NUMERI 12:1-16

NUMERI 12:1-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Mirjam en Aäron het teen Moses gespreek vanweë die Kusitiese vrou wat hy geneem het; want hy het 'n Kusitiese vrou geneem. En hulle het gesê: Het die HERE dan maar alleen met Moses gespreek? Het Hy nie ook met ons gespreek nie? En die HERE het dit gehoor. Maar die man Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem. Toe het die HERE dadelik met Moses en Aäron en Mirjam gespreek: Julle drie, kom uit na die tent van samekoms! En hulle drie het uitgekom. En die HERE het in 'n wolkkolom neergedaal en by die ingang van die tent gaan staan. Daarna het Hy Aäron en Mirjam geroep, en hulle twee het uitgekom. Toe sê Hy: Hoor tog my woorde. As julle profeet van die HERE is, sal Ek deur 'n gesig My aan hom bekend maak, deur 'n droom sal Ek met hom spreek. So is dit nie met my kneg Moses nie: in my hele huis is hy getrou. Mond tot mond spreek Ek met hom, en deur aanskouing en nie deur duister woorde nie; en hy sien die verskyning van die HERE. Waarom het julle dan nie gevrees om teen my kneg, teen Moses, te spreek nie? En die toorn van die HERE het teen hulle ontvlam, en Hy het weggegaan. En toe die wolk van die tent af weggetrek het, kyk, toe was Mirjam melaats, soos sneeu. En Aäron het Mirjam aangekyk en — sy was melaats! Daarop sê Aäron vir Moses: Ag, my heer, lê tog nie op ons die sonde wat ons in ons dwaasheid begaan het nie. Laat sy tog nie wees soos 'n dooie van wie se vleis, as hy uit sy moeder se skoot uitgaan, die helfte verteer is nie. En Moses het die HERE aangeroep en gesê: O God, maak haar tog gesond! Toe sê die HERE vir Moses: As haar vader net maar in haar gesig gespuug het, sou sy nie sewe dae lank beskaamd wees nie? Laat sy sewe dae lank buitekant die laer opgesluit wees, en daarna mag sy opgeneem word. En hulle het Mirjam sewe dae lank buitekant die laer opgesluit; en die volk het nie weggetrek voordat Mirjam opgeneem was nie. Maar daarna het die volk van Háserot af weggetrek en in die woestyn Paran laer opgeslaan.

NUMERI 12:1-16 Bybel vir almal (ABA)

Moses het getrou met 'n vrou wat van die land Kus gekom het. Mirjam en Aäron was ontevrede en het daaroor met Moses gepraat. Hulle het gesê: “Die Here het nie net met Moses gepraat nie, Hy het ook met ons gepraat.” Die Here het gehoor wat hulle sê. Moses was 'n baie nederige man, meer nederig as al die ander mense op die aarde. Maar die Here het toe dadelik vir Moses en Aäron en Mirjam gesê: “Julle drie moet na die tent gaan waar Ek aan die Israeliete verskyn.” Hulle het dit gedoen, en die Here het afgekom in 'n wolk-pilaar en Hy het by die ingang van die tent gaan staan. Toe roep Hy vir Aäron en Mirjam, en hulle het vorentoe gekom. Die Here sê toe: “Luister goed na wat Ek sê. Wanneer Ek, die Here, vir julle 'n profeet stuur, dan sal Ek vir hom wys wie Ek is, Ek sal met hom praat terwyl hy droom. Maar my dienaar Moses is nie so 'n profeet nie, hy is die persoon wat Ek gekies en aangestel het oor almal wat aan My behoort. Ek kom na hom toe en Ek praat met hom, Ek sê vir hom reguit wat Ek wil sê. Hy kan My sien wanneer Ek na hom toe kom. Hoekom praat julle so teen my dienaar Moses? Julle mag nie so met hom praat nie.” Die Here was kwaad vir Aäron en Mirjam en Hy het weggegaan. Maar toe die wolk weggaan van die tent, was Mirjam melaats, haar vel was wit soos sneeu. Toe Aäron na haar toe draai, het hy gesien dat sy melaats is. Aäron het vir Moses gesê: “Asseblief, Meneer, jy moenie vir ons straf oor die sonde wat ons gedoen het nie, ons was dwaas. Asseblief, moenie dat Mirjam word soos 'n kind wat doodgebore is nie, soos 'n kind wat net 'n halwe liggaam het nie.” Moses bid toe tot die Here, en hy vra: “O God, maak haar asseblief gesond.” Die Here het vir Moses gesê: “As haar pa in haar gesig gespoeg het, dan sou sy sewe dae lank daaraan moes dink dat hy haar verneder het. Sy moet sewe dae lank buite die kamp bly, dan kan sy terugkom.” Hulle het toe vir Mirjam sewe dae lank buite die kamp laat bly. Die volk het nie daar weggegaan voordat sy teruggekom het nie. Daarna het die volk weggegaan van die stad Gaserot en hulle het hulle tente opgeslaan in die Paran-woestyn.

