hulle belowe het nie, het Hy hulle sommer daar in die woestyn doodgemaak.’ Wys tog nou dat U so sterk is soos wat U gesê het. U het mos gesê: ‘Die HERE word nie gou kwaad nie. Sy liefde kan sonde en oortreding verdra. Hy laat sonde egter nie ongestraf bly nie. Hy hou dit wat die ouers verkeerd gedoen het nog teen die derde en vierde geslag daarna.’ “Vergeef tog nou hierdie volk se sonde soos U in u groot liefde hulle verdra het vandat hulle uit Egipte uit weg is tot nou toe.” Die HERE sê toe: “Ek sal hulle vergeef soos jy gevra het. Maar so seker as wat Ek leef en die aarde vol is van die HERE se groot mag, nie een van hierdie mans wat gesien het hoe groot Ek is en watter wondertekens Ek in Egipte en die woestyn gedoen het en wat My herhaaldelik getoets het deur nie na My te luister nie, nie een van hulle wat My verag het, sal in die land kom wat Ek aan hulle voorouers beloof het nie. My dienaar Kaleb het egter ’n ander gesindheid teenoor My gewys. Hy het by My bly staan. Ek sal hom in die land laat kom wat hy gaan verken het. Sy nageslag sal die land besit. Draai weg van die vlakte waar die Amalekiete en Kanaäniete bly. Gaan terug op die pad wat na die Rietsee toe loop.” Die HERE het toe vir Moses en Aäron gesê: “Hoe lank gaan hierdie slegte gemeenskap bly kla oor My? Ek het gehoor wat die Israeliete oor My sê. Sê vir hulle: ‘So waar as Ek leef, sê die HERE, Ek gaan met julle alles laat gebeur waarvan julle My verdink het. Julle lyke sal hier in die woestyn lê. Nie een van julle bo twintig jaar oud wat in die sensus getel is en wat oor My gekla het, sal in die land kom wat Ek beloof het dat julle daarin sal woon nie. Net Kaleb, seun van Jefunne, en Josua, seun van Nun, sal ingaan.