NUMERI 12:1-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Mirjam en Aäron het teen Moses gespreek vanweë die Kusitiese vrou wat hy geneem het; want hy het 'n Kusitiese vrou geneem. En hulle het gesê: Het die HERE dan maar alleen met Moses gespreek? Het Hy nie ook met ons gespreek nie? En die HERE het dit gehoor. Maar die man Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem. Toe het die HERE dadelik met Moses en Aäron en Mirjam gespreek: Julle drie, kom uit na die tent van samekoms! En hulle drie het uitgekom. En die HERE het in 'n wolkkolom neergedaal en by die ingang van die tent gaan staan. Daarna het Hy Aäron en Mirjam geroep, en hulle twee het uitgekom. Toe sê Hy: Hoor tog my woorde. As julle profeet van die HERE is, sal Ek deur 'n gesig My aan hom bekend maak, deur 'n droom sal Ek met hom spreek. So is dit nie met my kneg Moses nie: in my hele huis is hy getrou. Mond tot mond spreek Ek met hom, en deur aanskouing en nie deur duister woorde nie; en hy sien die verskyning van die HERE. Waarom het julle dan nie gevrees om teen my kneg, teen Moses, te spreek nie? En die toorn van die HERE het teen hulle ontvlam, en Hy het weggegaan. En toe die wolk van die tent af weggetrek het, kyk, toe was Mirjam melaats, soos sneeu. En Aäron het Mirjam aangekyk en — sy was melaats! Daarop sê Aäron vir Moses: Ag, my heer, lê tog nie op ons die sonde wat ons in ons dwaasheid begaan het nie. Laat sy tog nie wees soos 'n dooie van wie se vleis, as hy uit sy moeder se skoot uitgaan, die helfte verteer is nie. En Moses het die HERE aangeroep en gesê: O God, maak haar tog gesond! Toe sê die HERE vir Moses: As haar vader net maar in haar gesig gespuug het, sou sy nie sewe dae lank beskaamd wees nie? Laat sy sewe dae lank buitekant die laer opgesluit wees, en daarna mag sy opgeneem word. En hulle het Mirjam sewe dae lank buitekant die laer opgesluit; en die volk het nie weggetrek voordat Mirjam opgeneem was nie. Maar daarna het die volk van Háserot af weggetrek en in die woestyn Paran laer opgeslaan.

NUMERI 12:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

Mirjam en Aäron het vir Moses aangespreek oor die Kussitiese vrou wat hy gevat het, want hy het met 'n Kussitiese vrou getrou. “Het die Here dan net deur Moses gepraat,” wou hulle ook nog weet, “en nie ook deur ons nie?” Die Here het dit gehoor. Moses was 'n uiters sagmoedige man, meer as enigiemand anders op die aarde. Die Here het onmiddellik vir Moses, Aäron en Mirjam gesê: “Gaan julle aldrie na die tent van ontmoeting toe!” En hulle drie het gegaan. Die Here het toe in 'n wolk afgekom, by die ingang van die tent gaan staan en Aäron en Mirjam nader geroep. Toe hulle twee nader kom, het die Here gesê: “Luister na wat Ek sê: As daar 'n profeet van die Here onder julle is, maak Ek My aan hom bekend deur visioene en praat Ek met hom in drome. Maar met my dienaar Moses is dit anders. Hy is die betroubaarste in my diens. Met hóm praat Ek direk en persoonlik, nie in raaisels nie. Hy sien selfs die gestalte van die Here. Waarom was julle dan nie bang om só met my dienaar Moses te praat nie?” Die toorn van die Here het teen hulle ontvlam en Hy het van hulle af weggegaan. Toe die wolk van die tent af optrek, staan Mirjam daar melaats soos sneeu. Toe Aäron na Mirjam toe draai, is sy melaats. Hy het vir Moses gesê: “Asseblief, Meneer, moet tog nie die sonde wat ons in dwaasheid begaan het, teen ons hou nie. Laat sy tog nie wees soos 'n doodgebore kind waarvan die liggaam by geboorte al halfpad verteer is nie.” Toe het Moses die Here aangeroep en gesê: “Maak haar tog gesond, o God!” Die Here het vir Moses geantwoord: “As haar pa haar in die gesig gespoeg het, sou dit nie vir sewe dae lank vir haar 'n skande gewees het nie? Laat sy dan nou sewe dae lank uit die kamp uitgesluit word, en daarna kan sy terugkom.” Hulle het Mirjam toe sewe dae lank uit die kamp uitgesluit, en die volk het nie verder getrek voordat sy teruggekom het nie. Daarna het die volk van Gaserot af weggetrek en in die Paranwoestyn kamp opgeslaan.

NUMERI 12:1-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Mirjam en ook Aäron het teen Moses uitgevaar oor die Kussiet wat hy as vrou geneem het. Ja, hy het 'n Kussiet as vrou geneem! Hulle het gesê: “Is dit dan net deur Moses wat die HERE gepraat het? Het Hy nie deur ons ook gepraat nie?” Die HERE het dit gehoor. Maar die man Moses was baie beskeie, meer as enige mens op aarde. Die HERE het dadelik vir Moses, Aäron en Mirjam gesê: “Gaan julle drie na die Tent van Ontmoeting!” Hulle drie het toe gegaan. Die HERE het in die wolkkolom afgekom. Hy het by die ingang van die tent gestaan en Aäron en Mirjam geroep. Toe hulle twee vorentoe kom, het Hy gesê: “Luister nou na my woorde: “As daar 'n profeet onder julle is, sal Ek, die HERE, Myself in 'n visioen aan hom bekend maak; in 'n droom sal Ek met hom praat. Met my dienskneg Moses is dit anders. In my hele huishouding is hy betroubaar. Van aangesig tot aangesig praat Ek met hom, in 'n verskyning, nie in raaisels nie; die verskyningsvorm van die HERE sien hy. Waarom was julle dan nie bang om teen my dienskneg, Moses, uit te vaar nie?” Die toorn van die HERE het teen hulle ontbrand, en Hy het weggegaan. Toe die wolk van die tent af terugtrek, staan Mirjam daar met 'n velsiekte, wit soos sneeu. Aäron het na Mirjam gedraai en jou waarlik, sy het 'n velsiekte! Aäron het vir Moses gesê: “Asseblief, my heer, moet tog nie die straf vir die sonde wat ons in ons dwaasheid begaan het, op ons lê nie. Laat sy tog nie wees soos 'n doodgebore kind, waarvan die liggaam, wanneer dit uit die moederskoot kom, reeds halfpad verteer is nie.” Moses het toe na die HERE om hulp geroep: “O God, asseblief, maak haar tog weer gesond!” Daarop sê die HERE vir Moses: “As haar vader haar maar net in haar gesig gespoeg het, sou sy nie sewe dae lank in skande gewees het nie? Laat sy sewe dae lank buite die kamp uitgesluit word; daarna kan sy terugkeer.” Mirjam is toe sewe dae lank buite die kamp uitgesluit, en die volk het nie weggetrek totdat Mirjam teruggekeer het nie. Daarna het die volk van Gaserot af weggetrek en in die Paranwoestyn kamp opgeslaan.

NUMERI 12:1-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Mirjam en Aäron het teen Moses gespreek ter wille van die Kusietiese vrou met wie hy getrou het, want hy het 'n Kusietiese vrou getrou. Toe sê hulle: Het die HERE werklik deur Moses gespreek? het Hy nie ook deur ons gespreek nie? En die HERE het dit gehoor. (En die man Moses was baie sagmoedig, bo al die mense wat op die aarde was.) En die HERE het skielik met Moses en Aäron en Mirjam gespreek: Gaan uit, julle drie na die tent van samekoms. En hulle drie het uitgekom. En die HERE het in die wolkkolom neergedaal en by die ingang van die tabernakel gaan staan en Aäron en Mirjam geroep, en hulle het al twee uitgegaan. En hy sê: Hoor tog my woorde: As daar 'n profeet onder julle is, sal Ek, die HERE, My in 'n gesig aan hom bekend maak en in 'n droom met hom spreek. Dit is nie so met my dienaar Moses nie, wat getrou is in my hele huis. Met hom sal Ek mond tot mond spreek, selfs skynbaar, en nie in donker woorde nie; en die gelykenis van die HERE sal hy aanskou. Waarom was julle dan nie bevrees om teen my kneg Moses te spreek nie? En die toorn van die HERE het teen hulle ontvlam; en hy het vertrek. En die wolk het van die tabernakel af weggewyk; en kyk, Mirjam het melaats geword, wit soos sneeu; en Aäron het Mirjam aangekyk, en kyk, sy was melaats. Toe sê Aäron vir Moses: Ag, my heer, lê tog die sonde nie op ons waarmee ons dwaas gehandel het en waarmee ons gesondig het nie. Laat sy nie wees soos een dooie van wie die vlees half verteer is as hy uit sy moeder se skoot kom nie. En Moses het die HERE aangeroep en gesê: Maak haar tog gesond, o God, ek bid U. Toe sê die HERE vir Moses: As haar vader net in haar gesig gespuug het, sou sy nie sewe dae lank skaam wees nie? laat haar sewe dae lank uit die laer uitgesluit word, en daarna weer opgeneem word. En Mirjam was sewe dae lank uit die laer gesluit, en die volk het nie weggetrek voordat Mirjam teruggebring is nie. En daarna het die volk van Háserot af opgebreek en laer opgeslaan in die woestyn Paran.

NUMERI 12:1-16 Die Boodskap (DB)

Mirjam en Aäron het Moses gekritiseer omdat hy met ’n vrou uit Kus getrou het. “Het die Here dan net deur Moses gepraat en nie deur ons ook nie?” wou hulle by hom weet. Die Here het gehoor wat hulle sê, want Moses was ’n baie nederige mens, die nederigste op aarde. Die drie van hulle is deur die Here aangesê om dadelik na die tent toe te gaan waar Hy aanbid word. Hulle is toe soontoe. Die Here het toe in ’n wolk afgekom en by die ingang van die tent gaan staan. Toe roep Hy vir Aäron en Mirjam nader en sê vir hulle: “Luister nou mooi na wat Ek vir julle sê. As Moses net ’n gewone profeet was, sou Ek met hom gepraat het soos met die ander profete, deur visioene en drome. Maar dit is nie hoe Ek met my dienaar Moses werk nie. Hy is my spesiale vertroueling. Met hom praat Ek direk en persoonlik, nie in allerhande raaisels nie. Hy sien selfs my silhoeët. Hoe kan julle dan waag om hom te kritiseer?” Die Here was baie kwaad vir hulle. Toe Hy daar weggaan en die wolk weer van die tent af oplig, was Mirjam se hele vel met ’n lelike uitslag oortrek. Haar hele vel was spierwit. Toe Aäron na Mirjam kyk en sien hoe sy lyk, het hy vir Moses gesê: “Asseblief, my heer, moet tog nie ons dwaasheid wat ons in ’n oomblik van swakheid kwytgeraak het, teen ons hou nie. Moet Mirjam asseblief nie so siek laat bly nie. Dit is omtrent net so erg soos ’n kind wat doodgebore word, waarvan die liggaam al halfpad ontbind het.” Moses het toe gebid en gevra: “God, maak haar asseblief weer gesond!” Hierop het die Here geantwoord: “As sy ’n kind was en haar pa het opsetlik voor ander mense in haar gesig gespoeg om haar te verneder, sou sy nie die reg gehad het om voor oor sewe dae weer in die openbaar te verskyn nie. So, laat haar nou sewe dae lank buite die kamp bly sonder dat iemand naby haar kom. Na die sewe dae mag sy weer terugkom.” Mirjam is toe vir sewe dae uit die kamp verban en die volk het eers weer verder getrek nadat sy teruggekom het. Hulle het kamp opgebreek en van Gaserot af verder getrek tot in die Paranwoestyn, waar hulle weer kamp opgeslaan het.

NUMERI 12:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Mirjam en Aäron het begin om van Moses sleg te praat omdat hy met ’n Kussitiese vrou getrou het. Hulle het gesê: “Die HERE praat beslis nie net deur Moses nie. Hy praat ook deur ons.” Die HERE het gehoor wat hulle sê. Moses was buitengewoon nederig, meer as enige ander mens op aarde. Die HERE het dringend met Moses, Aäron en Mirjam gepraat: “Julle drie moet na die tabernakel toe gaan.” Die drie is toe soontoe. Die HERE het in ’n wolkmassa daarnatoe afgekom en by die ingang van die tabernakel gaan staan. Hy het Aäron en Mirjam nadergeroep. Die twee het nadergekom. Die HERE het gesê: “Luister wat Ek sê! As daar ’n profeet onder julle is, maak Ek, die HERE, My aan hom bekend deur gesigte en praat Ek met hom deur drome. Ek maak nie so met Moses my dienaar nie. Hy is die betroubaarste van al my mense. Ek praat direk met hom, van aangesig tot aangesig. Ek praat nie met hom op ’n raaiselagtige manier nie. Hy weet hoe die HERE lyk. Moet julle dan nie baie versigtig oor my dienaar Moses praat nie?” Die HERE was kwaad vir hulle en Hy het weggegaan. Toe die wolk weg van die tabernakel af beweeg het, was Mirjam skielik so wit soos sneeu oor haar hele lyf. Toe Aäron sien hoe wit Mirjam van die melaatsheid is, het hy vir Moses gesê: “Meneer, moet ons asseblief nie straf vir die dom ding wat ons gedoen het nie. Moenie toelaat dat sy soos een is wat doodgebore word en waarvan die liggaam alreeds ontbind is by geboorte nie.” Moses het hardop na die HERE geroep: “O God, laat sy asseblief tog gesond word!” Die HERE sê toe vir Moses: “As haar pa haar in die gesig gespoeg het, sou sy sewe dae lank die vernedering daarvan moes dra. Verban haar nou vir sewe dae lank uit die kamp uit. Eers daarna mag sy terugkom.” Mirjam moes toe sewe dae lank buite die kamp bly. Die volk het nie verder getrek voordat Mirjam weer terug was by hulle nie. Die volk is daarna weg van Gaserot af. Hulle het in die Paranwoestyn gaan kamp opslaan.